JANET SMITH (1915-1994)

Sy was ook een van onse mense

Na die 2008-verkiesing kom dit aan die lig dat honderde duisende vals stemme in die verkiesing uitgebring is deur mense wat lankal dood is – onder hulle Ian en Janet Smith. Daaroor merk haar dogter op: “My ma sou baie lekker gelag het daaroor dat sy so lank na haar dood nog kon stem, maar sy sou dit beslis nie amusant gevind het dat haar stem aan Mugabe se Zanu-PF gegaan het nie!”

So was Janet Smith se lewe – oor haar beginsels was daar nie grappies nie, oor die res sou haar vrolike, aansteeklike lag die balans in die huishouding bring vir die strenger, dikwels humorlose, Ian.

Janet was so ongeskoold in die politiek dat sy die dag toe Ian kom sê dat hy hom verkiesbaar stel vir die Parlement in stomme verbasing sê: “Stel jy dan in partypolitiek belang, Sweetheart?” “Nie eintlik nie,” antwoord hy. “Ek is ’n boer, maar ek stel wel belang in goeie regering!” “Maar Ian,” sê sy, “ek het nog nooit in my lewe gestem nie!”

Janet Watt word in 1915 gebore in die suidelike voorstede van Kaapstad. Haar ouers is Skotte – haar pa ’n mediese dokter. Van kleins af is Janet ’n aktiewe rabbedoe wat op skool uitblink in sport en uiteindelik haar WP-kleure in hokkie behaal. Terwyl sy ’n student aan die Universiteit van Kaapstad is, ontmoet sy haar toekomstige man vir die eerste keer – hy is ’n lid van Rhodes Universiteit se Eerste Rugbyspan en sy is die meisie van die kaptein van UCT se Eerste Span – Piet Duvenage, ’n mediese student. Nadat sy haar studies voltooi het, word sy geskiedenisonderwyseres in Kaapstad. In 1942 trou sy met Piet Duvenage en uit hulle huwelik word twee kinders gebore: Robert en Jean. In die huishouding word Afrikaans en Engels albei ewe vlot gepraat.

Janet is 32 jaar oud toe ’n geweldige tragedie die gesin in 1947 tref. Piet Duvenage sterf op die rugbyveld na ’n fratsongeluk en laat haar alleen agter met twee klein kinders en net ’n onderwyssalaris, tesame met sy uitstaande studieskuld. Janet sukkel om die skok te bowe te kom. Aan die einde van die jaar neem sy die twee kinders vir ’n kort vakansie by ’n oom en tante van haar wat naby Selukwe in Rhodesië boer. Sy kom nie weer terug nie. Aan die begin van 1948 begin sy skoolhou by ’n plaaslike laerskool in Selukwe.

Haar jonger suster, Helen, is die een wat haar opnuut bekend stel aan die jong boerseun, Ian Douglas Smith. Hy het kort vantevore teruggekeer nadat hy in Noord-Afrika geveg het tydens die Tweede Wêreldoorlog en is nou besig met sy Landboudiploma aan die Gwebi Landboukollege. Ian is vier jaar jonger as Janet, maar die twee raak dadelik verlief.

1948 is ’n ontsettende bedrywige jaar. In Augustus gebeur drie dinge sommer so tegelykertyd – Ian en Janet trou in die Presbiteriaanse kerkie van Gwelo, Ian koop sy eerste stukkie grond, “Gwenoro” naby Selukwe en laat hom ompraat om homself beskikbaar te stel as Parlementslid vir die kiesafdeling. Op 15 September word hy met ’n meerderheid van meer as 100 stemme verkies en word op die ouderdom van 28 die jongste Parlementslid in die geskiedenis van Rhodesië.

Janet hardloop rond soos ’n afkophoender. Behalwe vir twee klein kinders, het sy nou ’n man wat die helfte van die jaar in Salisbury sit en ’n splinternuwe plaas wat uit die grond opgebou moet word. Die stadsmeisie van Kaapstad rol haar moue op en klim agter die trekker se stuur in. Sy dip beeste, oes tabak en saai mielies en saans hou sy skool vir die werkers se kinders.

Vir die twee kinders word Ian werklik ’n pa. “Piet Duvenage was my vriend en rugbymaat,” sê hy, “daarom neem ek sy kinders aan soos my eie.” Ian en Janet se enigste kind, Alec, word op 20 Mei 1949 gebore.

Ian dien as Parlementslid vir die baie konserwatiewe “Liberale Party” van Jacob Smit voordat hy oorloop na die United Federal Party en uiteindelik in 1961 wegbreek om saam met Winston Field sy eie party te vorm – die Rhodesian Front. In Desember 1962 wen die RF die verkiesing en Field word die nuwe Premier van Rhodesië, maar na sy bedanking in April 1964 word Ian die nuwe Rhodesiese Eerste Minister. Hy kom op Gwenoro aangery met die nuus: “Janet, ons sal ’n plaasbestuurder moet soek. Ek en jy trek Salisbury toe.” Janet weet nie wat haar getref het nie!

Die Smith-era is ’n nuwe begin vir Rhodesië. Ian, met sy reguit, ongekompliseerde manier van doen is geweldig gewild en Janet, met haar vrolike en spontane aard word een van sy sterkste politieke hulpmiddels – dit is sy wat die Rhodesiese Afrikanerstem vir hom moet verseker. En dit doen sy met oorgawe. Met die Afrikaanssprekende gemeenskap van die land praat sy in hulle eie taal, met net ’n effense Engelse aksent.

Wat Janet nie besef nie, is dat die maalstroom van politiek haar reeds ingesluk het. In die ontsettende chaotiese jare van buitelandse druk en binnelandse terrorisme is dit altyd sy wat tot in die vroeë oggendure wakker bly met ’n bord warm kos vir wanneer hy uitgeput huis toe kom en wanneer hy sy kop moedeloos in sy hande laat sak, kniel sy langs die stoel en sê: “May I pray for you, Sweetheart?”

Op 11 November 1965 waag Ian Smith die sprong, en Janet staan vas agter hom. Hy verklaar Rhodesië eensydig onafhanklik van Brittanje. Met die inhuldiging van sy eerste onafhanklike Parlement is Janet daar en rondom haar raak die mense stil wanneer die volkslied van Rhodesië aangehef word, want dit is haar suiwer stem wat bo die res uitklim en die suiwer blou lug in styg wanneer sy sing van die berge en die vlaktes van haar aangenome land. Die politieke opposisie looi vir Ian Smith met die beskuldiging: “Janet is die eintlike Eerste Minister, hy sit maar net die troon vir haar en warm hou.”

Janet is so betrokke by haar man se werk, dat haar seun Alec later sou sê: “Wat ek van haar onthou in hierdie jare is die geur van ’n parfuumwolkie. Niks meer nie.” En dit is juis hier waar haar wêreld deurmekaar raak. Alec is ’n rebel wat kort-kort probleme het met dwelms en drank en openlik krities is van sy ouers se politieke beleid – hy steun Mugabe openlik. Dit veroorsaak ontsettend baie spanning in die huis en stelselmatig begin dit opmerklik raak dat Janet stiller raak, maerder word en nie meer so baie lag nie. Die stories begin loop: sy sukkel self met ’n alkoholprobleem.

Hierdie keer sit Ian sy voet neer: Rhodesië het groot probleme, hy kan nie sukkel met ’n vrou wat drink nie. En met die wilskrag wat al so eie geword het aan haar, gooi sy al die drank in die huis by die wasbak se uitlooppyp af en ruk haarself reg.

Inderdaad het Rhodesië enorme probleme. Teen 1972 is die Bosoorlog in volle swang. Die moeilikheid met Alec, die ontsettende grusame aanvalle op haar landgenote op hulle plase en die kommerplooie op Ian se voorkop maak die lewe vir Janet ook moeilik, maar sy bly die anker.

Wanneer Suid-Afrikaanse troepe na Rhodesië gestuur word, ontvang sy hulle dikwels op die plaas. Dit is sy wat in die koue nagte ekstra komberse uithaal vir die seuns wat kom help veg, wat die naaldwerkblik gaan haal om verlore hempsknope vir die troepies en jong polisiemanne aan te werk en dikwels gebeur dit dat ’n foon in ’n huis in Suid-Afrika sal lui en wanneer dit opgetel word, sê die stem aan die ander kant in Afrikaans: “Goeiemiddag Mevrou, dit is Janet Smith van Rhodesië. Ek bel net om te sê jou seun (of jou man) was vir ’n dag of drie hier by ons op die plaas. Dit gaan met hom goed, hy is gesond en hy stuur groete.”

Teen 1979 kan Rhodesië nie meer stand hou nie. Vir 15 jaar het Ian en Janet Rhodesië gelei, maar op 21 Desember 1979 swig hulle onder die druk van Brittanje. In Londen word die Lancaster House Agreement geteken – die bewind sal deur ’n verkiesing oorgedra word aan Robert Mugabe. Janet is die eerste wat die nuus stuur, voordat die media dit nog bekend maak.

Uit Londen stuur sy ’n telegram aan haar suster Helen, wat getroud is met die voormalige Suid-Afrikaanse Minister van Finansies, Owen Horwood: “Please tell Owen to inform Prime Minister Botha that we’ve lost Rhodesia. It is in God’s hands now. All our love, Ian and Janet.”

Ian bly nog die opposisieleier tot 1987. Janet wil niks meer met politiek te doen hê nie. Sy trek terug Gwenoro toe, en terwyl Ian in Salisbury (nou Harare) aanbly, neem sy weer die boerdery op. Tussen haar en Alec het ’n vervreemding ontstaan. Hy het sy dwelmprobleem te bowe gekom, in Engeland in die teologie gaan studeer en openlik vir Mugabe gestem. Hy is nou Kapelaan van die nuwe Zimbabwese weermag.

Op Gwenoro kom vriende dikwels kuier en hulle merk op dat Janet geweldig baie gewig verloor. Selfs Ian weet nie van die geweldige pyn wat sy soms ervaar nie en wanneer sy uiteindelik ’n spesialis in Johannesburg gaan besoek, is haar kanker te ver gevorderd om effektief te behandel.

Op die skemeraand van 3 Desember 1994 sit Ian langs haar bed in die huis in Harare. Die einde is nou baie naby.

“Tell me, Sweetheart,” fluister sy, “was it really worth it?” Sonder aarseling antwoord hy: “With you, every minute was worth it a hundred times over.” Sy sterf daardie nag nog in haar slaap.

Op Gwenoro, waar jy ver kan uitkyk oor die heuwels van Suid-Rhodesië, op ’n skotige heuweltjie bokant die opstal, daar begrawe hulle haar.

Ian bly alleen op Gwenoro agter. In Mei 2000 probeer Mugabe die plaas beset. Ian beskryf hom onomwonde as “mentally deranged” en ’n mens kan amper Janet se vrolike laggie in die agtergrond hoor. Sy sou hieroor dit hartroerend eens gewees het met hom! Teen hierdie tyd is hy self reeds ’n siek man. Hy word in 2005 genoodsaak om na Kaapstad te gaan vir mediese behandeling. Daar tref ’n geweldige terugslag hom: In Januarie 2006 kom die tyding dat Alec ’n hartaanval gehad het op Heathrow Lughawe en daar op die vloer van die vertreksaal dood is. Ten spyte van jare se konflik, was die verhouding tussen Ian en sy enigste seun in die laaste jare baie beter.

Op 20 November 2007 sterf hy in Kaapstad, met sy aangenome kinders, Robert en Jean, langs sy bed. Hulle neem sy as terug na Gwenoro en strooi dit om Janet se graf.

Gwenoro word in 2012 deur die Zanu-PF onteien. Dit sal kwansuis gebruik word om ’n Landbouskool op te vestig. Vandag staan die plaas nog net so – die pragtige huis van Ian en Janet is ’n murasie en die gras staan heuphoogte in die papperige draadheinings en rondom die graf waar die twee saam rus. Wat ook al gebeur het, hulle het deel van die Rhodesiese aarde geword. Niks kan hulle ooit daarvandaan wegneem nie.

Daniël Lötter