SCHALK PIENAAR (1916-1978)

Schalk Pienaar was ’n Afrikaanse politieke waarnemer, joernalis en koerantredakteur wat nie bang was om die regering se beleid van apartheid te kritiseer nie.

Hy is op 28 Julie 1916 op Merwewille in die Karoo, waar sy pa die eerste plaaslike NG-predikant was, gebore. In November 1918 het sy pa egter ’n slagoffer van die griep-epidemie geword. Daarna het sy ma Sarie, ’n suster van die Springbok-rugbykaptein Paul Roos, saam met haar drie seuns en haar aangenome dogter op haar ander broer, Tielman, se plaas naby Stellenbosch gaan woon, maar mettertyd dorp toe verhuis. Die broers het eers by ’n plaasskool en toe by die Hoër Jongenskool Stellenbosch waar sy oom Paul die rektor was, skoolgegaan. Hierdie skool is later herdoop na Paul Roos Gimnasium, waar Roos van 1910 tot met sy aftrede in 1940 rektor was. Soos sy ouer broer Johannes het Schalk die Rhodes-beurs verwerf nadat hy in 1932 gematrikuleer het en in 1935 het hy die BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal met geskiedenis en tale as hoofvakke. Hy het ook agtsteman vir die eerste rugbyspan gespeel en as leier in die studentegemeenskap gedien. Hy het sy studie aan die Universiteit van Oxford gestaak nadat ’n reëling van die Rhodes-sekretariaat bepaal het dat hy eerstejaarswerk moes verrig. Hy het dit as ’n vermorsing van tyd beskou.

In Mei 1937 het hy hom as verslaggewer by Die Burger aangesluit en die volgende jaar deurlopend en onderhoudend oor die Simboliese Ossewatrek ter viering van die eeufees van die Groot Trek verslag gedoen. Sy verslae het die gees van hierdie groot gebeurtenis weergegee en die behoefte het by hom ontstaan om meer van die geskiedenis te leer. Daarom het hy in 1940 onbetaalde verlof geneem om terug te gaan na Stellenbosch en ’n driejaarkursus in geskiedenis binne ’n jaar te voltooi. Die volgende jaar het hy parlementêre verslaggewer van Die Burger geword. In 1945 het hy die redakteur van Die Oosterlig in Port Elizabeth geword, maar na minder as ’n jaar terug verplaas na Kaapstad as assistentredakteur van Die Burger, waar hy tot 1965 gebly het. Sy daaglikse parlementêre indrukke het al hoe meer aandag getrek; volgens Piet Cillié, die jarelange redakteur van die Burger, was dit nie net as gevolg van sy politieke insig nie, maar ook sy kenmerkende skryfstyl wat van alle oorbodigheid gestroop is.

In 1949 het hy ’n uitgebreide reis deur Afrika onderneem, en hy is geïnspireer deur ontluikende Afrika-nasionalistiese sentimente wat hy op die hele kontinent waargeneem het. Hierdie ervaring het sy lewe verander en ’n invloed gehad op die werk wat hy vir die res van sy lewe sou lewer.

In 1965 het Nasionale Pers ’n nuwe Sondagkoerant, bekend as Die Beeld, in Johannesburg gestig en Pienaar is as redakteur aangestel. Dit het die hewigste sirkulasiestryd wat die Afrikaanse perswese tot op daardie stadium beleef het, afgegee omdat dit met die mededingende publikasie Dagbreek te staan gekom het. Binne vyf jaar het Die Beeld omtrent ’n miljoen lesers gehad en ’n gewigtige faktor geword in die woelinge in Nasionale Afrikanergeledere in die laat 1960’s geword. Onder sy leierskap het Die Beeld volgehoue pleitredes gegee vir die hervorming van Suid-Afrikaanse verhoudingspolitiek, terwyl sy onblusbare veggees, openhartige en, vir daardie tyd, skokkende beriggewing ondersteuners geïnspireer, owerhede gekwel en teenstanders met weersin vervul het.

Hy het egter nie net ’n politieke impak gemaak nie, want die inkleding van Die Beeld, waarmee hy die nuwe garde van die Sestigers bekendgestel en aangeprys het, sy kunskritiek, sportverslaggewing en ander rubrieke het ’n verrykende invloed op die Afrikaanse joernalistiek gehad. Anders as Dagbreek het Die Beeld ook heelwat Engelssprekende- en bruin lesers gehad. Die politieke en sosiale spanning rondom hom het egter sy gesondheid aangetas en kort voordat die twee moedermaatskappye, Nasionale Pers en die Afrikaanse pers in 1970 besluit het om Dagbreek en Die Beeld in een koerant bekend as Rapport saam te smelt, het hy die tuig as redakteur neergelê. Teen daardie tyd het die mededinging albei die vorige publikasies se sirkulasiesyfers verhoog tot vier keer meer as die hoogste syfer wat ’n Afrikaanse Sondagkoerant bereik het voor Die Beeld se koms. In die eerste helfte van 1965 was die sirkulasiesyfer van Dagbreek net meer as 164 000 eksemplare maar vier jaar later is daar byna 725 000 eksemplare van Dagbreek en Die Beeld saam verkoop. Die Beeld het teen die einde van die stryd skaars 10 000 eksemplare minder as Dagbreek verkoop. Hy is terug na Die Burger maar het sy politieke rubriek in Rapport voortgesit.

Teen 1974 het sy gesondheid tot so ’n mate verbeter dat hy ’n meer gedugte opdrag gekry het, naamlik om die hoofredakteur van die nuutgestigte dagblad Beeld te word. Dit was ’n teenvoeter vir die sewe dagblaaie wat destyds in Transvaal bestaan het, maar veral teen Perskor se dagblad Die Transvaler gemik was. Dit het ’n hewige stryd wat albei persgroepe dermiljoene gekos het, ontketen, maar Pienaar moes in Januarie 1975 na drie maande as hoofredakteur uittree weens swak gesondheid. Hy het by sy vakansiehuis in Franskraal gaan woon maar is in 1977 terug na Die Burger om die boekeblad te behartig.

Hy is op 12 Oktober 1978 in die ouderdom van 62 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst