MARTIE PRELLER (1948-2023)
Martie Preller was ’n Afrikaanse skrywer wat veral bekendheid vir kinder- en jeugboeke verwerf het.
Sy is op 2 November 1948 as Martie Coetzee in Potchefstroom gebore, het haar laerskoolloopbaan aan die Laerskool Mooirivier voltooi en in 1966 aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer. Na matriek het sy aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-Universiteit) gestudeer en haar BA-graad met Engels en Latyn as hoofvakke cum laude verwerf. In 1970 het sy haar onderwysdiploma cum laude verwerf. Daarna het sy by haar alma mater gaan skoolhou en Latyn en Engels gegee. Sy is in 1972 met Johan Preller getroud.
In 1973 het sy en Johan na Johannesburg verhuis, en sy het Engels en Latyn aan die Hoërskool Fakkel onderrig. Hul oudste kind, Siegfried, is in 1974 gebore, gevolg deur Johan (junior) in 1976 en Martie (junior) in 1978. Dit was egter eers in 1985 wat sy vir die eerste keer begin skryf het. Dit het gebeur nadat Susan Gouws, ’n vriendin van haar wat ’n dosent aan die Sebokeng Onderwyskollege in Vanderbijlpark was, haar genader het om ’n stuk te skryf vir die Afrikaanse Toneel vir Onderwyskolleges (ATO) se toneelkompetisie. Die gevolg was Die groot slang en die ongehoorsame kind; ’n Tsonga-legende. Hiermee het Sebokeng die ATO se kompetisie van 1986 gewen. Dit was ’n groot hupstoot vir Martie se skryfloopbaan en in 1989 word Moditjhaba deur Via Afrika Uitgewers aangewys as die beste oorspronklike stuk op die Interkollege Dramafees wat in Vanderbiljpark aangebied is.
Haar skryfwerk is egter ’n paar jaar lank op die agtergrond geskuif toe sy by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) op eerste-, tweede- en derdejaarsvlak in die sielkunde gestudeer het. Sy het ook haar honneursgraad in sielkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) behaal. Sy het haar ingeskryf vir ’n meestersgraad in dieselfde studierigting maar toe sy nie gekeur is nie, was sy eintlik verlig, want sy het besluit om haar hart te volg en voltyds te skryf. In 1990 is vier van haar verhale in die bundel vir standerd 5 (graad 7)-leerders, bekend as Die wind sal weet, wat deur Tafelberg Uitgewers verskyn het, ingesluit.
Nadat sy haar studies in die sielkunde afgehandel het, het haar loopbaan as skrywer behoorlik vlamgevat. In 1992 het haar eerste kinderverhaal, Jy en die draakakkedis in Afrikaans en You and the dinosaur in Engels, by Van Schaik-uitgewers verskyn. Dit was die eerste kies-jou-eie-avontuur-boek wat in Afrikaans verskyn het. Elizabeth Pulles was verantwoordelik vir die illustrasies in swart en wit wat die teks goed aangevul het. Sy het dit begin skryf toe een van haar kinders siek was omdat sy gedink het ’n mens sal beter voel wanneer jy eers ’n mooi storie gehoor het. Sy het hope navorsing gedoen voordat sy dit begin skryf het, onder meer by die Universiteit van die Witwatersrand, die RAU (vandag die Universiteit van Johannesburg) en by ISKEMUS (Instituut vir Kinderlektuur en Media van die Universiteit van Stellenbosch).
In 1992 het sy vir die eerste keer ’n prys vir haar skryfwerk gewen toe ’n manuskrip van haar Boskapades die landwye kompetisie van Jong Dames Dinamiek vir kinderverhale gewen het. Haar volgende kies-jou-eie-avontuur-boek was Jy en Hercules in 1993, gevolg deur Jy en Toetenkat in 1994. In 1996 wen Jy en Toetenkat dieselfde toekenning in die kategorie van agt- en negejariges.
In 1994 het Nicola B: Streng privaat, haar eerste boek vir tieners, verskyn. Dit vertel die verhaal van Nicola Benade, ’n veertienjarige meisie in wie se lewe niks opwindends gebeur nie, totdat ’n groep terroriste in hul skoolsaal instorm en haar en vier ander leerlinge as gyselaars aanhou. Haar tweede boek vir tieners, Anderkantland, het ook groot sukses behaal; dit is bekroon met die Silwer-Sanlam-prys vir Jeuglektuur in 1994 asook die CP Hoogenhout-medalje vir die beste kinderboek van 1994/95.
In 1996 en 1998 het Martie ’n reeks van vier boeke vir die tienermark met Tersia Thom, ’n universiteitstudent wat graag speurverhale skryf, as hoofkarakter. Haar assistent, die ewe mooi Helga, is ’n deeltydse model. Die reeks is losweg op die Nancy Drew-reeks gebaseer en hoewel die karakters en hul ontwikkeling skynbaar oppervlakkig is, is die intriges tog boeiend. Met haar volgende tienerboek, In die tyd van Esob, wat in 1996 vrygestel is, het sy die Sanlam-prys (goud) vir jeuglektuur gewen. Petra Muller, wat die aanbeveling vir hierdie toekenning geskryf het, het dit beskryf as werklik waagsame jeugfiksie wat nie gewoonlik in Afrikaans voorkom nie.
Dit was egter met die skepping van Balkie en Babalela wat Martie haar in die harte van kinders gevestig het. Sy het Balkie vir ’n rubriek in Rooi Rose geskep en in 2000 het die eerste Balkie-boek verskyn. Balkie is in 2001 bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Alba Bouwer-prys vir jeuglektuur. In 2000 het Babalela, wat in ’n diep, donker bos gewoon het, verskyn en ook diep in kinders se harte ingekruip. Babalela is die Sotho-woord vir “kleintjie”. Die opvolg, Diep, diep in ’n donker bos, is in 2006 met die Tienie Holloway-medalje bekroon. Met Die hart van Zeebak, ’n wetenskapfiksie-verhaal, wat in 2004 by Tafelberg-uitgewers verskyn het, het Martie weer ’n storie vir tieners van hoogstaande gehalte gelewer.
Sy is op 6 Maart 2023 in die ouderdom van 74 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst