JOHAN BOTHA (1965-2016)
Johan Botha was ’n internasionaal erkende operatenoor.
Hy is op 19 Augustus 1965 in Rustenburg gebore en het van tienjarige tot sewentienjarige ouderdom by Jarmila Tellinger sangopleiding ontvang.
In 1983 en 1984 het hy sy diensplig by die Kanaries, die destydse kerkkoor en konsertgroep van die Suid-Afrikaanse Lugmag in Pretoria, verrig. Hy het perkussieinstrumente en kitaar in ’n militêre jazz-orkes gespeel. Daarna het hy by die Technikon Pretoria se operaskool aangesluit en onder Eric Muller gestudeer. Hy is aanvanklik as ’n bariton opgelei en sy eerste optrede as ’n operakunstenaar was in ’n studenteproduksie van Verdi se Falstaff. Soos Gé Korsten jare tevore het sy stem met opleiding na ’n tenoor beweeg. Muller het aan hom gesê dat hy een van die beste Wagner-tenore in die wêreld sou word.
In 1990 het hy na Europa vertrek en ’n jarelange leerling van Irmgard Hartmann geword, nadat hy sy professionele debuut by die munisipale teater in Roodepoort gemaak het in Der Freischütz. Daarna het hy ’n lid van die operakoor by die Bayreuth-fees in Duitsland geword. In 1991 het hy die rol van Riccardo in Un ballo in maschera in die Pfaltztheater Kaiserslautern in Duitsland vertolk. Dit is gevolg deur optredes in operahuise in Dortmund, Hagen, Hildesheim en Bonn. Sy internasionale deurbraak het in 1993 gekom toe hy as Pinkerton in Puccini se Madame Butterfly opgetree het. Daarna het hy onder meer opgetree in die Metropolitan Opera in New York, die Royal Opera House in Londen, Opera Australia en die Salzburg-fees. Die Weense Staatsopera het die titel van Kammersänger aan hom toegeken.
Hy was die een Suid-Afrikaanse operakunstenaar van wie die meeste opnames tot nog toe vrygestel is; hy het onder meer werk van komponiste soos Wagner, Verdi, Strauss, Puccini, Dvorak en Mahler opgeneem. Hoewel hy dikwels in Suid-Afrika opgetree het, was hy spyt dat hy dit nie meer gereeld kon doen nie. Hy wou ook gehad het dat opera meer gereeld in Afrika-tale vertaal moes word, omdat opera, volgens hom, nie uitsluitlik Europees was nie. By een geleentheid in 2012 het hy ’n paar biere by die Schwarzenbergplatz in Wene gaan drink. Toe hy by die huis kom, het die Musikverein hom gebel. Hy is gevra om binne ’n uur as plaasvervanger op te tree in ’n produksie van Das Lied von der Erde van Mahler, onder leiding van Zubin Mehta. Hy het hierdie werk ses jaar tevore laas gesing, maar die algemene gevoel was dat sy optrede uiters geslaagd was. Hy was ’n diep gelowige mens en het altyd ’n kerk besoek waar hy ook al gesing het. Sy laaste optrede was in Augustus 2016 in Kaapstad.
Hy is op 8 September 2016 in die ouderdom van 51 jaar aan lewerkanker oorlede. Hy het op daardie stadium saam met sy vrou Sonja en sy twee seuns in Wene gewoon. Hy is in die Weense Sentrale Begraafplaas ter ruste gelê.
Daantjie Badenhorst