MARIA MALAN (1905-1973)
Die ewige terggees
Maria, het hulle haar genoem. Vriend en vyand, bekende en vreemdeling … nooit “Mevrou Doktor Malan” soos wat die gewoonte in daardie jare van formaliteite was nie. Maria, die laggende, opgewekte, soms bitsige donkerkop wat altyd gereed was met ’n grappie of nie gehuiwer het om iemand te terg nie, maar wat agter dit alles ’n diep, donker depressie weggesteek het.
Maria het met politiek grootgeword. Toe sy op 25 April 1905 op Oorlogsloof by Nieuwoudtville in die Hantam gebore word, is haar pa al kniediep in die politiek. Willem Louw sou drie keer trou en uit die drie huwelike is 15 kinders gebore. Maria is die oudste van die nege kinders uit die tweede huwelik. Tussen 1915 en 1918 is oom Willem die LV vir Calvinia. Hy word ’n vurige Nasionalis en sy kinders word grootgemaak met ’n brandende volksliefde en ’n onuitblusbare strewe na die Republikeinse ideaal. Maria, die rabbedoe, ry van kleins af die kiesafdeling vol saam met haar pa.
Sy is 13 jaar oud toe sy vir die eerste keer haar toekomstige man ontmoet. Hy is 30 jaar ouer as sy en ’n oortuigde oujongkêrel. Die Nasionaliste het hom omgepraat om sy bediening as predikant van Graaff-Reinet te laat vaar en redakteur van die nuwe Afrikaanse koerant, Die Burger, te word. Oom Willem nooi die vurige jong politikus plaas toe om te kom help met die komende verkiesing en daar oortuig hy hom om homself verkiesbaar te stel as kandidaat vir die kiesafdeling. Danie Malan neem nie veel notisie van die dogter nie, hoewel haar intelligente vrae en opmerkings hom beïndruk.
Agt jaar later, in 1926, is Malan al ’n ou bekende op die plaas. In daardie jaar trou hy met die weduwee Martha van Tonder. Sy bring twee seuns in die lewe, maar die huwelik is maar vier jaar oud toe sy onverwags in 1930 sterf. Dit laat Malan ’n wewenaar met twee klein seuntjies en ’n skoonsuster wat by hulle kom woon om te help met die huishouding. Sewe jaar lank kom hulle so klaar totdat Malan uiteindelik om Maria se hand vra.
Maria neem die Malan-huishouding oor. Met haar sonnige geaardheid maak sy van die huis in Seepunt ’n kuierplek vir die Kaapse nasionaliste. Sy is spontaan en sorgsaam, maar ook streng met ’n blitsige humeur. Tussen haar en die twee seuns gaan dinge nie altyd so goed nie. Dis Maria wat raas wanneer hulle deur die huis hardloop wanneer hulle pa besig is om ’n toespraak voor te berei, maar dis ook Maria wat na die kamer toe kom met soetkoekies en koeldrank wanneer sy klaar geraas en hulle kamer toe gestuur het. Dis Maria wat agterna hardloop wanneer Malan, altyd ingedagte en vergeetagtig, by die voordeur uitstap Parlement toe met sy pantoffels aan of sy hoed wat op die tafel bly lê het.
In 1942 koop Malan die huis “Môrewag” op Stellenbosch. Dis oorlogsjare en die verdeeldheid is diep. Malan werk soos ’n slaaf om die Nasionale Party op te bou en Maria is tree vir tree agter hom. Hulle is ’n eienaardige paar – die vrome, vergeetagtige, intellektuele politikus en sy, drie dekades jonger, die spontane plaasdogter. Maria se grootste hartseer is dat sy nie kinders van haar eie kan hê nie, maar sy maak die seuns groot so goed as wat sy kan, hoewel hulle in die tienerjare algaande van haar begin weggroei en die konflik steeds meer word.
Met die Nasionale Party se bewindsoorname in 1948 word Maria die land se vierde Eersteministersvrou. Sy het ’n gemaklike manier met mense en stuit nie om bietjie te terg waar nodig nie. Met die Statebondskonferensie in Londen takel sy Winston Churchill en trek sy siel uit oor sy destydse verklaring dat hy tydens die Boereoorlog ontsnap en oor die “magtige” Apiesrivier moes swem. Sir Winston, wêreldbekend vir sy gevatte geaardheid, het geen verweer teen Maria nie. Hy leun uiteindelik oor na lady Clementine en mompel onderlangs: “Where on earth did Malan find that wife?”
