IRENE VAN WYK (1965-2009)

Irene van Wyk was ’n Afrikaanse sangeres wat aanvanklik as popsangeres bekendheid verwerf het, maar mettertyd ook Afrikaanse musiek en kontemporêre Christelike musiek gesing het.

Sy is op 24 September 1965 as Irene Coetzee in Germiston gebore en het in 1983 gematrikuleer. Daarna het sy as prokureursassistent gewerk en in nagklubs gesing. Dit is hier waar die musiekpromotor Louis van Wyk haar raakgesien het. Sy het in 1986 by die vrouegroep Chess aangesluit, waarin sy die hoofsangeres en baskitaarspeler was. Hierdie groep het een treffer gehad, naamlik “Down by the river”. Sy is in 1987 met Louis getroud en twee kinders, Vaughn en Irene-Louise, is uit die huwelik gebore.

In 1989 het sy as agtergrondsangeres van Steve Hofmeyr se groep Dusk begin sing, maar toe Irene-Louise in 1991 gebore is, het sy haar sangloopbaan kortliks onderbreek om ma te wees. Toe die internasionale groep Bad Boys Blue in 1993 deur Suid-Afrika getoer het, het sy weer begin sing. Die volgende jaar het sy die voorprogram behartig toe hulle weer deur Suid-Afrika getoer het en haar debuutalbum as solokunstenaar, “Die ander ek”, is vrygestel. Hierdie album het seker haar grootste treffer, “Wie is die vrou in jou arms vanaand?”, wat deur Steve Hofmeyr geskryf is, opgelewer, asook “In ’n ander wêreld”, “Alles vir niks”, wat op Steve se album Desertbound voorgekom het, en internasionale treffers soos “River deep mountain high” van Tina Turner en “The rose” van Bette Midler. Steve was verantwoordelik vir die agtergrondsang op hierdie album.

In 1996 het haar tweede tweetalige album, Vrou/woman, verskyn. Hierdie album het Afrikaanse treffers soos “Raak aan my”, “Bly by my vanaand” en “Die kans wat nie bestaan nie”, asook Engelse snitte soos “Tonight”, “Foolish hearts” en “If you want it”. Die volgende jaar het sy dit opgevolg met “Evergreen”, ’n album wat hoofsaaklik internasionale treffers bevat het, maar ook ’n nuwe opname van “Wie is die vrou in jou arms vanaand?”, en “’n Wonderlike liefde van ’n ma”, ’n nuwe Afrikaanse snit. Die groot treffer vanaf hierdie album was egter Mynie Grové se komposisie “In die middel”. Louis het ’n supergroep wat uit Irene, Freda Francis en Mirka bestaan het, bymekaar gekry. Hulle het ’n treffer met Steve Hofmeyr se komposisie “Sjoe” gehad, maar het gou in die vergetelheid verdwyn. Freda Francis het haar later op kontemporêre Christelike musiek toegespits terwyl Mirka, wat een album getiteld Eden vrygestel het, ophou sing het en eers later ’n terugkeer gemaak het. Die groep het ontbind nadat hulle hierdie een album vrygestel het.

In 1999 is haar eerste trefferversameling, met 18 van haar gewildste liedjies vrygestel, en nadat sy lank stil was, het sy in 2005 die album Lyne van jou lyf vrygestel. Hierdie album het hoofsaaklik duetsnitte bevat; sy het die titelsnit saam met Pieter Koen gesing, en ander kunstenaars saam met wie sy op hierdie album gesing het, was Steve Hofmeyr, Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Sonja Herholdt. Die album het ook solosnitte soos “Oorbegin” en “All around the world” bevat.

Mettertyd het sy haar tot kontemporêre Christelike musiek gewend, veral nadat sy en Louis geskei is. Haar laaste album, In U spore, was haar eerste een in hierdie genre, en het snitte soos “One day at a time”, “Gebreekte kruik”, “Meer soos U” en die bekende Kris Kristoffersen-treffer “Why me, Lord?”, bevat. Sy het in hierdie tyd ook die agtergrondsang tydens Steve Hofmeyr se Kris Kristoffersen-huldeblykalbum en -konsert behartig.

Op 12 Oktober 2009 is sy naby Delmas in Mpumalanga in ’n motorongeluk dood. Sy was 44 jaar oud. Kort voor haar dood het sy opnames van Bonnie Tyler en Pat Benatar se onderskeie treffers “It’s a heartache” en “Hit me with your best shot” gemaak, maar hierdie twee snitte is nie tydens haar leeftyd vrygestel nie. Dit het wel op ’n huldeblykalbum, ’n Handvol herinneringe, wat kort na haar dood uitgereik is, voorgekom.

Albei haar kinders is op een of ander manier by die musiekbedryf betrokke. Vaughn het in sy pa se voetspore gevolg en ’n besprekingsagent vir verskeie Afrikaanse kunstenaars geword. Irene-Louise het ’n Afrikaanse sangeres in eie reg geword en haar jongste treffer, “Tekkies brand”, het ’n groot treffer op die meeste radiostasies geword.

deur Daantjie Badenhorst