LIEB BESTER (1949-2021)
Die gewilde akteur Lieb Bester is in die ouderdom van 72 jaar oorlede nadat hy vir ’n tweede keer weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem is.
Hy is op 15 April 1949 in Brakpan gebore en het aan die Hoër Seunskool Stofberg gematrikuleer. Hy het sy diensplig van nege maande in Walvisbaai verrig waarna hy in 1978 as lid van die staande mag by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit het. Daarby het hy verskeie tersiêre kwalifikasies behaal, onder meer ’n BA-graad in kommunikasie en opvoedkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), DTO (Nagraads) aan UNISA en MEd aan die Universiteit van Pretoria. Hy het in 2001 met die rang van kolonel uit die Weermag getree.
Die eerste rolprent waarin hy te sien was, was Seun van die wildtemmer in 1973, die laaste rolprent waarin Pieter Hauptfleisch gespeel het. Weens sy verbintenis met die Weermag het hy in verskeie rolprente met ’n militêre tema gespeel, onder meer Ses soldate, Mirage Eskader en Die rebel, asook rolprente soos Hank, Hennery en vriend, Jakkalsdraai se mense, Liefste Madelein, Stander, Panic mechanic en Agter elke man.
Sy eerste groot televisierol was in Phoenix en Kie, waarna TJ 7, Arsenaal, Sterk skemer en Justice for all. Hy was ’n veldaanbieder in die kykNET-reeks Kriminele meesterbrein, maar die rol waarvoor hy altyd onthou sal word, is dié van prof. Fritz Retief in die sepie Villa Rosa, waarin hy tien jaar lank te sien was. Sedert 2018 was hy ’n veldaanbieder vir die kykNET-program Met ’n huppel in die stap.
Min mense het seker geweet dat Lieb ’n uiters begaafde en veelsydige musikant was. In die rolprente Ses soldate en Mirage Eskader het sy musiektalent duidelik na vore gekom, asook in Villa Rosa, waarin hy konsertina gespeel het. Benewens die konsertina kon hy onder meer trekklavier, orrel, kitaar en klavier speel. Hy het twee Boeremusiekalbums, Skoffel tot dagbreek 1 en 2, saam met Piet Wolmarans opgeneem, asook Oukraalliedjies, waarop Harald Richter saam met hom gesing het in “Met ’n Lieb in jou hart”, waarop hy verskeie instrumente bespeel het.
Ten tyde van sy dood was hy steeds deel van die aanbiedingspan van Met ’n huppel in die stap saam met Riaan Cruywagen en Simon Bruinders.
deur Daantjie Badenhorst