HANNES STRYDOM (1965-2023)
Die voormalige Springbokslot Hannes Strydom is in ’n motorongeluk oorlede.
Johannes Jacobus Strydom is op 13 Julie 1965 in Welkom in die Vrystaat gebore en het aan die Hoërskool Pearson in Port Elizabeth gematrikuleer. Hy het sy provinsiale debuut in 1986 vir die Oostelike Provinsie gemaak, waarna hy van 1988 tot 1992 vir Noord-Transvaal gespeel het.
Nadat hy in 1993 sy debuut vir Transvaal gemaak het, het hy op 3 Julie 1993 sy eerste toets op Ellispark teen Frankryk gespeel. Hy was in 1995 deel van die Springbokspan wat die Wêreldbeker op tuisbodem gewen het, met sy provinsiale spanmaat en rugbykommentator Kobus Wiese as sy slotmaat. Voor die eindstryd teen Nieu-Seeland het hy in die wedstryde teen Australië en Kanada gespeel asook in die dramatiese halfeindstryd teen Frankryk wat baie amper afgelas is, maar wat die Springbokke gewen het om die eindstryd te haal.
Hy het sy enigste toetsdrie op 24 Augustus 1996 op Loftus Versfeld teen Nieu-Seeland gedruk in ’n toets wat die Springbokke met 33-26 verloor het. Hy was deel van die span wat in 1997 aan die eerste reeks teen die Britse Leeus sedert 1980 gespeel het en die reeks met twee toetse teen een verloor het. Hy het die laaste van sy 21 toetse op 23 Augustus 1997 teen Australië op Loftus Versfeld gespeel.
Vir die Transvaal-span, wat later as die Leeus bekendgestaan het, het hy altesaam 115 wedstryde gespeel, en in 1999 was hy die kaptein van die span wat die Curriebeker gewen het.
Hy is die vyfde speler van die 1995-Wêreldbekerspan wat oorlede is; Ruben Kruger is in 2010 oorlede, Joost van der Westhuizen in 2017, en Chester Williams en James Small in 2019. Die afrigter van die span, Kitch Christie, is in 1998 oorlede.
Nadat hy sy uittrede aangekondig het, het hy die Pharma Valu-apteekgroep in Pretoria gestig; dié groep se takke is geleë in Sunnyside, Queenswood, Kilner Park, Elarduspark en Pretoria-Noord.
Op 19 November 2023 was hy betrokke in ’n noodlottige motorongeluk op die N4-snelweg tussen eMalahleni en Pretoria. Hy word oorleef deur sy vrou, Nikolie en drie kinders.
deur Daantjie Badenhorst