MARITA NAPIER (1939-2004)

Marita Napier was ’n internasionaal bekende Suid-Afrikaanse operasopraan.

Marita Napier (née Jacobs) is op 16 Februarie 1939 in Johannesburg gebore en was die derde van vier kinders uit ’n musikale familie. Haar pa het die viool bespeel en haar ma het gesing. Op driejarige ouderdom het sy balletlesse saam met haar ouer suster geneem, en later het sy klavierlesse by Olive Lieberitz geneem. Howel sy nie op skool aan solosang deelgeneem het nie, het sy en haar suster Ena soms duette by streekskunswedstryde gesing. Sy het aan die Hoërskool DF Malan, destyds die Crosby-hoërskool in die Johannesburgse voorstad Crosby skoolgegaan.

Na skool het sy by die Neerlandia-koor aangesluit en as solis begin optree. Sy het met haar sanglesse voortgegaan, eers by Margaret Roux en later by Stella Cavalli. In 1963 het sy haar sangdebuut in die Kleinteater in Pretoria gemaak toe sy die rol van Romilda in Händl se opera Serse vertolk het.

Sy was so beïndruk deur ’n ander sangeres se optrede dat sy gevra het wie dié sangeres se onderwyser was. Dit was Theo Linderbaum van die Duitse stad Detmold. Nadat Napier vir hom ’n oudisiekasset gestuur het, het hy haar dadelik as leerling aanvaar. Sy het twee jaar lank gespaar om na Duitsland te gaan en ’n skenking deur die Ernest Oppenheimer-trustfonds het haar in staat gestel om dit te doen. Voordat sy na Duitsland vertrek het, het sy by ’n sangkwartet, wat by verskeie kooruitvoerings van Bach en Händl opgetree het, aangesluit. Sy het haar van na Napier verander omdat twee ander lede van die kwartet ook die van Jacobs gehad het. Sy wou verwarring uitskakel en het toe nog nie in ’n sololoopbaan belanggestel nie.

Toe sy na Duitsland vertrek het, het sy besluit om haar sangloopbaan twee jaar lank kans te gee en haar as ’n fisioterapeut te bekwaam indien dit nie ’n sukses was nie. Sy het eers by die Musikhochschule Detmold onder Theo Linderbaum gestudeer en daarna in Hamburg. Sy het haar Europese deurbraak gemaak toe sy die sopraandeel van Carmina Burana van Orff in Dijon in Frankryk gesing het. Tydens ’n fees vir jong sangers in 1966 het sy in Verdi se Requiem opgetree. Haar optrede saam met Dieter Fischer-Dieskau in Bach se Christmas Oratirio in die Duitse stad Bielefeld, het gelei tot oudisies by drie operahuise. Sy het al drie oudisies geslaag en Bielefeld gekies omdat dit nader aan haar onderwyser was. Daar het sy haar verhoogdebuut gemaak as Venus in Wagner se Tannhaüser. Sy het ook rolle in operas van Verdi vertolk, onder meer Nabucco, Un ballo in maschera en Macbeth. Van 1969 tot 1973 was sy lid van die Aalto-trater in Essen en van 1973 het sy aan die Deutsche Oper Berlin behoort. Sy het van 1973 ’n kontrak as gaskunstenaar by die Hamburgse Staatsopera gehad, en van 1975 by die Berlynse Staatsopera.

Haar eerste optrede in die Verenigde State van Amerika was in 1972 by die San Francisco State Opera toe sy in Die Walküre van Wagner opgetree het. In die laat 1970’s is sy aangewys as “The voice of America” toe sy die rol van Senta in Der fliegende Holländer van Wagner vertolk het. Op 22 September 1986 het sy haar debuut in die Metropolitan Opera gemaak, en in 1989 het ’n opname wat sy hier gemaak het, die Grammy-toekenning as beste opera-opname gewen.

Sy het in 1976 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgetree toe sy in KRUIK se produksie van Der fliegende Holländer te sien was en in 1992 het sy die rol van Leonora in Il Trovatore van Verdi in Kaapstad vertolk. In die Staatsteater het sy onder meer in Turandot van Puccini en Cavalleria Rusticana van Mascagni opgetree. Sy het in 1994 permanent na Kaapstad verhuis en benewens haar deelname aan plaaslike produksies ook as mentor opgetree. Die vorige jaar het sy aan die hoof gestaan van ’n ateljee by TRUK vir jong operakunstenaars. In 1994 was sy lid van ’n paneel beoordelaars by die Transnet/UNISA -internasionale sangkompetisie in Pretoria. Sy het in 1997 opgetree tydens die internasionale première van Roelof Temmingh se Sacred Bones by die Nico Malan (deesdae Kunstekaap)-teater in Kaapstad.

Sy is in 1970 met die liriese tenoor Wolfram Assmann getroud maar hulle het skaars saam opgetree voordat hy ’n paar jaar later afgetree het. Benewens haar optredes in operaproduksies het sy ook sanglesse gegee.

Sy is op 10 April 2004 in die ouderdom van 65 aan kanker oorlede.

Daantjie Badenhorst