SHEILA CUSSONS (1922-2004)
Sheila Cussons was ’n bekende Afrikaanse digter.
Sy is op 9 Augustus 1922 by die Moravia-sendingstasie naby Piketberg gebore , en hoewel sy van Ierse herkoms was, was die gesin se huistaal Afrikaans.
Sy het altesaam dertien skole bygewoon voordat sy eindelik aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gematrikuleer het. Sy het reeds begin teken toe sy twee en ’n half jaar oud was, en later het sy stories begin skryf. In Augustus 1935 het sketse wat sy gemaak het na aanleiding van De Wet Laubscher se gedig “Reënboogvlerkies”, saam met die gedig in Die Taalgenoot verskyn. Dit was die jaar nadat sy aan ’n Afrikaanse kunswedstryd deelgeneem het en waar eersteklasmedaljes aan vier van haar vyf inskrywings toegeken is. Toe sy ses jaar oud was, het haar eerste kinderversies in die ATKV se tydskrif Die Jongspan verskyn.
Sy het egter daarna eers in Engels begin skryf, want min mense het toe al in Afrikaans geskryf en die Engelse poësieskat was soveel ryker. In 1939 het sy ’n beurs ontvang om in die skone kunste aan die Universiteit van Natal te studeer, en in 1942 het sy haar BA-graad met lof verwerf, asook ’n goue medalje van die fakulteit af. Daarna het sy haar meestersgraad verwerf en haar hoër onderwysdiploma met dubbele onderskeiding geslaag. Haar kreatiewe digwerk het reeds op universiteit sterk na vore getree, en hoewel sy gedigte in Engels en Afrikaans geskryf het, het sy hoofsaaklik Engelse werk vir die Universiteit se jaarblaaie voorgelê.
Toe sy in Pietermaritzburg gewoon het, het die digter DJ Opperman, wat ’n Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, haar aangemoedig om meer in Afrikaans te skryf, en aangebied om eerlike kritiek op haar werk te lewer. Sy het aanvanklik nie daaraan gedink om haar werk te laat publiseer nie, maar eerder om te leer skryf. Toe sy op 19-jarige ouderdom haar werk wou laat publiseer, het Opperman gemeen dat dit te gou was; hy het egter ’n vroeë keur van haar verse saamgestel en dit is in 1946 in die publikasie Stiebeuel geplaas.
Sy is in 1943 met Stoffel Nienaber getroud, en voordat sy in 1948 na Europa vertrek het, was sy verbonde aan die Hugo Naudé-kunssentrum op Worcester. Met haar aankoms in Amsterdam het sy onder Theo Berrendanck in etswerk gestudeer en deel geword van ’n groep Afrikaners wat in Amsterdam gewoon en gewerk het. Sy het ook as vryskutjoernalis vir die Afrikaanse en Engelse senders van Wêreldomroep in Hilversum in Nederland gewerk, asook vir die BBC. Sy het haar gedigte nog steeds vir DJ Opperman gestuur, maar hy wou steeds nie publiseer nie. In daardie tyd het sy ’n verhouding met die digter NP van Wyk Louw aangeknoop en terwyl sy vrou Truida en hul kinders in Suid-Afrika agtergebly het, het Cussons en Louw se verhouding verinnig. Sy en haar man is in 1950 geskei en haar verhouding met Louw het ook mettertyd tot ’n einde gekom.
In 1957 het sy haar in die Spaanse stad Barcelona gevestig en die Rooms-Katolieke geloof aangeneem. Volgens haar het sy die Christendom toe eers heeltemal verstaan. Sy is met Juan de Saladrigas getroud, en twee seuns is uit die huwelik gebore. Vir die eerste dertien jaar in Barcelona was sy bloot huisvrou en ma. Haar debuut-digbundel, Plektrum, het eers in 1970 by Tafelberg-uitgewers verskyn, en dit is as seker die beste debuut in Afrikaans beskou. Dit is met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en WA Hofmeyr-pryse bekroon.
In 1974 was sy betrokke by ’n ernstige brandongeluk, wat gemaak het dat sy twee jaar lank in die hospitaal moes deurbring. Die punte van haar vingers aan albei hande is afgesit, asook haar linkerbeen onder die knie. Die oorlewing van hierdie ongeluk, asook die feit dat sy die lewe as gestremde moes aanpak, het getuig van haar wil om te lewe.
Die swart kombuis, haar bundel wat in 1978 verskyn het, is as ’n mylpaal vir Afrikaanse poësie beskryf. Sy het dit opgevolg met Verf en vlam, wat sy saamgestel het terwyl sy met vakansie aan die Spaanse kus was. In 1979 het sy Suid-Afrika vir die eerste keer in tien jaar besoek. Daarna het sy vyf digbundels in drie jaar vrygestel, onder meer Die sagte sprong, Die skitterende wond en Die somerjood. Die woedende brood, haar vyfde digbundel in drie jaar, is met die CNA- en Louis Luyt-pryse bekroon; dit het gemaak dat sy in 1982 besluit het om permanent terug te keer na Suid-Afrika. In Desember 1988 het sy egter voorlopig teruggekeer na Spanje vir die geboorte van haar eerste kleinkind. Haar laaste bundel, Die knetterende word, het verse in Afrikaans, Engels en Spaans bevat, en is met die WA Hofmeyr-prys bekroon. Tydens die Woordfees op Stellenbosch in 2002 is haar tagtigste verjaardag met woord- en skilderkuns gevier.
Sy is op 15 November 2004 in Nazareth House by Vredehoek naby Kaapstad oorlede.
deur Daantjie Badenhorst