SIEGFRIED MYNHARDT (1909-1996)

Meer as sestig jaar lank was Siegfried Mynhardt een van Suid-Afrika se mees veelsydige en pdroduktiewe akteurs; hy was nie net gereeld op die verhoog te sien nie, maar later jare ook in rolprente en op televisie.

Siegfried Charles Ferdinand Mynhardt is op 5 Maart 1909 in Johannesburg gebore. Hy het sy debuut as akteur in 1929 gemaak toe hy onder Hendrik en Mathilda Hanekom in die verhoogstuk Onskuldig veroordeel opgetree het. Hy het later deel van die geselskappe van Paul de Groot en André Huguenet geword. In die 1930’s het hy hom aangesluit by die Old Vic-teatergeselskap in Londen, maar teruggekeer na Suid-Afrika toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. In 1947 was hy ’n stigterslid van die Nasionale Toneelorganisasie. Hy het later gespeel vir TRUK en KRUIK (onderskeidelik die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste en die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste). Hy was onder meer in Engelse toneelstukke soos Heartbreak House, The Affair, Child’s Play en The Miser te sien. In 1972 het Siegfried en die akteur Michael Mayer vir waarskynlik die eerste gay soen gesorg het toe hulle in die dramaturg Robert Kirby se toneelstuk Gentlemen opgetree het.

Siegfried was jare lank ook ’n uiters gesogte rolprentakteur. Een van die mees omstrede Afrikaanse rolprente van die 1960’s was Debbie, waarin die gelyknamige karakter swanger geraak het voordat sy getroud is. Hierdie rolprent het destyds ’n baie hoë ouderdomsbeperking gehad nadat dit aanvanklik heeltemal verbied is. Siegfried het die rol van die titelkarakter se pa vertolk. In 1968 het Siegfried teenoor Franz Marx en Min Shaw in die trefferrolprent Jy is my liefling gespeel en die volgende jaar was hy ook teenoor hulle in Die Danie Bosman-storie, die lewensverhaal van die gelyknamige Afrikaanse liedjieskrywer. Een van die beste Afrikaanse rolprente van die 1960’s was Dr. Kalie, waarin hy die titelrol vertolk het. Onder die ander akteurs wat in hierdie rolprent, wat in 1968 vrygestel is, te sien was, was Johan du Plooy, June Seymour, Wena Naudé, Reinet Maasdorp en Brian O’ Shaugnessy.

In die 1970’s was Siefgried in minstens drie rolprente teenoor Wena Naudé te sien. Dirk de Villiers se komedie Tant Ralie se losieshuis, wat in 1974 vrygestel is, was só gewild dat ’n opvolgrolprent, Troudag van Tant Ralie, die volgende jaar uitgereik is. Sann de Lange, Riana Pienaar en George Ballot was in eersgenoemde rolprent te sien. In 1976 het Wena en Siegfried weer saamgespan vir ’n suksesvolle komedie, naamlik Daar kom tant Alie, saam met Marius Weyers, Tobie Cronjé, Wilna Snyman, Annelisa Weiland en Danie Smuts. Jan Scholtz het die draaiboek na aanleiding van Mike Heine se radiovervolgverhaal geskryf. In Manie van Rensburg se rolprent Die bankrower, wat in 1973 vrygestel is, het hy die rol van Sampie Olwagen vertolk.

In die beginjare van Suid-Afrikaanse televisie was Siegfried te sien in die komediereeks Dokter dokter, waarin hy die rol van Papie Papenfus vertolk het. Onder die ander televisiereekse waarin hy te sien was, was TJ 7, Wena Naudé se laaste reeks voor haar dood, Kromburg, Drama drama, Herberg en Die binnekring.

Siegfried het verskeie toekennings gedurende sy leeftyd ontvang. In die 1950’s het hy die koningin se kroningsmedalje vir sy diens aan Suid-Afrikaanse teater ontvang en in 1957 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ’n Erepenning vir Toneelkuns vereer. Teen die einde van sy loopbaan is hy vereer met ’n Artes-toekenning vir die televisiedrama Die houtbord. Hy was reeds 79 jaar oud toe hy hierdie rol vertolk het.

Siegfried het alleen in Johannesburg gewoon sedert sy vrou se afsterwe in 1981. Hy is op 29 Maart 1996 in die ouderdom van 87 jaar aan longontsteking oorlede.

Daantjie Badenhorst