MARZANNE LEROUX-VAN DER BOON (1940-2022)
Die Afrikaanse skrywer Marzanne le Roux-Van der Boon is 17 Augustus 2022 oorlede.
Marthé Suzanne Steenkamp is op 26 Desember 1940 in Somerset-Wes gebore. Haar pa was ’n versekeringsagent wat weens die aard van sy werk gereeld moes verhuis. Sy het in die Boland grootgeword en was ’n leerder by altesaam agt skole totdat sy in 1958 aan die Hoër Meisieskool Worcester gematrikuleer het. Hierna het sy haar as onderwyseres bekwaam, eers met ’n diploma in Laer Onderwys aan die Oudtshoornse Onderwyskollege en later aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Hoewel sy in ’n godsdienstige huis grootgeword het, het sy eers in 1972 in ’n charismatiese kerk tot bekering gekom. Daarna het haar Christenskap ’n baie belangrike faset van haar lewe geword.
Sy het by verskeie skole onderwys gegee en betrokke geraak by die Begaafde Kind-projek van die Kaapse Onderwysdepartement. Tot aan die einde van 1992 was sy ’n Afrikaansonderwyseres aan die Rudolf Steiner Waldorf-skool in Worcester. Daarna was sy deeltyds werksaam by die ATIC-Vigs-sentrum as berader en het op die uitvoerende bestuur van die Afrikaanse Skrywersvereniging gedien. Sy het ook ’n gereelde rubriek vir die tydskrif Leef geskryf.
In 1962 is sy getroud met Niel le Roux wat in die bankwese werksaam was, en twee kinders is uit die huwelik gebore. Nadat hulle in 1985 geskei is, is sy in 1988 getroud met Bob van der Boon, ’n Nederlander wat as mariene skeepsloods in Kaapstad gewerk het en twee kinders uit ’n vorige huwelik het. Sy en haar man het gereeld gereis en by die plekke wat hulle besoek het, het sy stof vir haar verhale ingesamel het. Sy het die Zion Chronicles-boekreeks vertaal en dit het haar gemotiveer om Israel sewe keer binne twee en ’n half jaar te besoek. Dit het tot ’n uitgebreide reeks romans oor Israel gelei.
Vanaf ’n jong ouderdom het sy baie gelees en dikwels geskryf. Sy het tien jaar lank ’n dagboek gehou en van 1971 het sy verhale vir tydskrifte soos Sarie begin skryf. Haar eerste vervolgverhaal in Sarie is later in boekvorm as Seisoen op ’n verlate strand gepubliseer. Haar eerste romans, Elizabeth se kind, Die weerloses en Voor dit lig word, is aanvanklik as vervolgverhale gepubliseer. Klaprose teen die wind het die aandag getrek deur Vigs en homoseksualiteit as temas aan te durf teen die politieke werklikhede van Suid-Afrika. Sy het in 1993 die prestige-prys van die FAK en die Kaaplandse Helpmekaarstudiefonds daarmee gewen, en in dieselfde jaar is sy vir ’n Rapport-prys benoem. Soos honde van die hemel het die verlede op die vooraand van Suid-Afrika see eerste volle demokratiese verkiesing ondersoek. Die problematiek van hierdie tyd het hierin aandag geniet, veral temas soos rassemoord, kindermishandeling, problematiese liefdesverhoudings, verkragting en Calvinisme met godsdienstige wroeging. Hierdie twee romans is later saam onder die titel Skadu’s van gister uitgereik.
Sy het ’n reeks boeke oor Israel en sy stryd om oorlewing geskryf; hierin het sy daarin geslaag om ’n groot hoeveelheid inligting oor die Joodse geloof, hul seremonies en die politiek van Israel weer te gee. Granate bloei in Jerusalem het die kunstenaar Marc Krige se soektog na sy Joodse verlede en verbintenis uitgebeeld. Die ATKV-prys en die Christelike Boekhandelaars van Suidelike Afrika (CBSA) se fiksieprys is in 2004 aan haar toegeken. Dit is ook in Engels en Nederlands vertaal.
Daarby het sy ook kortprosa geskryf, soos Dawid se jubeljaar, ’n kortverhaalbundel waarin die hoop op herstel, geluk en genesing te midde van swaarkry die middelpunt gevorm het. Al hierdie verhale is sterk gefundeer in Christelike beginsels. Lewensblik was ’n keur uit haar essays oor die lewe wat in die tydskrif Leef verskyn het. Dit het die lewe se uitdagings as tema gehad, onder meer die afwagting en onsekerheid van reis en verhuis en die kommer en trauma van siekte en dood maar ook die vertroosting wat in die Here se liefde en genade gevind kan word.
Sy het ook jeugverhale waarin die dood, die liefde, asook verhoudings met mense en God deurlopende temas was, geskryf. In Somernagdroom het die jeugliefde en al die probleme wat daarmee gepaard gegaan het, ter sprake gekom, en Die wag vir die somer het ’n jong man wat bloedkanker gekry het en die moontlikheid van sy eie dood in die gesig moes staar, ter sprake gekom. Liefde oor kleur- en kultuurgrense was die sentrale tema van Luc en Libertine; dit het veral kwessies soos regstellende aksie, armoede en apartheid bespreek.
As vertaler het sy haar toegespits op Christelike leesstof; onder meer Cherie Fuller se Gesinne wat bid en Die ma wat jy graag wil wees, Kathy Hawkins se Die moed van ’n leeu en Die hart van ’n vreemdeling en Bode Thoene se Dogter van Sion.
In 2004 het die Afrikaanse Skrywersvereniging haar met die Patrick Petersen-prys vereer vir haar skryfwerk.
Daantjie Badenhorst