HB THOM (1905-1983)

Prof. HB Thom was ’n bekende Afrikaanse skrywer en historikus.

Hendrik Bernardus Thom is op 13 Desember 1905 op Jamestown gebore en het op Burgersdorp grootgeword. Omdat hy die vyfde kleinseun van sy oupa en naamgenoot was met die voorname Hendrik Bernardus het sy ouers besluit om hom op sy bynaam Quintus (die vyfde) te noem om hom van sy ander neefs te onderskei. Daarom was hy sy lewe lank as Quintie Thom bekend.

Hy het aan die Hoërskool Burgersdorp gematrikuleer en daarna aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hier het hy die BA-graad met Geskiedenis en Afrikaans as hoofvakke met lof verwerf, gevolg deur ’n MA-graad in Geskiedenis, weer eens met lof in 1928. Hy het in daardie jaar op die Universiteit se studenteraad gedien. In 1928 en 1929 het hy sy studies aan die Friedrichs Universität in die Duitse stad Berlyn voortgesit, waarna hy die volgende jaar aan die Sorbonne-universiteit in die Franse hoofstad Parys gaan studeer het. Nadat hy navorsing vir sy doktorale tesis in Amsterdam in Nederland gedoen het, het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Sy doktorale tesis wat hy in 1930 vir sy PhD voltooi het, was getiteld “Die geskiedenis van die skaapboerdery in Suid-Afrika”.

Die volgende jaar is hy as lektor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel, in 1935 is hy tot senior lektor bevorder en in 1937 het hy professor aan dieselfde inrigting geword.

In 1954 is hy as rektor van die Universiteit van Stellenbosch aangestel en hy het hierdie amp beklee totdat hy in 1969 afgetree het. Hy is in 1983 tot kanselier van die universiteit verkies maar hy is oorlede nadat hy net nege maande lank in hierdie hoedanigheid gedien het.

Hy was ’n volksleier wat hom onderskei het as dosent en rektor van die Universiteit van Stellenbosch, as skrywer op vakgebied, as feesredenaar, as lid van verskeie geleerde verenigings, kultuurliggame, rade en komitees, en as direkteur van verskeie trusts, fondse en ander instansies. Onder sy talle lidmaatskappe tel dié van die Wetenskaplike Adviesraad van die Eerste Minister en die Nasionale Kultuurraad, en hy is ook voorsitter van die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch. Prof. Thom was voorsitter van die FAK van 1952 tot 1970.

Hy is reeds deur verskeie hoë liggame vereer, waaronder die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (4 keer), die Ryks-universiteit van Gent, die Universiteit van Stellenbosch met ’n eredoktorsgraad in die opvoedkunde, die FAK met sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens, Die Voortrekkers, die Saamwerk-Unie van Natal, die Kaaplandse Nasionale Party en die Universiteitskollege, Wes-Kaapland. In 1979 is die Ruiterbeeld vir Afrikanerdiens deur die Federasie van Rapportryerskorpse aan hom oorhandig. Hy het ook eretoekennings ontvang vir sy aandeel aan die Voortrekkereeufees (1938), die inwyding van die Voortrekkermonument (1949) en die Uniefees (1960) en was erevoorsitter van verskeie akademiese en kulturele verenigings.

Hy het tennis, hengel en fotografie as tydverdrywe beoefen. Hy is in 1934 met Maria du Toit, ook bekend as Ria, getroud maar die huwelik het geen kinders opgelewer nie.

Hy is op 4 November 1983 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst