SUSAN STRIJDOM (1910-1999)
Met hoed en handskoen
Tot op haar laaste lewensdag kon jy haar deur ’n ring trek. Elke haar in sy plek, nooit ’n kousnaat skeef nie en altyd perfek geklee. En ’n mooi vrou was sy beslis. Mooi, en slim.
As sy ’n geslag later gebore was, was daar min twyfel oor dat Susan Strijdom ’n politieke loopbaan van haar eie sou kon hê. Sy het immers politiek met moedersmelk ingekry! Sy was ’n nooi De Klerk van Aliwal-Noord se kontrei. Pastoriedogter uit ’n gesin van 12 kinders. Haar pa, ds. Willem de Klerk, was drie keer getroud. Susan is gebore uit die tweede huwelik. En as “Willem de Klerk” nou ’n klokkie iewers lui … ja, Susan se broer was die latere senator en minister Jan de Klerk, die pa van FW de Klerk. Susan was dus ’n eie tante van die laaste pre-1994-president van Suid-Afrika.
Sy is op 28 Junie 1910 op Aliwal-Noord gebore. Haar ma was Lettie van Rooy van Burgersdorp in die Oos-Kaap, ook ’n ou Nat-familie en verlangs verwant aan die Vorsters. Susan matrikuleer en bekwaam haarself as musiekonderwyseres. Met haar regop postuur en goudbruin hare is sy ’n mooi meisiekind. Sy ontmoet Hans Strijdom in 1929 op Nylstroom waar sy musiekjuffrou en orreliste is.
Hans se pad het ook maar kronkelrig geloop tot op Nylstroom. Hy was een van die seuns van oom Pieter Strijdom wat die winkel in die Baviaanskloof naby Willowmore gehad het. Dit was die jare van die volstruisveer-rykdom en na skool gaan Hans na Stellenbosch waar hy in die regte studeer. Met die val van die volstruisveermark sit hy af Pretoria toe en begin werk as klerk by die Departement van Verdediging. Maar sy openlike kritiek van die Smuts-regering en simpatie vir die 1914-rebelle kos hom sy pos in die staatsdiens en hy skryf homself in as prokureursklerk by Meintjies van Pretoria. Met harde werk behaal hy sy LLB en begaan ook sy een jeugdige oordeelsfout.
Hy trou met die aktrise Margaretha van Hulsteyn. Die huwelik hou skaars ’n jaar voordat sy hom laat staan en padgee Engeland toe. Vir die res van haar lewe sou sy daar bly onder die verhoognaam “Marda Vanne” saam met haar minnares en lewensmaat, die Walliese aktrise, Gwen Ffrangcon-Davies. Dis na die egskeiding dat Hans verhuis na Nylstroom en sy prokureurspraktyk daar opsit.
En hier ontmoet hy op ’n musiekaand by vriende die dorp se orreliste – Susan is 14 jaar jonger as hy en absoluut beeldskoon. Hans Strijdom laat nie gras onder sy voete groei nie – sommer die volgende oggend laat hy ’n bos rooi rose by die skool aflewer. Dit is Februarie 1929. Vir twee jaar kom hy elke Dinsdagaand en elke Donderdaagaand kuier – stiptelik tot om tienuur!
Susan se pa is nie baie ingenome met die ding nie. Hans is nou wel teen hierdie tyd ’n Parlementêre agterbanker en ’n opkomende politieke figuur, maar die kwessie van die egskeiding … Nogtans gee die oubaas kop en op 14 Januarie 1931 bevestig hy self die twee in die huwelik in Fordsburg, waar hy toe predikant is.
Die jare 30 is moeilike jare. Saam met Hans reis Susan die Waterberg vol. Dis Depressiejare en Hertzog se samesmelting met Smuts se Suid-Afrikaanse party skeur die Nasionale Party in twee. Die party moet nou herbou word met pennies en sjielings uit verslete beursies. Na 1933 is Hans voltyds op die pad om die Transvaalse Nasionale Party te herbou. Susan bly dikwels by familie in Potchefstroom terwyl hy op die pad is. En wanneer hy eenvoudig nie op twee plekke gelyk kan wees nie, gryp sy die toespraak en gaan lewer dit namens hom.
In 1936 word die tweeling gebore, Hannes en Estelle. Die deurbraak kom toe Hans gekies word as Transvaalse leier. Die breuk met Hertzog is vir hom moeilik en die konflik tussen hom, die vurige Transvaler en die ouer, meer besadigde Kaaplandse leier, DF Malan, is ook nie maklik nie. Maar wanneer daar wel ’n stil tydjie kom tussen die gedurige op en af tussen Pretoria en Kaapstad gaan hulle na ’n simfoniekonsert of onderneem ’n wandeling teen die hange van Tafelberg. Susan, soos altyd, onberispelik geklee.
Die Republikeinse ideaal rig hulle hele bestaan. En in November 1954 word Hans gekies as Hoofleier van die Nasionale Party – hy word Eerste Minister in dr. Malan se plek. Daardie dag is hy besonder stil. Susan ken hom nie so nie. “Is jy dan nie bly nie?” vra sy. Hy bly lank stil voordat hy antwoord: “Ja, ek is bly. Ons het hard gewerk hiervoor, maar hierdie taak is die kroontyd van my lewenslange strewe en dis vir my té ernstig om net te jubel.”
Wat net hy en Susan op daardie tydstip weet, is dat sy gesondheid alreeds ’n dodelike knou weg het. Die dokters kan nog nie uitvind wat die probleem is nie, maar iewers in sy liggaam is iets wat sy kragte tap en daaroor is Susan diep bekommerd. Sy werk nog harder as ooit vantevore. Nog nooit was ’n Eersteministersvrou so sigbaar as wat sy is nie.
Die enigste tye wat sy vir haarself afknyp is Dinsdae en Donderdae middae van 3 uur tot 4 uur wanneer die tweeling Stellenbosch toe geneem word vir hulle musiekles by Hannes en Helga Uys (Pieter Dirk Uys se ouers.) Dan sit Susan buitekant in die Nash met haar storieboek en rook haar lang Courtleigh-sigarette – want by die huis mag sy nie rook nie.
Die verkiesing van 1958 is die belangrikste van sy loopbaan. Hy is vas oortuig daarvan dat die verwesenliking van die Republiek net ’n kwessie van tyd is, maar hy vrees terselfdertyd dat hy dit nie sal beleef nie. Die dokters raai hom aan om rustiger te wees, maar hy weier om die werk aan die ander oor te laat. Die aand voor die groot vergadering in Pretoria sit hy in die studeerkamer van Libertas met die koerant toe hy skielik opkyk en sê: “Susan, ek glo met my hele hart dat ons binne ’n afsienbare tyd ’n Republiek sal hê. Maar ek sal dit nie sien nie, iemand sal dit na my moet doen.”
Aan die begin van Augustus 1958 word hy in die hospitaal opgeneem. Die oorsaak van sy siekte is nou bekend – dit is bloedkanker. Susan is self ernstig siek en in dieselfde hospitaal as hy. Sy pleit by die dokters om haar op te help sodat sy na sy kamer kan stap. Met moeite bly sy op haar voete, maar dit beur hom geweldig op om haar te sien. Dieselfde nag val hy in ’n koma. Teen die Saterdagaand, twee dae later, vra sy of sy dan nie net goeienag kan sê nie. Weer help hulle haar na sy kamer. Hy is wakker en opgewek en sy sit lank langs die bed met sy hand tussen hare totdat die dokter kom sê dat sy ook nou moet gaan rus. “Slaap gerus, Hans,” sê sy. Hy kyk lank na haar voordat hy sê: “Totsiens, my vrou.”
Totsiens, nie goeienag nie. Dit tref haar hard, en toe sy by die kamer uitstap, weet sy in haar hart dat die afskeid finaal is. Dieselfde nag, 24 Augustus 1958, sterf die vyfde premier van die Unie van Suid-Afrika in sy slaap.
Hulle begrawe hom in die Heldeakker in Pretoria. 10 000 mense is daar, omtrent die hele Waterberg kom vir die begrafnis. Susan, onberispelik geklee, hou vas aan haar broer se arm. Die lewe het skielik leeg geword vir haar. Al wat oorbly, is die brandende begeerte om seker te maak dat sy ideaal van ’n Republiek nie saam met hom sterf nie.
Sy koop ’n klein woonstelletjie in Pretoria waar sy haar omring met herinneringe en sy versameling van plate. In 1984 verhuis sy na die aftreeoord Harmoniehof in Sunnyside. Hier besoek die kinders en kleinkinders haar gereeld. Nog ’n slag tref haar toe haar seun, Hannes, in 1993 in Lissabon sterf aan ’n hartaanval.
Die jare vorentoe sou vir haar goed en sleg bring. Sy het die koms van die Republiek beleef, sy het die moeilike jare 70 en 80 deurgesien en met toenemende kommer waargeneem hoedat die Nasionale Party afwyk van die pad waarop Hans hulle gelei het. Dat die totale ondergang van die party sou geskied aan die hand van haar broerskind, FW de Klerk, was ’n bitter pil om te sluk.
Na die dood van haar seun verhuis sy na Kaapstad waar sy een van die slagoffers word van die misdaadchaos wat die land na die oorgawe van 1994 tref. Dit is juis onderweg haarsalon toe, want Susan is nog steeds die vrou wat jy deur ’n ring kan trek, dat sy op ’n sypaadjie in Melkbosstrand oorval en van haar handsak beroof word. Sy doen ernstige kopbeserings op en moet ’n heupvervanging ondergaan. Daarvoor vlieg hulle Pretoria toe met haar. Maar sy herstel nie weer nie, en op 20 Februarie 1999 sterf sy. Sy is 89 jaar oud.
Hulle begrawe haar langs Hans in die Heldeakker. 41 jaar lank was sy alleen. En net vir vier jaar die eerste vrou van Suid-Afrika, maar haar teenwoordigheid het ’n indruk gelaat op elke mens wat ooit met haar kennis gemaak het. As Hans net tien jaar langer geleef het, of as Susan tien jaar later gebore is, kon die politiek van Suid-Afrika veel anders gelyk het.
Maar “as” is wensdenkery. Sy het haar werk gedoen.
Daniël Lötter