KAREL LANDMAN (1796-1875)

Karel Landman was ’n Voortrekkerleier en tweede in bevel onder Andries Pretorius by die Slag van Bloedrivier.

Karel Pieter Landman is op 5 Maart 1796 in die distrik Uitenhage gebore en was die jongste van elf kinders. Hy het skamele skoolopleiding aan die Oosgrens ontvang en het reeds op ’n jong ouderdom op kommando gegaan. Hy het ook selfstandig begin boer en voordat hy mondig geword het, is hy op 14 Februarie 1817 met Agqtha Jacomina Meijer getroud. In 1823 het hy die plaas Melkhouteboom naby Olifantshoek digby die Boesmansrivier en teen die grens van die Uitenhage- en Albanie-distrikte gekoop. Hy was ’n suksesvolle boer en het ’n aangrensende stuk weiveld, asook sy broer se aandeel in Melkhouteboom in Desember 1834 gekoop. Hy is slegs enkele weke later gedwing om weens die Sesde Grensoorlog saam met ’n groep medeburgers weswaarts te vlug, met die gevolg dat hy swaar verliese gely het.

Hy het veldkornet Buchner bygestaan om die boere in omliggende wyke na afloop van die oorloë op hul voete te help deur regeringslenings te bekom. Nogtans het die Uyse van Uitenhage reeds met verkenningstogte na die binneland begin. Hy het sy grond in Julie 1837 verkoop en saam met die Uyse getrek, en hy is vergesel deur 39 gesinne met ongeveer 180 blanke mans, vroue en kinders. Hierdie geselskap het die families Booysen, Nel, Rudolph, Scheepers, Van Niekerk, Van Rooyen en Vermaak ingesluit. Hy het die roete deur die Transoranje, soos die Vrystaat destyds bekendgestaan het, gevolg en toe hy by die Drakensberg aangekom het, het hy verneem van die moord op Piet Retief en sy geselskap in Februarie 1838. Hy het in Maart by Gerrit Maritz se laer op Doornkop aangekom.

Benewens die gevoel van rou, twyfel en swaarmoedigheid was daar onderlinge verdeeldheid. Landman was die persoon wat Port Natal vroeër namens die Voortrekkers in besit geneem het. Hy was verantwoordelik vir die plaaslike administrasie en het die goedere wat per skip na die Trekkers gestuur is, hanteer. Met hul terugkeer uit Port Natal het Gerrit Maritz ernstig siek geword. Maritz het voorgestel dat Landman die militêre bevel moes oorneem nadat Landman hom as krygsman onderskei het. In April was hy deel van die strafekspedisie by Italeni waartydens Piet Uys sou sneuwel; daarby het hy hom ook op siviele vlak as leier onderskei.

Tydens die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 was Landman tweede in bevel onder Andries Pretorius en nadat Pretorius in sy hand gewond is, het Landman die Zoeloes tot by Umgungundlovu agternagesit. Op 27 Desember daardie jaar was hy die aanvoerder tydens die Slag van Wit Umfolozi. Hy het op verskeie komitees van die destyds nuutgestigte Republiek van Natalia se Volksraad gedien en was van 1840 tot 1841 tydelike voorsitter. Tydens onderhandelinge met majoor Charters, die Britse bevelvoerder in Natal het Landman daarop aangedring dat die Voortrekkers se regte gerespekteer word. Hy kon egter nie verhoed dat die Britte die Boere se ammunisie afneem nie.

Nadat hy ’n persoonlike botsing met Andries Pretorius gehad het, het hy geweier om teen die Britte onder bevel van generaal Thomas Smith oorlog te maak. Hy het toe na die distrik Pietermaritzburg verhuis waar hy op 2 April 1875 in die ouderdom van 79 op sy plaas Uithoek oorlede is. Dit het beteken dat hy vir die res van sy lewe onder Britse bewind geleef het. Ten tyde van sy dood was hy die laaste oorblywende vername Voortrekkerleier. Sy grafsteen bevat die volgende woorde uit Openbaring 14 vers 13: “Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe.” Hoewel hy hoegenaamd nie ’n inspirerende leier was nie en soms té versigtig was om op kommando te wees, was hy nogtans ’n dapper kryger.

Op 16 Desember 1939, presies ’n jaar nadat die hoeksteen van die Voortrekkermonument gelê is, is ’n monument ter ere van Landman op die plaas De Kol-rant in die distrik Olifantshoek , wes-noordwes van Alexandria in die Oos-Kaap onthul.

deur Daantjie Badenhorst

Foto: Jackie Grobler-versameling