SIR DE VILLIERS GRAAFF (1913-1999)

Sir De Villiers Graaff was die leier van die amptelike opposisie in die Volksraad vir omtrent die helfte van die 46 jaar wat die Nasionale Party aan bewind was.

Hy is op 8 Desember 1913 gebore en het in die regte aan die Universiteit van Kaapstad en aan Oxford in Engeland gestudeer. Hy is in 1937 tot advokaat in die Suid-Afrikaanse Hooggeregshof toegelaat. Hy het ook militêre diens in Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog verrig. Hy is in 1942 vir ’n parlementêre setel benoem, maar die Duitsers het hom by Tobruk gevange geneem en hy het die res van die oorlog in Duitse en Italiaanse strafkampe deurgebring. Benewens sy loopbaan as advokaat het hy ook met beeste en koring geboer, maar die grootste gedeelte van sy plaas is later deur die NP vir behuisingsontwikkeling onteien.

Hy het ’n parlementslid vir die Verenigde Party (VP) geword en toe die Nasionale Party (NP) in 1948 met ’n oorweldigende meerderheid aan bewind gekom het, was hy die enigste VP-parlementslid wat ’n setel van die NP kon verower. Hy het dit as ’n persoonlike oorwinning beskou. In 1956 het hy die leierskap van die VP by JGN Strauss oorgeneem; ’n Afrikaner as partyleier was nodig, anders sou die VP nooit ’n kans hê om aan bewind te kom nie. Die destydse konserwatiewe Afrikaner was egter nie oortuig nie. Op daardie stadium het die NP begin om “Kleurlinge” van die kiesersrol te skrap; gevolglik is die land in ’n konstitusionele krisis gedompel. Hy was ’n sterk voorstander van die verbod op die ANC, wat na die Sharpeville-onluste in 1960 ingestel is. Onder sy leierskap is baie toesprake van ’n profetiese aard deur die VP gehou; dit het die redes waarom apartheid nie sou werk nie, uiteengesit. Daar word ook vertel dat ’n toespraak wat hy gelewer het en wat by ’n inryteater uitgesaai is, só deur motors se toeters beantwoord is dat niemand ’n woord gehoor het wat hy gesê het nie.

In 1958 het hy sy setel verloor, maar hy was gou terug en gedurende sy politieke loopbaan het hy hoofsaaklik kiesafdelings in die omgewing van Kaapstad verteenwoordig. In 1959 het twaalf VP-lede weggebreek en die Progressiewe Party (PP) gestig. Daarna het die VP se gewildheid begin kwyn, totdat dit, weens onenigheid in die Nasionale Party, in 1970 bo verwagting ’n paar setels in die algemene verkiesing verower het. Die Progressiewe Party het net een parlementslid gehad, naamlik Helen Suzman. Die PP het in 1977 die Progressiewe Federale Party (PFP) geword. In 1974 se algemene verkiesing het die VP se steun weer gedaal, en die koeël was deur die kerk.

Op 16 Junie 1976 het die Soweto-onluste uitgebreek en Sir De Villiers Graaf het met die destydse Eerste Minister, advokaat John Vorster vergader. Hy het Vorster gewaarsku dat ’n ramp gewag het, maar Vorster het hom nie daaraan gesteur nie. In 1977 het die VP egter ontbind en die PFP het die amptelike opposisie in die parlement geword. Die Nuwe Republiek-party is gestig met Graaff as tussentydse leier, maar Radclyffe Cadman, wat eers net die parlementêre leier was, het na die 1977-verkiesing as partyleier oorgeneem, nadat Graaff uit die politiek getree het.

Sir De Villiers Graaff is op 4 Oktober 1999 in die ouderdom van 85 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst