MONICA BREED (1923-2021)

Die veteraan-aktrise, radio-omroeper en skrywer Monica Breed is in die ouderdom van 98 jaar aan orgaanversaking oorlede.

Wilhelmina Monica Breed is op 28 Maart 1923 op Reitz in die Vrystaat gebore en het aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Reeds in haar matriekjaar het sy ’n toneelstuk saam met ’n skoolmaat vir opvoering tydens die skool se matriekafskeid geskryf.

Na skool het sy aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gaan studeer en ’n BA-graad, asook ’n Unie-onderwysdiploma verwerf. In 1947 het sy by die SAUK aangesluit, maar van 1949 tot 1952 saam met Anna Neethling-Pohl in die buiteland gereis, veral deur Engeland en Wes-Europa, waar sy radioprogramme vervaardig en uitgesaai het. Sy het daar uitgesaai en met haar terugkeer het sy ’n tyd lank as taalhersiener by die Nasionale Boekhandel Beperk se uitgewersafdeling in Kaapstad gewerk.

In 1952 het sy weer by die SAUK aangesluit, en vanaf 1962 was sy vanuit Durban die organiseerder van die drama-afdeling van die SAUK se Afrikaanse radiodiens. In hierdie tyd was sy betrokke by die afrigting van en deelname aan toneelspel vir die radio en die verhoog. Sy was ook die aanbieder van die program Vrouerubriek op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Daarby het sy baie jare lank kleuterprogramme vir die radio geskryf en aangebied, dikwels saam met Esmé Euvrard, en ’n langspeelplaat met haar verwerkings van sprokies soos Aspoestertjie, Die gestewelde kat, Rooikappie, Sneeuwitjie en Die lelike eendjie, voorgelees deur Esmé Euvrard, is vrygestel. Verder het sy verskeie radiodramas en hoorspele geskryf, onder meer ’n hoorspel oor die lewe van Emily Hobhouse, en sy het die regie van ’n aantal radiodramas behartig. Haar hoorspel, “Gee mekaar die regterhand”, is in 1966 opgeneem in die versamelbundel Debuut, versorg deur Ciska en Francois Marais, asook in Die reënboom en ander eenbedrywe en Jan Spies se Klein begin in die drama. Soos die titel aandui, handel “Gee mekaar die regterhand” oor die huwelik; dit was ’n amusante stuk met heelwat konflikte maar waarin die spanning nooit regtig ’n hoogtepunt bereik nie en geskille maklik opgelos is.

Monica was te sien in televisiereekse soos Phoenix en Kie, Sondaarspoort, Trompie en die Boksombende en Die jare daarna, asook rolprente soos Huis op horings en Die vlindervanger. Sy was as stemkunstenaar verantwoordelik vir die stemme van Kwaaitjie Kabouter in Liewe Heksie en Piet Muis in Haas Das se nuuskas.

Na 33 jaar se diens aan die SAUK het sy afgetree, maar steeds vryskutwerk gedoen totdat haar sig só verswak het dat dit naderhand onmoontlik geword het. Sy het in haar laaste jare in ’n aftreeoord in Pretoria gewoon.

deur Daantjie Badenhorst