In Februarie 1954 tref die eerste terugslag Maria. Sy kry ’n hartaanval waarvan sy langsaam herstel. Teen hierdie tyd het haar gewildheid begin afneem. Binne die Nasionale Party is sy baie ongewild – hulle glo vas dat sy té veel invloed oor Doktor het. Male sonder tale gaan ’n kabinetsvergadering uiteen en wanneer dit in die môre hervat, kom Malan met ’n splinternuwe plan. Dis heel duidelik dat Maria se mening gevra is. Uiteindelik ruk Paul Sauer sy halfdooie pyp uit sy mond en bulder: “Maar my magtig kêrels, wanneer het Maria dan Eerste Minister geword?”
Die halfjaarlikse tog na Pretoria is vir Maria ’n slegte periode. Sy is lief vir Groote Schuur en sy maak tuin, plant proteas en trek soggens vroeg die gordyne oop voordat sy Malan se daaglikse ontbyt van ’n gekookte eier, ’n sny tuisgebakte brood en korrelkonfyt en ’n koppie koffie self voorberei. Maar Pretoria is vir haar ’n vreemde stad en Libertas is ’n koue, onvriendelike plek. Sy wantrou die Transvaalse nasionaliste en van Hans Strijdom hou sy niks. Sy is oortuig daarvan dat hulle haar man se gesag ondermyn. By Libertas pak die demoon van depressie haar elke jaar weer. Die gordyne bly toe en die personeel loop saggies in die gange op en af. Alleen met moeite kom sy deur haar verpligtinge. In 1955 kry sy weer ’n hartaanval in Pretoria. Sy verlang na die Kaap en die geure en klanke van die Moederstad.
In 1949 kom daar ’n groot verandering in Maria se lewe. ’n Groep Duitse weeskinders word na Suid-Afrika gebring en een van hulle, Marietjie, word deur die Malans aangeneem. Vir die eerste keer in haar lewe het Maria ’n kind “van haar eie”. Marietjie is Doktor se oogappel en sy word die kern van Maria se lewe.
Maria is premiersvrou vir ses jaar, totdat Doktor se gesondheid begin ingee en hy in Oktober 1954 bekend maak dat hy uittree as Eerste Minister. Hierop volg nog een groot teleurstelling vir Maria, ’n teleurstelling waaroor sy geen invloed sou kon hê nie. In plaas van Klasie Havenga word haar groot opponent, Hans Strijdom, die nuwe Eerste Minister. Maria maak geen geheim van haar teleurstelling nie, maar die politieke jare is nou verby.
By Môrewag maak sy tuin, hou hoenders aan en gaan stap soggens ver ente met Doktor en Wagter, die groot hond wat altyd iewers by sy oubaas se voete lê. Doktor is nou al 80 en Maria versorg hom met eindelose geduld en toewyding. Sonder om ooit haar sin vir humor te laat vaar.
Wanneer die Verwoerds kom kuier, kort nadat hy Eerste Minister word, bring hy vir Maria ’n groot bos proteas van Groote Schuur af saam. “Ag nee man, Hendrik,” terg Maria soos altyd, “ons wag hoe lank dat julle ’n slag kom kuier en nou kom jy hier aan en jy bring vir my my eie blomme!”
Daar is vir hulle net vyf jaar saam oor. Op 7 Februarie 1959 sterf Doktor in Môrewag. Die seuns het nou al elkeen hulle eie koers gekies. Dis net Maria en die 15-jarige Marietjie wat agterbly. Maria is maar 54 en in die fleur van haar lewe. Sy is nog steeds intens betrokke by die Nasionale Party se tak op Stellenbosch en help met fondsinsameling en verkiesings.
Niemand weet dat sy sukkel met haar hart nie en dikwels soggens skaars kan opkom om Marietjie weg te help skool toe. Op 19 Oktober 1973 kry sy ’n hartaanval en sterf op die ouderdom van 64. Marietjie sou twee keer trou, maar sy sterf vroeg in 2003 op die jeugdige ouderdom van 59 aan kanker.
Maria Malan was ’n komplekse wese. As sy vandag geleef het, sou iemand waarskynlik gesê het dat sy bipolêr is. Presies hoe groot haar invloed op die regering in die vroegste dae van apartheid was, sal ons nooit weet nie. Wat ons wel sal onthou, is die toewyding, die liefde en die terglustige gees wat nooit geblus kon word nie. Jy was of ’n vyand van Maria, of onder haar bekoring, maar nooit, ooit het iemand afsydig van haar gestaan nie.
Daniël Lötter