NICO CARSTENS (1926-2016)

Nico Carstens was een van ons land se heel bekendste trekklavierspelers en komponiste wat internasionaal bekendheid verwerf het met sy komposisie “Zambezi”.

Nicolaas Cornelius Carstens is op 10 Februarie 1926 in Kaapstad gebore. Hy het sy eerste trekklaiver gekry toe hy dertien jaar oud was en ses maande later sy eerste musiekkomposisie gewen. Sy eerste komposisie het die lig gesien toe hy sewentien jaar oud was, en gedurende sy leeftyd het hy ’n verdere 1200 komposisies geskryf.

Soos baie ander musikante van die 1940’s en 1950’s het hy deur die leerskool van Hendrik Susan se orkes gegaan. Hy was negentien jaar oud toe Hendrik Susan hom raakgesien het en ’n proeftydperk van drie maande het vyf jaar geword. Hy het egter in 1950 weggebreek en sy eie orkes gestig. Onder die bekendes wat saam met hom opgetree het, was die kitaarspelers Ricardo Bornman, Hansie Roodt en Tienie Coetzer, die klavierspelers Duffy Ravenscroft en Taffie Kikilus, die konsertinaspelers Neels Steyn, Adam Grobler en die tromspelers Jack Sloane en Frank Busa. Clive Calder, wat later internasionale bekendheid as musiekregisseur verwerf het, het die baskitaar in Nico se orkes bespeel terwyl sangers soos Jurie Ferreira, Al Debbo en die Drie Petersen-broers saam met hom opgetree het.

Nico het musiek begin komponeer toe die rolprent Kom saam vanaand vervaardig is. Hierdie rolprent, met Pierre de Wet as regisseur, was die eerste musiekrolprent in Afrikaans en het in 1949 die lig gesien. Dit was ook die eerste rolprent waarin Al Debbo en Frederik Burgers saam as akteurs opgetree het. Jan Bruyns, Dirk Lourens, Betsy de la Porte en Pierre de Wet was ook deel van die rolverdeling.

In 1950 het hy sy eerste plaatopnames gemaak en in die volgende jaar het hy liedjies saam met Anton de Waal begin skryf. Hierdie vennootskap het geduur tot Anton se dood in 1974. Hulle het saam meer as seshonderd liedjies die lig laat sien, en seker die bekendste hiervan was “Hasie”, wat Al Debbo in Kom saam vanaand gesing het. Onder die ander bekende liedjies wat hulle saam geskryf het, was “Apie het sy stert verloor”, “Dis lekker om te lewe” (uit die gelyknamige rolprent waarin Al Debbo en Frederik Burgers die hoofrolle vertolk het), “Daar’s ’n wind wat waai”, “Bloubergstrand”, “Riksjabooi”, “’n Vlooi is ’n ding wat byt” en “Sousboontjies”.

In 1970 het hul komposisie “Die tantes van Nantes” so gewild geword dat Al Debbo die elfde plek op Springbok Radio se Top 20 daarmee gehaal het. In 1969 het hy en Al Debbo saam in die rolprent Stadig oor die klippe opgetree; hier het Al sy kritici finaal oortuig dat hy ware sangtalent gehad het en nie net ’n akteur en komediant was nie. Onder die ander rolprente waarin Nico en sy orkes opgetree het, was Dis lekker om te lewe, Nooi van my hart, Hou die blink kant bo, Jy’s lieflik vanaand en ’n Plan is ’n boerdery.

Nico se musiek het gemaak dat baie mense vir die eerste keer na Afrikaanse musiek begin luister het; baie musiekliefhebbers het hom beskou as die kunstenaar wat Afrikaanse musiek uit ’n groef gehaal het en variasie en ritme daaraan gegee het. Hy was die eerste Afrikaanse kunstenaar waarvan ’n miljoen langspeelplate verkoop is. In 1959 is ’n goueplaattoekenning ter viering van hierdie besondere mylpaal aan hom oorhandig. Sy musiek is op altesaam 77 langspeelplate en 26 kortspelers vrygestel. Hoewel hy daarin geslaag het om die konsertina en die trekklavier te laat saamsmelt, het hy ’n broertjie dood gehad aan die etiket van Boeremusiek wat om sy nek gehang is. Nogtans het sy orkes van 1965 tot 1970 elke jaar die Sarie-toekenning vir die beste Boereorkes gewen. Later het sy orkes ses jaar lank as die residentorkes in Ollie Viljoen se televisiereeks Spies en Plessie opgetree. Vir hierdie program het hulle ’n Artes-toekenning ontvang. In 1992 het Nico en sy orkes aan die tweejaarlikse TV-Boereorkeskompetisie, wat daardie jaar vir die laaste keer aangebied is, deelgeneem. Hulle het tot die halfeindronde van hierdie kompetisie deurgedring.

Die een komposisie waarvoor hy altyd onthou sal word, is “Zambezi”. Hy het dit vir die eerste keer in 1953 opgeneem, maar dit het eers in 1958 ’n internasionale treffer geword nadat die Britse trompetspeler Eddie Calvert dit opgeneem het. Sedertdien het die Duitse orkesleier Bert Kaempfert en die kitaargroep The Shadows suksesvolle opnames daarvan gemaak. In 1982 het die Britse ska-groep The Piranhas ’n vokale opname daarvan gemaak; Bob Grover, wat ’n lid van die groep was, het woorde daarvoor geskryf en dit het die eerste twintig op die Britse treffersparade gehaal.

Onder sy ander komposisies wat treffers geword het, was “Klokkiewals”, “Lente in Switserland”, “Warmpatat”, “Skokiaan”, “Jampot-polka”, “Hy-ba-ba-rie-bab” en die skreeusnaakse “Kersvet en konfetti”. Verskeie musiekgenres het ’n invloed op hom uitgeoefen, onder meer Kaapse Maleise musiek, musiek uit die swart townships en ander inheemse Suid-Afrikaanse musiek.

Hy was sewe keer getroud, maar het net vyf vroue gehad omdat hy twee keer met twee van sy vroue getroud was. Hy het op 69-jarige ouderdom teruggekeer na Kaapstad en tydens die Grahamstadse Kunstefees van 1994 weer opgetree. Hy is op 1 November 2016 in die ouderdom van negentig jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst