HELEN ELIZABETH MARTINS (1897-1976)
Helen Elizabeth Martins het bekendheid verwerf vir die Uilhuis in die Oos-Kaapse dorp Nieu-Bethesda wat sy geskep het.
Sy is op 23 Desember 1897 in dié dorp gebore en was die jongste van ses kinders. Sy het haar onderwysdiploma in die nabygeleë Graaff-Reinet verwerf en in 1919 is sy na Transvaal waar sy skoolgehou het. Op 7 Januarie 1920 is sy met Johannes Pienaar getroud. Hulle het die land vol gereis en teateropvoerings in Transvaal, Kaapstad en Port Elizabeth gegee. Hul huwelik was egter ongelukkig en haar man het haar verskeie kere verlaat totdat hulle in 1926 finaal geskei is.
Tussen 1927 en 1928 het sy na Nieu-Bethesda teruggekeer waar sy na haar siek en bejaarde ouers omgesien het. Haar ma Hester, met wie sy blykbaar ’n hegte verhouding gehad het, is in 1941 aan borskanker oorlede en haar pa, wat as eksentriek, veeleisend en blykbaar beledigend beskryf is, het in ’n buitekamer gebly met ’n stoof en ’n bed om op te slaap. Nadat hy in 1945 aan maagkanker dood is, het sy die vensters met bakstene toegebou, sy kamer swart geverf en ’n naambord met die woorde “Die leeu se lêplek” aangebring.
Haar ouers het die huis aan haar bemaak en na hul dood het sy begin om die huis en die tuin te omskep en jare bestee aan die skep van ’n denkbeeldige omgewing. Sy het blykbaar binne begin en plaaslike dorpsinwoners Jonas Adams en Piet van der Merwe aangestel om strukturele veranderinge aan te bring. Die binneoppervlakte is met fyngemaakte glas bedek en die beligting binne is met ligte, spieëls en vensters versterk. Verder het sy sement en draad gebruik om die binnekant van die huis te versier en later ook om beelde in haar tuin te bou. In 1964 het Koos Malgas haar met haar werk begin help en haar gehelp om die beelde in die buitearea, bekend as die Kameelwerf, te bou. Hulle het ’n intense samewerkingsproses gehad en elke dag vergader om nuwe werke te visualiseer en te skep. Sy is geïnspireer deur Bybelteksverse, die gedigte van Omar Khayyam en verskeie werke deur William Blake. Die Kameelwerf bevat meer as 300 beelde, onder meer baie van kamele, uile en mense. Die meeste van hulle kyk oos, as ’n huldeblyk aan hoe Mekka en die Ooste haar betower het; sy het ook ’n bord in die werf met die woorde “Hierdie is my wêreld” aangebring.
Die bure was blykbaar agterdogtig oor haar verhouding met Malgas, wat ’n bruin man was; asook die feit dat sy beter met haar bruin bure aan wie sy glo onwettig gebroude alkohol verkoop het, oor die weg gekom het as met lede van die streng Nederduits Gereformeerde Kerk. Hoewel sy ’n kluisenaar was en al hoe meer een geword het namate sy ouer geword het, het sy haar bure met Kersfees genooi om haar huis van ligte te kom bekyk. Daar was aanduidings dat haar bure in die laaste jare vir haar pa gesorg het en vir haar kos gegee het wanneer sy nie vir haarself gesorg het nie. Die verhoudings tussen haar en die gemeenskap waarin sy gelewe het, was ingewikkeld en dikwels moeilik.
Haar langdurige blootstelling aan fyngemaakte glas het mettertyd veroorsaak dat sy blind geword het. Dit het daartoe gelei dat sy op 6 Augustus 1976 haar eie lewe probeer neem het deur bytsoda te drink. Sy is gevind en twee dae later is sy in die ouderdom van 78 jaar in die hospitaal op Graaff-Reinet oorlede.
Haar wens was dat die Uilhuis wat sy geskep het, ongeskonde as ’n museum behou moes word. In 1991 het die Vriende van die Uilhuis gereël dat Koos Malgas na Nieu-Bethesda terugkeer om na die terrein om te sien. Die huis is in 1989 tot ’n provinsiale nasionale monument verklaar en in 1992 is dit as museum geopen. Dit word tans deur die Uilhuis-stigting wat in 1996 ontstaan het, bestuur.
deur Daantjie Badenhorst