LOUIS TRICHARDT (1783-1838)

L

ouis Trichardt was ’n welgestelde grensboer in die oostelike Kaapland en het later een van die eerste Voortrekkerleiers geword.

Louis Johannes Trichardt, wie se van soms ook Tregardt gespel is, is op 10 Augustus 1783 in die distrik Swellendam gebore. Hy was ’n kleinseun van Gustav Carolus Tregard wat uit Swede as seeman in diens van die VOC na die Kaapkolonie geïmmigreer het. Sy van is afgelei van Träcdgard, wat “tuin” in Sweeds beteken. Die spelling is in 1881 na Trichardt verander as gevolg van ’n misgissing dat dit van Franse herkoms was. Louis se pa Carel was ’n staatsamptenaar wat gereeld met die konflikte met die Xhosas in die 18de eeu betrokke geraak het. Daarby was hy ’n deelnemer aan die weerstandsbewegings in Graaff-Reinet, eers teen die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie in 1795 en later teen die Engelse koloniale regering. Carel en sy twee seuns, naamlik Louis en sy broer, het hulle anderkant die Groot Visrivier gaan vestig eerder as om hulle aan die regering te onderwerp, en het eers teruggekeer nadat die Hollandse regering in 1803 aan bewind gekom het. Niks is bekend van Louis se jeug of sy skoolopleiding nie, maar uit sy latere dagboek het dit duidelik geword dat hy buitengewoon intelligent was en oor ’n geletterdheid beskik het wat dié van die meeste van sy landgenote oortref het. Hy het op verskeie plekke in die Graaff-Reinet-distrik geboer voordat hy hom in 1810 in die Uitenhage-distrik gevestig het. Hy is op 4 November 1810 met Martha Elisabeth Susanna Bouwer getroud. Sy was destyds vyftien jaar oud en was van dieselfde distrik afkomstig.

In 1829 het hy sy seun Carolus gestuur om hul beeste langs die Swart Kei-rivier, destyds die noordelikse grens met Britse Kaffaria, ’n streek wat uit die hedendaagse King William’s Town en Oos-Londen bestaan het, te laat wei. Hy het die neutrale grens oorgesteek om hom by sy seun aan te sluit. Hier het ’n gemeenskap boere wat nie met die koloniale regering oor die weg gekom het nie, in ballingskap gewoon. Sir Harry Smith het hom as ’n aanstigter van die sesde Xhosa-oorlog beskou en was van plan om hom in hegtenis te neem. Trichardt het egter besluit om sy gesin en sy vee na ’n gebied tussen die Caledon- en Oranjerivier te verskuif, waar hulle tot 1835 gewoon het. Hierdie gebied was net buite die kolonie geleë.

Trichardt was bevriend met Andries Hendrik Potgieter en toe hulle hul trek na die noorde beplan het, het hul bewegings ooreengestem. Daar was agt gesinne benewens sy eie wat aan die trek deelgeneem het, en die trek van Hans van Rensburg, nog ’n boer wat in ballingskap gewoon het, het hom by dié van Trichardt aangesluit. Trichardt en Van Rensburg was van die eerste Voortrekkers wat verby Thaba Nchu, waar die Barolong-stam met Moroka II as stamhoof, getrek het. Toe hulle die Strydpoortberg in die huidige Limpopo-provinsie bereik het, het Trichardt en Van Rensburg se paaie weens ’n meningsverskil geskei. Van Rensburg en sy trek van 49 mense is in Junie 1836 vermoor.

Trichardt en sy geselskap het van Mei tot Augustus 1836 in die Soutpansberg kamp opgeslaan. Potgieter het hom hier besoek en onderneem om hom by Trichardt se trek aan te sluit. In November 1836 het Trichardt ooswaarts getrek tot by die latere Schoemansdal en die dorp wat mettertyd na hom vernoem is. Hulle het tot Junie 1837 hier gebly, en huise, ’n werkswinkel en ’n skool vir 21 leerders is hier opgerig. Potgieter se trek is egter deur konflikte vertraag en het nie opgedaag nie. Trichardt en sy trek het van Junie tot Augustus 1837 by die Doornrivier kamp opgeslaan waarna hulle ’n nuwe rigting op pad see toe ingeslaan het om ’n handelsroete te probeer vestig. Hul beperkte kommunikasie met die Portugese gemeenskap het die indruk geskep dat hulle hartlik verwelkom sou word, en die ooskus was nie juis dig bevolk nie.

Hy het die Limpopo, waar die Van Rensburg-trek vermoor is, vermy en suidooswaarts na Delagoabaai, die huidige Maputo wat die hoofstad van Mosambiek is, getrek. Die laaste skof van 320 kilometer tot by Delagoabaai het op 5 Februarie 1838 begin en die gebied waar die Nasionale Krugerwildtuin vandag geleë is, is sonder voorval oorgesteek. Op 13 April 1838 het hulle by Delagoabaai aangekom en die Portugese gemeenskap het hulle vriendelik verwelkom. Vier dae later het vyf mense van die geselskap egter koors opgedoen; Trichardt se vrou was een van die eerste mense wat daaraan oorlede is, tesame met hul onderwyser. Ses maande later is Trichardt self aan malaria oorlede.

Trichardt was die enigste Voortrekker wat gedurig dagboek gehou het; hy het in Julie 1836 daaraan begin skryf en tot Mei 1838 daarmee voortgegaan. Daar was byna elke dag inskrywings en dit het selde gebeur dat meer as twee dae verloop het sonder dat hy aantekeninge gemaak het. Die gedagte was nie dat dit gepubliseer sou word nie, maar eerder dat dit ’n persoonlike weergawe sou wees van sy sosiale interaksies en die daaglikse ervarings van die klein gemeenskap waarvan hy deel was. Die eerste weergawe daarvan wat gepubliseer is, is in 1917 deur Gustav Preller saamgestel, gevolg deur ’n meer betroubare weergawe deur TH le Roux wat in 1964 verskyn het. In 2013 het prof. Jackie Grobler se weergawe, wat in Afrikaans vertaal is en verskeie aantekeninge bevat het, verskyn.

Die dorp Louis Trichardt in die Limpopo-provinsie is na hom vernoem en die dorp Trichardt in Mpumalanga na sy seun Carolus. Daar is ook ’n gedenktuin ter nagedagtenis aan hom in Maputo opgerig, asook ’n borsbeeld in die dorp Louis Trichardt se munisipale biblioteek. Daarby is ’n gedenkteken opgerig by die plek waar die skool wat hy en sy trek gebou het, geleë was.

deur Daantjie Badenhorst