JOHANNES KERKORREL (1960-2002)
Johannes Kerkorrel was ’n alternatiewe Afrikaanse sanger wat ’n rewolusie in Afrikaanse musiek veroorsaak het.
Ralph John Rabie is op 27 Maart 1960 in Johannesburg gebore en het as joernalis by Rapport gewerk. In 1986 het hy liedjies met ’n politieke strekking begin skryf en toesprake van oudpresident PW Botha by sy lirieke ingesluit. Die grootbase van Rapport het aan hom ’n ultimatum gestel; bedank of word afgedank. Nadat hy as joernalis bedank het, het hy voltyds musiek begin maak en betrokke geraak by die Voëlvry-beweging saam met kunstenaars soos Koos Kombuis en Bernoldus Niemand.
Hy het sterk standpunt ingeneem teen die leerstellings van die kerk en op sy verhoognaam besluit toe hy een dag verby ’n winkel wat Johannus-kerkorrels verkoop het, gestap het. Hy het sy orkes Die Gereformeerde Blues Band genoem. Hul eerste album, Eet kreef, is in 1988 uitgereik, en byna die hele album is deur die SAUK verbied. Die eerste snit, “Sit dit af”, was grensverskuiwend. Kerkorrel het met baie sterk taal sy haat vir die SAUK se televisienuusdekking te kenne gegee en geen geheim gemaak van wat hy van die destydse regering gedink het nie. Nog iets waarteen hy baie sterk beswaar gemaak het, was outoritêre dissipline, veral in “Energie”, waarin hy gesê het dat alles wat die samelewing van ’n mens verwag, ’n vermorsing van tyd was. In “BMW”, met ’n motor se enjinklank wat deur ’n trompet nagemaak is, het hy snobs reguit warmplek toe gestuur. Die een snit wat wel by ’n groot gehoor byval gevind het, was “Hillbrow”, wat sedertdien deur verskeie kunstenaars opgeneem is. In 1990 het hy die Nederlandse hoofstad Amsterdam besoek en terselfdertyd het “Hillbrow” ’n treffer in België geword. Dit het tot ’n solo-toer deur dié land gelei. In 1991 het hy sukses in Nederland en België behaal en met die Belgiese sanger Stef Bos bevriend geraak. Hulle het saam konserte in Nederland en België begin hou.
Sy volgende album, Bloudruk, het in 1992 gevolg, en soos hy self in ’n onderhoud gesê het, was hy op hierdie album minder kwaad en meer sinies. Hierdie album was baie meer toeganklik en het kommersiële sukses behaal ondanks, of dalk as gevolg van, die feit dat dit ’n album van hoogstaande gehalte was. Hy het sy politieke oortuigings op ’n baie meer subtiele manier oorgedra, en ’n swart koor het op “Halala Afrika” saam met hom gesing. Hy het hierdie liedjie met oudpresident Nelson Mandela se inhuldiging in 1994 gesing. “Somer” was ’n baie groot treffer, en sy eerste poging om ’n liefdesliedjie te skryf, “Hoe ek voel”, het die kol getref. Op “Toekomsrap” het hy met rymklets geëksperimenteer.
In 1994 het sy derde album, Cynaide in the beefcake, gevolg, en hierdie keer het hy in Afrikaans en Engels gesing. Hy het intussen ook met kunstenaars van onder meer Nederland en België begin saamwerk. Dit het gelei tot sy samewerking met Stef Bos, wat saam met hom en Thandi Klaasen op “Awuwa” gesing het. Die grootste Engelse treffer op die album was “River of love”.
In 1996 het hy die album Ge-trans-for-meer uitgereik en vir die eerste keer het hy ander liedjieskrywers se werk ingesluit. “Onder in my whiskyglas” was ’n komposisie van Koos Kombuis en David Kramer het die hartseer snit “Dawid Ryk” oorspronklik op sy album Eina ingesluit. Die hoogtepunt van die album was egter ’n groot verrassing. Hy het die bekende volksliedjie “Al lê die berge nog so blou” opgeneem sonder om die woorde te verander, en hoewel dit vir sommige mense dalk omstrede was, het dit seker sy grootste treffer geword.
Op Tien jaar later het hy teruggekyk na die eerste dekade van sy loopbaan. Al sy destydse treffers is daarop ingesluit, saam met twee snitte wat vir die eerste keer uitgereik is, maar wat uit die begin van sy loopbaan dateer. “Almal moet gerook raak” spreek vanself, en was tipies van die ingesteldheid van die aanhangers en kunstenaars van die Voëlvry-beweging. “Wat ’n vriend het ons in PW” was selfs meer omstrede. Kerkorrel het die kerk woedend gemaak deur dit op die wysie van ’n bekende Halleluja-lied te sing, en die ironiese lirieke het geen geheim van sy haat vir die Nasionale Party-regering gemaak nie.
In 1999 het hy ’n album met Koos du Plessis se bekendste komposisies daarop vrygestel; onder die liedjies op hierdie album was “Kinders van die wind”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Skimme”, “Skielik is jy vry”, “Skadu’s teen die muur” en “Hier’s ons almal tesaam”.
Sy laaste album, Die ander kant, is in 2000 vrygestel, en sommige mense het gemeen dat die titelsnit ’n aanduiding was dat hy nie gelukkig was met sy lewensomstandighede nie en ’n einde aan sy lewe wou maak.
Op 12 November 2002 het hy sy eie lewe op die Wes-Kaapse kusdorp Kleinmond geneem. Hy was 42 jaar oud. Hy het sy vrou, van wie hy toe reeds geskei was, ’n seun en ’n lewensmaat agtergelaat. Omtrent ’n jaar later is ’n laaste versamelalbum, Pêrels voor die swyne, wat ’n oorsig van sy hele loopbaan bevat het, uitgereik.
Daantjie Badenhorst