HUGO BIERMANN (1916-2012)
Admiraal Hugo Biermann was die enigste voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot wat hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag geword het.
Hugo Hendrik Biermann is op 6 Augustus 1916 in Johannesburg gebore en was een van vier kinders. Sy twee broers het op walvisjagters gedien wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in mynveërs omskep is. Sy broer Stephanus het die rang van skoutadmiraal (gelykstaande aan ’n generaal-majoor) in ander dele van die Suid-Afrikaanse Weermag beklee.
Biermann het in Johannesburg begin skoolgaan totdat sy pa na Kaapstad verplaas is, waarna hy verder aan die Hoërskool Jan van Riebeeck skoolgegaan het. Daarna het hy hom by die opleidingskip Generaal Botha aangesluit. Na twee jaar se opleiding op die Generaal Botha in 1932 en 1933 het hy as ’n kadet by die Britse Handelsvloot aangesluit, waar hy tot 1938 gedien het. Hy is daarna na die Maritieme Departement van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens oorgeplaas.
Hy het sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse Vloot as onderluitenant (gelykstaande aan ’n luitenant) in die Royal Naval Volunteer Reserve begin. In Januarie 1940 is hy opgeroep vir voltydse diens en oorgeplaas na die Seaward Defence Force. Hy is teen die middel van 1941 tot die rang van luitenant (gelykstaande aan ’n kaptein) bevorder en was bevelvoerder van HMSAS Imhoff, HMSAS Roodepoort en HMSAS Aristea voordat hy bevorder is tot luitenant-bevelvoerder van die bergingsvaartuig HMSAS Gamtoos.
Die bemanning van die HMSAS Gamtoos het verskeie hawens in die Middellandse See van gesonke en gebroke skepe opgeruim en by Marseille het Biermann ’n gat in die hawemuur geblaas sodat hy die Vieux Port kon binnegaan en begin werk. Die Gamtoos het voortgegaan om die Sidi Aissa te red, en dit weggesleep om die waardevolle grafdok by La Ciotat teen 14 Desember 1944 skoon te maak. Dit het Biermann ’n aanstelling in die Orde van die Britse Ryk (OBE) (Militêre Afdeling) besorg.
Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog en met die stigting van die Suid-Afrikaanse Vloot in Mei 1946, is Biermann aangestel as luitenant-bevelvoerder in die Staande Mag, en as kaptein van die Algerynse klas mynveër HMSAS Bloemfontein, wat op 8 September 1947 by Devonport in gebruik geneem is. Hy was ook die senior offisier van die mynveëreskader. In 1950 is Biermann na die Verdedigingshoofkwartier oorgeplaas en hy het op die personeel van die destydse direkteur-generaal van die Suid-Afrikaanse Vlootmagte gedien. Twee jaar later het hy die Britse Vloot se stafkursus by die Royal Naval College in Greenwich bygewoon en is as vlootattaché by Suid-Afrika-huis in Londen met die rang van bevelvoerder aangestel.
Met die bewindsoorname van die Nasionale Party het die destydse minister van verdediging, Frans Erasmus, ’n proses begin om Weermagoffisiere wat aan die Smuts-regering verbonde was, te vervang met ander wat hy as meer “Nasionalisties” beskou het en wat die Afrikaner “meer tuis” sou laat voel. In 1952 het Erasmus brigadier Pieter de Waal as militêre attaché na die Verenigde State van Amerika gepos en hom met Biermann, een van slegs sewe Afrikaanse offisiere in die vloot in 1948, vervang. Daarna is kommandeur (gelykstaande aan ’n luitenant-kolonel, voorheen kommandant) Biermann op 1 Desember 1952 as Vloot-en-Mariene-stafhoof aangestel en tot die rang van kommodoor (gelykstaande aan ’n brigadier) bevorder. Tydens sy ampstermyn is die Simonstad-ooreenkoms op 30 Junie 1955 onderteken. Met die oorhandiging van die Simonstad-vlootbasis is hy tot die rang van skoutadmiraal bevorder. Biermann is op 1 Desember 1965 tot die rang van viseadmiraal bevorder en sy pos is terselfdertyd tot hoof van die Vloot hernoem. In 1972 het hy die eerste volle admiraal van die Suid-Afrikaanse Vloot geword toe hy die pos van kommandant-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag oorgeneem het. Hierdie titel is ’n jaar later na dié van die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag verander.
Biermann is in 1940 met Margaret (Peggy) Cryuws, wat in 2008 in die ouderdom van 90 jaar oorlede is, getroud en twee kinders, ’n seun en ’n dogter, is uit die huwelik gebore. Biermann is op 27 Maart 2012 in die ouderdom van 95 jaar oorlede en met volle militêre eerbewys begrawe.
deur Daantjie Badenhorst