LEONORE VEENEMANS (1935-1973)
Een van die hartseerste verhale in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, is dié van die sopraan Leonore Veenemans, wat ewe tuis in ligte musiek en opera was.
Leonore Mona Veenemans is op 16 Februarie 1935 in Witbank (deesdae eMalahleni) gebore en was die oudste van drie kinders. Haar suster, Barbara, het self bekendheid as sopraan verwerf en haar broer Ben was op sy dag ’n bekende seunsopraan. Leonore het op twaalfjarige ouderdom vir die eerste keer aan ’n sangkompetisie deelgeneem en dit gewen. As kind het sy gereeld aan verskeie sangkompetisies en eisteddfods deelgeneem en baie goue medaljes, sertifikate en bekers gewen. Sy het onder meer ’n talentkompetisie op Margate gewen. Nadat sy haar laerskoolopleiding voltooi het, het die gesin na Benoni verhuis, waar sy aan die Hoërskool Brandwag gematrikuleer het. Sy het aan die Onderwyskollege van Pretoria gaan studeer en hoewel sy aanvanklik van plan was om ’n gimnastiekafrigter te word, het sy besluit om haar eerder as huishoudkundeonderwyseres te bekwaam. Sy het as onderwyseres teruggekeer na haar alma mater.
Op 21-jarige ouderdom het Leonore sanglesse by Madame Stella Cavalli in Johannesburg begin neem en haar finale sangeksamen met lof geslaag. Sy het as onderwyseres bedank en haar op verhoogrolle en radiouitsendings saam met die SAUK-simfonieorkes toegespits. In 1961 het sy na Wene in Oostenryk vertrek om onder Maria Hirtoff te studeer. Soos sy in ’n radio-onderhoud vertel het, kon sy egter net insit en na die klasse luister sonder om deel te neem. Haar verblyf in Wene was van korte duur en haar blydskap was groot toe Maria Hirtoff haar in Suid-Afrika gevestig het. Sy is intussen met Jan Brewis, wat adjunkhoof aan Hoërskool Brandwag was, getroud en in Januarie 1964 is haar dogter Liezel gebore. Nadat Maria Hirtoff na Wene teruggekeer het, het Leonore na Milaan vertrek om sanglesse by die Italiaanse dirigent Franco Ferraris te neem. Hy het talle Italiaanse operas in Suid-Afrika gedirigeer en Leonore se pragtige stem het hom só beïndruk dat hy haar na Milaan genooi het. Haar ma en haar dogtertjie het haar vergesel. Leonore moes baie opofferinge maak om haar sangloopbaan te volg. Sy het dit met passie gedoen, want niks was vir haar belangriker as om as ’n gerespekteerde operasopraan erken te word nie. Die ligte musiek wat sy later jare gesing het, was nie vir haar so bevredigend soos om op die operaverhoog te staan nie.
Sy was baie gefrustreerd omdat TRUK nie vir haar hoofrolle wou gee om te sing nie en aangesien die meeste van haar werk van ander streeksrade af gekom het, het sy baie gereis en was sy weke, en soms maande, lank weg van die huis af. Dit was vir haar snaaks dat so min Suid-Afrikaners musiek as ’n loopbaan beskou het. Een van haar kennisse in die musiekbedryf het blykbaar aan iemand vertel dat hy op geen ander manier ’n bestaan gevoer het as om te sing nie. Die persoon vir wie hy dit vertel het, was eers ongelowig en daarna geskok om te hoor dat ’n uitgegroeide mansmens dink hy het ’n dag se werk gedoen as hy gesing het. Dit was, volgens Leonore, die geval met al die kunste. Mense het dit as ’n stokperdjie beskou maar dit was nie aanvaarbaar as ’n beroep nie.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika in 1961 is Leonore gevra om vir die Opera Society of South Africa op te tree. As deel van dié vereniging se opvoedkundige toer het sy die rol van Adele in Johann Strauss se bekende operette Die Fledermaus vertolk. Die volgende jaar is die Johannesburgse Stadskouburg amptelik geopen; Leonore het met hierdie geleentheid haar eerste operarol, naamlik dié van Hänsel in Humperdinck se opera Hänsel und Gretel gesing. Jossie Boshoff en Doris Brasch het saam met haar opgetree. In 1963 het sy haar eerste hoofrol vir TRUK gesing toe sy die rol van Cherobino in ’n Afrikaanse weergawe van Mozart se opera Die huwelik van Figaro gesing het. Die rol het haar uitstekend gepas en sy het dié karakter se stuitige manewales goed vertolk. Die produksie was ’n reusesukses en was byna elke aand uitverkoop. Ander bekende kunstenaars wat aan hierdie produksie deelgeneem het, was Dawie Couzyn, Jossie Boshoff, Nellie du Toit en Gert Potgieter. In Desember 1966 het Leonore en haar suster Barbara vir die eerste keer saam in ’n opera gesing toe hulle in The bartered bride opgetree het. Dit was so suksesvol dat dit in Mei 1967 weer opgevoer is. In 1968 was sy deel van ’n suksesvolle produksie van Verdi se bekende opera Nabucoo, waarin Gert Potgieter die titelrol vertolk het en Franco Ferraris as dirigent opgetree het. Met die opening van die Ernest Oppenheimer-skouburg in Welkom het sy saam met onder andere Gé Korsten aan ’n uitvoering van Carl Millöcker se operette Der Bettelstudent opgetree.
In 1969 het Leonore tot die ligte musiektoneel toegetree. Haar eerste twee albums het in hierdie jaar verskyn. Albie Venter, die besturende direkteur van EMI-Brigadiers, het vertel dat Leonore een dag by hul kantore opgedaag het sonder om vooraf ’n afspraak te maak. Só het ’n vriendskap ontstaan wat hy as een van die mooiste, maar een van die seerste, van sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf beskryf het. Hy het die proses om ’n album van haar die lig te laat sien, altyd as ’n belewenis beskryf hoewel hy hardkoppig was in die sin dat hy nooit wou toegee aan haar begeerte om ’n opera-album vry te stel nie. Hy wou eerder hê dat sy liedjies moes sing wat vir hom en die breë publiek mooi sou wees. Onder die Afrikaanse snitte op haar eerste album, Goud en silwer, was “Liefling kom wals saam met my”, “Seemeeu jy vlieg na my tuiste” en “Kleine nagtegaal”.
Met haar tweede album, wat in dieselfde jaar verskyn het, het die publiek egter vir die eerste keer werklik van haar kennis geneem. Op hierdie album het die Suid-Afrikaanse Lugmag se mannekoor saam met haar gesing. Onder die treffers op hierdie album was “Verre land”, “Die woudprinses” en “My land Suid-Afrika”, op die wysie van “The ballad of the green berets”. Een snit het egter kop en skouers bo die res uitgestaan, tot so ’n mate dat baie mense nie weet, of kan onthou, dat sy enige ander liedjies opgeneem het nie. “Liefste Madelein” was verreweg die grootste treffer van haar loopbaan. Die radio-omroeper Daniël Kirstein het die Afrikaanse woorde van “Liefste Madelein” onder die skuilnaam Chris Steyn geskryf. Hoewel die liedjie nie tot Springbok Radio se Top 20 kon toetree nie, was dit sonder twyfel die gewildste Afrikaanse liedjie van daardie jaar. Daar moet ook gesê word dat geen Afrikaanse liedjie dit in daardie jaar kon regkry nie. Dit het haar die Sarie-toekenning in die kategorie vir die belowendste sangeres van die jaar besorg. Sy het haar eerste rol in ’n rolprent losgeslaan in die rolprentweergawe van die Springbok Radio-vervolgverhaal Die geheim van Nantes, waarvoor sy die temaliedjie “Keer op keer” gesing het.
In 1970 het sy haar volgende Afrikaanse album, Al wat bly, is die rosie, vrygestel. Benewens die titelsnit het die album treffers soos “Namakwalandse blomme”, “My liefdesmelodie”, “Rose bring ’n groet aan jou” (op die wysie van Nana Mouskouri se “White rose of Athens”) en “Kom terug” (op die wysie van “La paloma”) ingesluit. Haar tweede Afrikaanse rolprent het in dieselfde jaar gevolg toe sy die rol van ’n nagklubsangeres in Die drie Van der Merwes , met Franz Marx in die hoofrol, vertolk het. In 1971 het sy teenoor Gé Korsten in die rolprent A new life gespeel en hulle het “Song of love” vir die klankbaan opgeneem. Die Afrikaanse weergawe, “Liefdeslied”, is ook op die klankbaan ingesluit.
Haar derde Afrikaanse album, Leonore, is in 1971 vrygestel, met treffers soos “Lang winter” en “My hart verlang na die Boland”. Drie snitte het uitgestaan. In “Heimwee na jou” is moderne opnametegnieke gebruik, met haar stem wat meer as een keer opgeneem is, en die refrein laat klink het asof ’n koor dit gesing het. Haar opnames van “Seeman” en “Dink aan my” was net so goed soos enige ander kontemporêre treffers van daardie tyd.
Niemand sou kon dink dat haar volgende Afrikaanse album, Bly by my, wat in 1972 verskyn het, haar laaste een sou wees nie. Weer eens het die album ’n spul treffers bevat, onder meer “Liefde kan vir ons gelukkig wees”, “Skenk jou hart aan my”, “Die liefde in jou hart” en “Liefdesdrome”. Sy het weergawes van twee groot internasionale treffers van daardie jaar met Afrikaanse woorde gesing, naamlik “Kom wat wil” en “Sing ’n lied”, onderskeidelik op die wysies van “Come what may” van Vicky Leandros en “Song sung blue” van Neil Diamond. Twee oorspronklike Afrikaanse komposisies het egter bo die res uitgestaan, naamlik “Stil soos die see”, geskryf deur Sias Reinecke en André Viljoen en “In my liefdeslied”, ’n komposisie van Sias Reinecke en Gert van Tonder, wat ook vir Groep 2 ’n treffer was. Teen die einde van die jaar het haar opname van “Stille nag”, wat sy vir ’n Kersalbum opgeneem het, verskyn. Dit was haar laaste opname.
Op Donderdag 16 Februarie 1973 het Leonore haar 38ste verjaardag gevier. Dieselfde aand het sy in die laaste opvoering van Die vrolike weduwee in die Nico Malan-teater in Kaapstad gesing. Sy het haar donker hare daardie oggend rooi laat kleur “net om ’n bietjie anders te lyk.” Haar vriende het na die optrede in ’n woonstel met ’n uitsig oor die see bymekaargekom om haar verjaardag te vier. Sy het te midde daarvan haar bekommernis uitgespreek dat sy in daardie jaar net drie maande by haar gesin sou wees omdat sy die res van haar tyd aan haar sangloopbaan sou wy. Sy het gesê dat haar gesin haar nodig gehad het. Aan die ander kant het sy ’n onbedwingbare drang gehad om te sing. Sy het met groot genot gekyk na ’n deel van ’n tuisgemaakte opname wat van haar optrede in Die vrolike weduwee gemaak is en die vertoning eerlik en sonder aanstellerigheid met almal bespreek. Almal wat die geleentheid bygewoon het, was bekommerd oor die terugreis na Pretoria wat sy die Saterdagoggend wou aanpak. Met ’n laaste wuif, ’n hartlike lag en ’n vriendelike soen op die wang vir almal het sy vertrek …
Twaalfuur die nag het Albie Venter se telefoon gelui. Dit was een van die Sondagkoerante wat die nuus dat Leonore in ’n motorongeluk naby Prins Albert in die Karoo dood is. Hy het hul gemeenskaplike vriend Gé Korsten in Pretoria gebel en Gé het verslae na die nuus geluister. Leonore sou vir die eerste keer sedert Kersfees saam met haar gesin wees en ’n week later sou sy vir die nuwe operaseisoen na Bloemfontein gaan. Sy was haastig en volgens haar broer het sy gepraat van “low flying” as sy so vinnig gery het. Sy was juis van plan om haar motor, blykbaar ’n Alfa Romeo GTV, op ’n vinniger model in te ruil. Daar word vertel dat sy besig was om ’n appel te eet; dit het uit haar hand gegly en sy het beheer oor die motor verloor. Haar dood is deur skedelbreuk veroorsaak. Tydens haar begrafnis ’n paar dae later het die predikant Psalm 96:1 gelees: “Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sing voor die Here, o ganse aarde!” Hierdie teksvers is ook op haar grafsteen aangebring.
Twee versamelalbums het op langspeelplaat verskyn. Die eerste een was 25 grootste treffers, wat in die jaar van haar afsterwe vrygestel is, terwyl Goue grotes in 1988 gevolg het. In 1993 is die versamelalbum Jare van liefde, waarop snitte van haar vier Afrikaanse albums verskyn het, op CD uitgereik. Haar opname van “Stille nag” is hierby ingesluit. Haar versamelalbum Ons eie nagtegaal het ook van haar klassieke opnames soos “Goud en silwer wals”, “Schenkt man sich Rosen in Tirol” en “Groen is die heide” bevat.
Barbara het haar, soos Leonore, as ’n sangeres van ligte en klassieke musiek gevestig en twee Afrikaanse langspeelplate vrygestel, met treffers soos “Ek sien ’n ster”, “Ek wens”, “My paradys”, “Ek kom weer terug” en “Speel nog een maal vir my Habanero”. Sy het op 18 Januarie haar 86ste verjaardag gevier. Ben het hom as ’n mediese dokter bekwaam en het hom in Hazyview in Mpumalanga gevestig. Hy is in 2010 in die ouderdom van 65 jaar oorlede.
Leonore was nie net ’n uiters talentvolle en veelsydige sangeres nie; benewens haar sangtalent onthou mense haar vir haar skoonheid, haar sprankelende persoonlikheid en haar onuitputlike lewensvreugde wat almal aangeraak en op hul gemak laat voel het.
Daantjie Badenhorst