JAAP STEYN (1938-2021)
Prof. Jaap Steyn was ’n bekende joernalis, taalnavorser en dosent aan verskeie tersiêre instellings.
Jacob Cornelius Steyn is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara in die Ficksburg-distrik gebore. Sy pa, Jacob Cornelius Steyn, en sy ma, Martha Elixabeth Mellet, is op 10 April 1934 met mekaar getroud. Hul eerste kind was ’n dogtertjie wat in 1936 by geboorte dood is, en Jaap is twee jaar later gebore. Hy het ook twee jonger susters gehad. Hy het in 1944 met sy skoolopleiding begin, en in dieselfde jaar het die gesin na die distrik van Petrus Steyn verhuis, waar sy pa op die plaas Omdraai-Noord geboer het. Hier het Jaap van 1945 by ’n plaasskool op Omdraai-Suid begin skoolgaan en in 1951 het hy by die dorpskool sy skoolopleiding by die dorpskool, Hoërskool JA Malherbe op Petrus Steyn voortgesit. Dit was ook hier waar hy in 1955 gematrikuleer het.
In 1956 het hy met ’n beurs van die Volksblad aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat gaan studeer en in 1958 sy BA-graad met onderskeidings in sy hoofvakke Afrikaans/Nederlands en Duits behaal. Hy het in 1959 by Die Volksblad begin werk en was tot 1964 verbonde aan dié koerant as verslaggewer, vertaler, sub- en hoofsubredakteur. In hierdie tyd het hy ook sy BA (Honneurs) en MA-grade, albei met lof, in Afrikaans en Nederlands verwerf. Op Universiteit was hy betrokke by die taalversorging van berigte in die strudenteblad, die Irawa, en hy het ook ’n aantal stukke gepubliseer.
In Augustus 1964 het hy na die Gemeentelijk Universiteit in die Nederlandse hoofstad Amsterdam vertrek en van September tot Desember 1967 studeer. Hy het ’n deel van sy studiegeld verdien deur as korrespondent vir Die Volksblad en Die Burger te werk. Op 4 Oktober 1966 het hy die doktorseksamen (Drs. Litt.-graad) met lof afgelê, met Algemene Taalwetenskap as hoofvak en Nederlandse taalkunde en Suid-Sotho as byvakke. In 1966 het hy sy doktoraaleksamen cum laude aan die Gemeentelijk Universiteit met lof behaal, en aan die begin van 1968 is hy aangestel as lektor in algemene taalwetenskap aan die Universiteit van Port Elizabeth. Aan die einde van daardie jaar het hy sy doktorsgraad aan hierdie Universiteit behaal met prof. EB van Wyk as promotor.
Hy is in Julie 1970 as senior lektor in algemene taalwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit aangestel, en benewens ’n kort onderbreking van Julie 1974 tot Augustus 1975 toe hy ’n hoofredaksielid van Rapport was, was hy tot Maart 1985 aan dié Universiteit verbonde. Hy het in 1988 afgetree, maar was van April 1987 tot Desember 1997 professor-navorser in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat.
In 1975 het ’n digbundel, getiteld Die grammatika van liefhê, uit sy pen verskyn; dit is met die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-pryse bekroon. Sy opsienbarende taalpolitieke werk, Tuiste in eie taal, wat in 1980 verskyn het, is met die Recht Malan- en Louis Luyt-pryse bekroon. In Die gesprek oor Afrikaans, ’n publikasie in reaksie op hierdie boek, het LT du Plessis en MCJ van Rensburg dit as ’n legendariese boek beskryf. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die Langenhoven-prys vir taalwetenskap in 1988 aan hom toegeken, vir hierdie werk, asook ander wat later verskyn het. In 1985 het sy prosabundel, Die verlore vader, verskyn en in 1987 het hy dit opgevolg met Trouwe Afrikaners, wat gehandel het oor aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek.
Hy was ’n voorloper van grensliteratuur in Afrikaanse prosa met sy kortverhaalbundel Op pad na die grens, wat nie net die grensoorlog ontgin het nie, maar ook die verskillende grense tussen mense, tussen wit en swart, tussen Europa en Afrika, tussen lewe en dood of die grense van liefde en onbegrip wat mense van mekaar skei, asook die grense tussen die verskillende tydperke in die geskiedenis. Dit het ’n belangrike beskouing in verhaalvorm van die Suid-Afrikaanse politiek geword, en die verhaal Die dag toe ons agtergekom het dis oorlog, is deur Abraham H de Vries in Die Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem. Dit het vertel van Saterdag 29 November 1975 toe ’n Noord-Vrystaatse gesin die gebeure van die afgelope week moes absorbeer. Hulle het bewus geraak van Suid-Afrika se inval in Angola, die verklaring van die Minister van Verdediging dat die terroristeoorlog na ’n konvensionele oorlog opgeskaal is en Breyten Breytenbach wat tronk toe gestuur is vir terrorisme. Die gesin het oor hierdie gebeure besin en gewonder of hulle ’n Indiese gesin vir die naweek aan huis wou ontvang. Op pad na die grens het ’n jong polisiekonstabel as hoofkarakter gehad en hy is gekonfronteer met ’n visie van ’n man wat tydens die rebellie van 1914 doodgeskiet is.
Ons gaan ’n taal maak was ’n niefiksiepublikasie waarin hy die geskiedenis van die ontstaan van Afrikaans, en die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 in meer as 600 bladsye vertel het. Dit is gegrond op deeglike navorsing, en het die aandeel van alle rassegroepe in die ontwikkeling van Afrikaans erken en beskryf. Afrikaans se verskillende nederlae en suksesse, hoogte- en laagtepunte is ontleed en hy het op ’n kritiese wyse gekyk na wat gedoen kon word om Afrikaans op te bou en te ontwikkel.
In sy latere jare het prof. Steyn verskeie biografieë van bekende Afrikaners die lig laat sien. Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal het die lewensverhaal van die digter NP van Wyk Louw in twee dele vertel; dit was die gevolg van deeglike navorsing en die leser kon Van Wyk Louw nie net as digter en skrywer leer ken nie, maar ook as mens, veral as student, digter, minnaar en nasionalis. Van Wyk Louw was gedurig in polemieke betrokke en prof. Steyn het daarin geslaag om die oorsake, verloop en gevolge daarvan ewewigtig te beskryf. Hierdie werk het verskeie pryse tussen 1999 en 2001 gewen.
Hy het die biografie Penvegter: Piet Cillié van Die Burger in opdrag van Tafelberg-uitgewers geskryf; hierin het hy die lewe en veral die politieke tye en gebeure in Cillié se tyd uitgelig , veral sy impak as redakteur van Die Burger, sy konfrontasie met dr. Hendrik Verwoerd, sy jare as professor in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch en sy rol as voorsitter van die direksie van Nasionale Pers is in detail bespreek en in perspektief gestel. Hierdie boek het ’n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing gelewer.
Hy is op 6 September 2021 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst