STEVEN DE GROOTE (1953-1989)
Steven de Groote was ’n Suid-Afrikaanse klassieke pianis.
Hy is op 12 Januarie 1953 in Johannesburg gebore; sy familie was van Belgiese herkoms en vir drie geslagte lank was byna elke familielid ’n professionele musikus. Sy ouma het die Prix de Rome in België ontvang en sy pa was die dirigent van die Kaapstadse Universiteitsimfonie. In sy jong dae het hy saam met sy pa en sy broer deur Suid-Afrika getoer; sy pa en sy broer het onderskeidelik die viool en die tjello bespeel.
Hy het sy musiekopleiding by Lamar Crowson in Kaapstad ontvang en daarna by die Royal Conservatory of Music in Brussel onder Eduardo del Pueyo gestudeer. Hy het in 1971 afgestudeer en ’n eerste prys vir klavier ontvang.
In 1972 het De Groote by die Curtis Institute of Music in Philadelphia in die Amerikaanse staat Pennsylvania ingeskryf en onder Rudolf Serkin, Mieczyslaw Horszowski en Seymour Lipkin gestudeer. Hy het sy studies in 1975 voltooi. In 1976 het hy met die louere weggestap in die Leventritt Competition in New York en in Mei 1977 het hy die Young Concert Artists International Auditions, wat ook in New York gehou is, geslaag. In September dieselfde jaar is die Grand Prize by die Van Cilburn Competition in Fort Worth in die Amerikaanse staat Texas aan hom toegeken. Tydens dieselfde kompetisie het hy die beste vertolking van ’n opdragwerk en van kamermusiek gelewer. Nog nooit tevore of sedertdien het enigiemand anders al hierdie pryse gewen nie.
Hy het sy debuutuitvoering in New York op 8 November 1977 by die 92nd Street Y gelewer, gevolg deur sy debuutuitvoering wat uit die Van Cilburn Competition voortgespruit het, op 12 Desember 1977 in Carnegie Hall in die New Yorkse voorstad Manhattan.
Nadat hy die Van Cilburn Competition gewen het, het hy oor die hele wêreld begin optree; benewens sy optredes saam met verskeie Amerikaanse orkeste het hy ook saam met orkeste in onder meer Amsterdam, Helsinki, Salzburg, Berlyn en Rotterdam opgetree. Hy het ook saam met al die vernaamste orkeste in Groot-Brittanje opgetree. Sy debuut in 1981 by The Proms, waarin hy Gershwin se Concerto in F saam met die Royal Philharmonic Orchestra onder leiding van Andrew Litton gespeel het, is regstreeks deur die BBC uitgesaai.
In 1983 en 1984 het hy as solokunstenaar deur die Verenigde State van Amerika getoer en saam met die Warsaw Philharmonic onder leiding van Kazmierz Kord opgetree en in Engeland het hy in Engeland saam met die Mozarteum-orkes van Salzburg onder leding van Hans Graf gespeel.
Hy het in 1988 na Suid-Afrika teruggekeer om die toer van die Kaapstadse Simfonieorkes deur Taiwan ter viering van die orkes se 75ste bestaansjaar met David de Villiers as dirigent mee te maak. Hy het in Kaapstad, Johannesburg, Taipei, Taichung en Kaohsiung saam met die orkes opgetree. Gedurende hierdie toer het hy Rachmaninov se Tweede Klavierkonsert, Beethoven se Vierde Konsert en Brahms se Tweede Konsert gespeel. Regstreekse opnames hiervan is op die Fidelio-etiket uitgereik. Hy was ’n talentvolle kamermusikus wat gereeld saam met vooraanstaande ensembles soos die Guarneri-kwartet en die Chilingrian-kwartet waarvan sy broer Philip die tjellis was, opgetree.
In 1981 het hy hom by die fakulteit van die Arizona State University aangesluit en tegelyk klasgegee en opgetree. In 1987 het hy Lili Kraus as inwonende kunstenaar by die Texas Christian University in Fort Worth opgevolg en April daardie jaar het die Texas-senaat hom vir sy uitsonderlike bydrae tot musiek vereer. Die senaat het die hoogste respek en bewondering teenoor hom uitgespreek.
De Groote was ’n amateurvlieënier wat in 1985 ’n groot ongeluk oorleef het toe hy naby Phoenix in die Amerikaanse staat Arizona probeer land het. Sy long en aorta is in hierdie ongeluk beskadig. Na afloop van rehabilitasie het hy weer begin vlieg en optree. Sy wonderbaarlike herstel is deur Charles Kuralt op CBS News Sunday Morning gedek. In 1989 het hy na Suid-Afrika teruggekeer vir ’n konserttoer en om familie te besoek. Hy het in die hospitaal beland weens tuberkulose en longontsteking.
Hy is op 22 Mei 1989 in die jong ouderdom van 36 aan veelvuldige orgaanversaking oorlede.
Daantjie Badenhorst