PK LE ROUX (1904-1985)
PK le Roux was ’n Nasionale Party-politikus wat ’n minister in die kabinette van drie Suid-Afrikaanse eerste ministers was.
Pieter Mattheus Kruger le Roux , wat as PK le Roux bekendgestaan het, is op 11 November 1904 op die plaas Doornhoek in die De Rust-distrik naby Oudtshoorn gebore. Nadat hy aan die Hoërskool Outeniqua op George gematrikuleer het, het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy het in die Wilgenhof-koshuis tuisgegaan en die graad BSc (Landbou) behaal.
Hy het in 1943 vir die eerste keer aan ’n verkiesing deelgeneem toe hy ’n kandidaat vir die Bredasdorp-kiesafdeling was. Hy het egter 42,9% van die stemme op hom verenig, teenoor majoor PVG van der Byl van die Verenigde Party se 56,5%. In 1948 was hy weer ’n kandidaat vir die Nasionale Party, hierdie keer in die kiesafdeling Victoria-Wes. Hy is net-net tot parlementslid verkies, met 49,7% van die stemme teenoor die 49,4% van die Verenigde Party se kandidaat, JM Connan. Hierdie twee kandidate het in 1953 weer in ’n verkiesing teen mekaar te staan gekom, hierdie keer in die kiesafdeling Prieska, en Le Roux het sy meerderheid vergroot.
In 1955 is hy as hoofsweep van die Nasionale Party in die parlement aangewys, en in 1958 is hy in advokaat JG Strijdom se kabinet as minister van waterwese en landbou-tegniese dienste aangestel. Toe Strijdom daardie jaar oorlede is en dr. Hendrik Verwoerd hom opgevolg het, het Le Roux sy kabinetspos in dieselfde portefeulje behou. Hy was dwarsdeur Verwoerd se bewind in hierdie portefeulje en toe Verwoerd in 1966 in ’n sluipmoordaanval dood is, het sy opvolger, advokaat BJ Vorster, hom as minister van binnelandse sake aangestel. Hy het hierdie portefeulje tot 1968 behartig, waarna hy uit die politiek getree het.
Le Roux het ’n groot rol gespeel in die vestiging van die Oranjerivier-besproeiingskema, en was die stigter en voorsitter van die Klein Karoo Landboukoöperasie op Oudtshoorn. Hy was lid van die plaaslike boerevereniging, en het op die bestuur van die Suidwestelike Landbou-unie en die Suid-Afrikaanse Landbou-unie gedien.
Die PK le Roux-dam, wat nou bekend is as die Vanderkloofdam, is na Le Roux vernoem, asook PK le Roux-straat in Kuilsrivier in die Wes-Kaap. Die Vanderkloofdam is 130 km stroomaf van die Gariepdam en naby die Noord-Kaapse dorp Petrusville geleë. Konstruksie van die dam het in 1973 begin, en die dam is in 1977 geopen. Dit is die tweede grootste dam in Suid-Afrika.
Le Roux is op 23 Junie 1985 in die ouderdom van tagtig jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst