MIN SHAW

Min Shaw is ’n Afrikaanse sangeres en aktrise wat veral bekendheid vir kommersiële Afrikaanse en kontemporêre Christelike musiek verwerf het.

Wilhelmina Jacoba Viviers is op 26 November 1934 in Johannesburg gebore en het aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar gematrikuleer; drie jaar na die operasangeres Mimi Coertse. Na skool het sy haar as onderwyseres bekwaam. Sy het aanvanklik in Johannesburg en Benoni in restaurante opgetree, en in 1961 het sy ’n talentkompetisie op die kusdorp Margate gewen. Die eerste prys was ’n reis na Londen; hier het sy vir die eerste keer op televisie opgetree.

Sy het haar eerste plaatopnames op aandrang van die orkesleier Dan Hill gemaak en haar debuutalbum, ’n Nooi soos Min, het in 1966 verskyn. Sy het “Die oukraalliedjie” omtrent dieselfde tyd as Groep Twee opgeneem, en onder die ander snitte op hierdie album was “Kleine nagtegaal”, wat haar eerste enkelsnit was, “Tuiskoms”, “Sê my waarom” en “U eie dag”. Haar volgende album, Die laaste wals, wat in 1967 uitgereik is, was haar eerste een vir Brigadiers, met Albie Venter as regisseur. Dit het treffers soos “Stap saam met my deur die land van son”, “Skemeraand” en “Liefdesdrome” bevat. Haar eerste Christelike album, Min Shaw sing minsaam, het in dieselfde jaar verskyn en snitte soos “Saggies en teer”, “Kom herwaarts getroues”, “Stille nag”, “Bethlehem ster” en “Die Heiland is gebore” bevat. Haar groot deurbraak as aktrise het teen die einde van daardie jaar gekom toe sy teenoor Gé Korsten en Lindie Roux in die uiters gewilde rolprent Hoor my lied gespeel het. Hulle het ’n groot sukses met hul opname van Olaf Andresen se trefferliedjie “Die heidelied” behaal.

Haar album Wilhelmina, wat in 1968 vrygestel is, het ’n spul treffers opgelewer, veral “Ek is baie lief vir jou”, “Haai haai”, “Vasbyt daar op die grens”, “Liefde is vir almal daar” en “Eenmaal verlief altyd verlief”. Haar volgende album, Eensaam, het in dieselfde jaar verskyn, met snitte soos “Hanswors”, “Herdenkingslied” en “Ek sal jou nooit vergeet nie”. Haar grootste treffer van die jaar was egter ’n liedjie wat toe al byna dertig jaar oud was. Sy het teenoor Franz Marx in die rolprent Jy is my liefling, waarin Groep Twee ook te sien was, gespeel en die temaliedjie was ’n nuwe opname van Cissie en Willie Cooper se treffer, wat van voor af gewild geword het. Albie Venter het ook met die idee vorendag gekom dat Lance James haar gereelde sangmaat moes word, en hul eerste album, Bymekaar, is in 1968 vrygestel. Die titelsnit was een van die groot treffers vanaf die album; die ander snitte wat gewild geword het, was “Aandlied van die voëls”, “Kokkewiete”, “Dink aan my” en “Tahiti”. Haar eerste kinderalbum, Sing ’n lekker liedjie, wat sy saam met die Unika-kleuterskool opgeneem het, het ook in hierdie jaar verskyn.

Lance se sangstem is in 1969 oorgeklank vir Franz Marx, wat die hoofrol in Die Danie Bosman-storie, die lewensverhaal van die grootste Afrikaanse komponis op daardie stadium, vertolk het. Bosman was sy tyd vooruit, aangesien hy in 1946, meer as dertig jaar voor die ontstaan van die grensverskuiwende Musiek-en-Liriek-beweging, oorlede is. Min het die rol van Bosman se vrou Dorothy vertolk en Min en Lance was verantwoordelik vir die klankbaan van die rolprent. In dieselfde jaar het Min weer ’n solotreffer gehad, hierdie keer met die titelsnit vanaf haar album My blonde visserman. Min en Lance se album Gebed van ’n jong meisie, wat in dieselfde jaar vrygestel is, het die treffers “Bloedrooi die rose” en “Lente in Switserland” opgelewer. Asof dit nie genoeg was nie, het hulle nóg ’n duetalbum, Silwer en blou, met die treffers “Liefde regdeur die jaar” en “Boetie sy’s ’n perskeblom” opgeneem.

Sy het in 1970 drie soloalbums vrygestel; haar eerste album was Love is a beautiful song, wat ook die treffers “Bobby” en “Fill the world with love” opgelewer het. Haar album Groete het die treffers “Lied van die duif” en “Die spook” opgelewer. Daarby het sy nog ’n kinderalbum saam met die Unika-kleuterskool opgeneem; onder die treffers vanaf hierdie album was “Langbeen die groot matroos”, “As Ma, Pa, Boetie, Sussie, ek en jy gaan kuier by die see”, “Antjies die rooibruin hen”, “Die wit hondjie”, “Mieliepap” en “Die dierekonsert”. Sy was weer eens daardie jaar in ’n rolprent te sien toe sy die rol van ’n kerkorreliste in Lied in my hart teenoor Gé Korsten vertolk het. Sy en Lance het die album Verlang na my vrygestel, met “Suikerbossie was haar naam”, “Rooi die rose rooi die lippe” en “Sy ou kitaar” as treffers.

In 1972 het Min en Lance net een album vrygestel, naamlik Min en Lance sing, met die treffers “Ek wil ’n nuwe liedjie sing”, “Solank daar treine loop” en “Aanhouer kan net wen”. In 1975 het hulle die temaliedjie uit die rolprent Ma skryf matriek, naamlik “Ek sing liefling”, vrygestel. Dit was die titelsnit van hul laaste duetalbum vir ses jaar, aangesien Min besluit het om haar daarna uitsluitlik op kontemporêre Christelike musiek toe te spits. Haar eerste twee Christelike albums, I’d rather have Jesus en Ek wandel met Hom, is in 1973 uitgereik. Sy het ook die Christelike album What a friend saam met Gert van Tonder, wat toe nog lid van Groep Twee was, opgeneem.

In 1982 het Min en Lance hul volgende album met die gepaste titel, Weer bymekaar, vrygestel. Hierop het hulle Lance se treffer “Dankie” opgeneem, asook ander bekende treffers soos “Kinders van die wind”, “Sproetjies”, “Daar’s niks soos ware liefde” en “Ek verlang na jou”. Die grootste treffer vanaf die album was egter “Swerwerslied”, die temaliedjie uit die oorgeklankte televisiereeks Die meisie van Avignon, met woorde geskryf deur Hein Toerien.

Natuurlik is dit onmoontlik om melding te maak van al die liedjies en albums wat sy deur die jare opgeneem het; sy het meer as sewentig albums vrygestel en meer as 800 liedjies opgeneem.

Sy het deur die jare drie Sarie-toekennings, asook twee goue plate, ’n platinumplaat en ’n dubbele platinumplaat verwerf. In 1996 het die ATKV haar vereer vir die bevordering van ligte Afrikaanse musiek. In 1996 is die versamelalbum Onthou jy nog?, met Min en Lance se grootste treffers op CD uitgereik, gevolg deur die dubbele CD, The heart and soul of Min Shaw, ’n versameling van haar grootste kommersiële treffers en Christelike liedjies, drie jaar later.

Sy is in 1989 met Willie van Blerk getroud; hy is in September 2016 in die ouderdom van 76 jaar aan kanker oorlede. Later dieselfde jaar het sy ’n musiekvideo van haar weergawe van Cora-Marie se treffer “Gee haar ’n roos” in Hermanus verfilm, presies vyftig jaar nadat Hoor my lied in dieselfde omgewing verfilm is. Op 1 Maart 2017 is ’n dokumentêre program oor haar lewe as deel van die reeks Die legendes van Afrikaanse musiek op kykNET uitgesaai. In 2019 vereer die FAK haar en Lance James tydens die Afri-Duetfees met die FAK Prestige-toekenning vir hulle bydrae tot Afrikaanse musiek vir 50 jaar. Lance James is op 2 Maart 2020 in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Min vier vandag, op 26 November 2024, haar negentigste verjaardag.

Daantjie Badenhorst