JAMIE UYS (1921-1996)
Jamie Uys was een van die suksesvolste rolprentregisseurs wat Suid-Afrika nog opgelewer het.
Jacobus Johannes Uys is op 30 Mei 1921 in Boksburg gebore en het aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer. Hy was aanvanklik ’n wiskundeonderwyser, maar later is hy as die plaaslike landdros en vrederegter aangestel. Hy het sy vrou, Hettie, ontmoet terwyl hulle saam skoolgehou het.
Hy het sy debuut as rolprentregisseur gemaak met Daar doer in die Bosveld, met hom en Hettie in die hoofrolle. Die storielyn, van ’n versukkelde man wat ’n onderwyseres met ’n stukkende motor, in hierdie geval ’n Ford Model T, moet gaan haal, het later weer in een van sy rolprente voorgekom. Hy het dit in 1954 opgevolg met Daar doer in die stad.
In 1960 het ’n skoolseun van Bloemfontein saam met sy ouers in ’n inryteater gesit en kyk na Rip van Wys, waarvan Uys weer eens die draaiboekskrywer, regisseur en hoofakteur was. Daardie skoolseun se naam was Leon Schuster, en Leon het later erken dat Uys hom as rolprentvervaardiger geïnspireer het. Die stryd tussen Boer en Brit het gereeld in Uys se rolprente voorgekom, onder meer in Hans en die Rooinek in 1961 en Lord oom Piet, waarin hy die rol van ’n kandidaat in ’n plaaslike verkiesing gespeel het, die volgende jaar.
Daar word vertel dat skoonheidskompetisies hom geweldig verveel het, en in 1967 het hy besluit om Die professor en die prikkelpop, met so ’n kompetisie as tema maar met ’n paar kinkels in die kabel, te vervaardig. Hy het die rol van ’n versukkelde professor vertolk, en onder die ander bekende akteurs in dié rolprent was Gert van den Bergh, Johan du Plooy, Gordon Mulholland, Tani de Lange en Reinette Maasdorp. Dit was ook in hierdie rolprent wat die publiek kennis geneem het van ’n twintigjarige sangeres wat saam met Uys se dogter in die onderwys gestudeer het. Carike Keuzenkamp was die joolkoningin van die Universiteit van Pretoria, en sy het die liedjie Timothy in die rolprent gesing. Dit was ’n nr. 1-treffer op Springbok Radio se trefferslys. Four Jacks and a Jill se opname van dieselfde liedjie is as temaliedjie gebruik en was eweneens ’n nr. 1-treffer. Uys se seun Wynand het ook ’n klein rolletjie in dié rolprent vertolk.
Dirkie, waarin Wynand weer ’n rol vertolk het, is in 1969 uitgereik, en was ’n groot sukses. Hy was lief vir die natuur, en het die rolprent Beautiful people, met diere as hoofakteurs, vervaardig. Paddy O’ Byrne was die verteller en baie van die diere het op die stel dronk geword nadat hulle maroelas geëet het. In 1976 het Uys baanbrekerswerk gedoen met Funny people, waarin hy mense met ’n skelm kamera uitgevang het. Daar was onder meer tonele waarin iemand ’n geldnoot onder ’n motor se wiel probeer verwyder en ’n man wat oor die telefoon moes sing. Dit het mense na rolprent- en inryteaters laat stroom en was uiters suksesvol. Die grootste sukses van sy loopbaan het egter in 1980 gevolg. The gods must be crazy het begin met ’n man wat ’n koeldrankbottel uit ’n vliegtuig gegooi het; later het ’n groep Boesmans dit in die hande gekry. Dit was ook in hierdie rolprent wat die storielyn van die versukkelde man wat die onderwyseres moes gaan haal, weer voorgekom het. Hierdie keer het Marius Weyers en Sandra Prinsloo in hul komiese rolle geskitter en die voertuig wat vir hierdie rolprent gebruik is, was ’n Land Rover, wat gedurig sy eie ding gedoen het. Weer eens het mense na rolprentteaters gestroom, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Japan, die Verenigde State en Frankryk. Die rolprent is selfs in Frans oorgeklank, onder die titel Les dieux sont tombé sur la tête (Die gode is op die kop geval). In 1983 en 1989 is opvolgrolprente van Funny people en The gods must be crazy vrygestel.
Uys was lief vir die natuur en het gereeld van Johannesburg, waar hy gewerk het, na sy strandhuis in Paradusstrand, vyf kilometer van Jeffreysbaai, gegaan om weg te kom van die stad af. Hierdie huis het geen elektrisiteit gehad nie, maar later het hy wel ’n meer luukse strandhuis in dieselfde omgewing laat bou. Hy was ’n ywerige amateurbotanis en het graag modelvliegtuie gebou.
Hy is op 29 Januarie 1996 in die ouderdom van 74 jaar aan ’n hartaanval oorlede.
Daantjie Badenhorst