THEUNS JORDAAN (1971-2021)

Die gewilde Afrikaanse sanger Theuns Jordaan is op 17 November 2021 in die ouderdom van 50 jaar oorlede nadat bloedkanker by hom gediagnoseer is.

Theuns is op 10 Januarie 1971 op ’n plaas naby Venterstad in die Karoo gebore en het aan die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet gematrikuleer. Nadat hy sy diensplig verrig het, het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy het ’n jaar lank as entrepreneur gewerk waarna hy na Pretoria verhuis het. Hier het hy elke Donderdagaand in ’n kuierplek gesing totdat drie professionele mense hom raakgesien het en aangebied het om hom te help om sy debuutalbum op te neem. In 1999 was hy ’n ateljeegas van die omroeper Robin J op die destydse Radio Rippel, wat vanuit Pretoria uitgesaai het. Sy eerste album, Vreemde stad, is in 2000 deur Wildebeest Records uitgegee en het oorspronklike komposisies soos die titelsnit, wat gegaan het oor sy aanpassing in Pretoria, asook “Makiesakie” en “Hakieshart” bevat. Hy het ook snitte van ander bekende Afrikaanse liedjieskrywers ingesluit, soos “Sien jou weer” van Piet Botha, “Skipskop” van David Kramer en “Sonvanger” van Valiant Swart. Sy weergawe van Gert Vlok Nel se “Beautiful in Beaufort-Wes” was egter die grootste treffer vanaf hierdie album en het dadelik baie gewild geword. Die gewildheid van hierdie album het gemaak dat EMI hom ’n CD-kontrak aangebied het; die album is van voor af opgeneem en heruitgereik, met die gevolg dat Theuns se gewildheid net nog verder toegeneem het.

Theuns se tweede album, Tjailatyd, het in 2002 verskyn en weer eens het hy die kol getref. Dit was trouens só gewild dat dit in die tweede plek op die amptelike Suid-Afrikaanse treffersparade, gemeet aan werklike albumverkope, vasgehaak het met net ’n versamelalbum van Elvis Presley wat hom van die eerste plek af weggehou het. Die grootste rede vir hierdie album se sukses was sy oorspronklike komposisie “Soos bloed”, terwyl hy in die titelsnit gesing het van die dae toe hy nog elke week in ’n kuierplek gesing het. “Waar was jy?” en “Buitekant” was twee ander oorspronklike komposisies wat gewild geword het, terwyl hy die destyds sestienjarige M.D. Greyling se komposisie “Alleen sonder jou” ook op hierdie album opgeneem het. Sy weergawes van David Kramer se “Hanne”, André Swiegers se “Hoe draai die wind dan nou?” en Koos du Plessis se “Vermiste mense” is ook gereeld oor die radio gehoor. Theuns se derde album, Seisoen, het in 2005 verskyn en het weer eens die kol getref danksy oorspronklike komposisies soos “Namibsroos”, “Jou asem”, “Praat is te laat” en “Bietjie van my” asook Herman Holtzhausen se “Huise van glas” en Johannes Kerkorrel se “Hillbrow”. Hy het weer eens ’n Koos du Plessis-komposisie, naamlik “Groet sonder woorde”, ingesluit.

Koos het sonder twyfel ’n groot invloed op Theuns gehad, en hy was goed bevriend met Koos se dogter Karla. Daarom was dit geen verrassing dat hy in 2009 ’n album waarop hy hulde aan Koos gebring het, opgeneem het nie. Die album, getiteld Koue vuur, het Theuns se weergawes van Koos se treffers soos “Kinders van die wind”, “Skielik is jy vry”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “As almal ver is” en “Op die pad na Nooitgedacht”, om net ’n paar te noem. Net die volgende jaar het hy en Juanita du Plessis vir die eerste keer saamgespan en die album Bring jou hart voor ’n gehoor opgeneem. Hierdie kombinasie het baie goed gewerk, en benewens die titelsnit het hulle ’n treffer met hul weergawe van “Vergeet om my te vergeet”, wat oorspronklik deur Laurika Rauch gesing is, gehad. In dieselfde jaar het Theuns sy lyf akteur gehou in die rolprent Jakhalsdans, waarvan Deon Meyer die draaiboek geskryf het. Onder die akteurs wat saam met hom in hierdie rolprent te sien was, was Elizma Theron, Neil Sandilands, Christina Storm en Chante Hinds.

In 2012 het Theuns sy laaste oorspronklike soloalbum, asook nog ’n duetalbum saam met Juanita uitgereik. Roeper was sy soloalbum en het die treffers “Sal jy bly?”, “By jou”, “Roeper van my hart”, “Op soek na jou” en “Hartseer vir die reën” ingesluit. Daarby het hy en Dr. Victor and the Rasta Rebels saamgespan en Pieter van der Westhuizen se komposisie “Wie se kind is jy?” opgeneem. Dit het gemaak dat Dr. Victor and the Rasta Rebels ook by Afrikaanse gehore byval begin vind het. Hart vol drome was sy album saam met Juanita, en benewens die titelsnit het dit nog ’n nuwe treffer, naamlik “Dowwe spore” ingesluit, asook konsertopnames van Juanita en Theuns se treffers. In 2013 het sy eerste en enigste Engelse album, Tribute to the poets, gevolg. Hierin het hy hulde gebring aan internasionale liedjieskrywers wat, soos hy dit sou gestel het, in die klas opgelet het. Dit het snitte soos “Blowing in the wind” van Bob Dylan, “Streets of London” van Ralph Mc Tell, “Round here” van The Counting Crows, “Sunday morning coming down” van Kris Kristoffersen, asook drie Neil Diamond-komposisies, “Solitary man”, “Beautiful noise” en “Longfellow serenade” bevat. Theuns se laaste album, Agter slot en grendel, het in 2020 verskyn en het hoofsaaklik sy grootste treffers bevat, asook “Skaakspel”, ’n nuwe komposisie.

Bloedkanker is in September 2020 by Theuns gediagnoseer en hy het tot met sy dood gereelde chemoterapie daarvoor ontvang.

Theuns was ’n legende van Afrikaanse musiek wat integriteit bo gewildheid gestel het maar wie se musiek te midde daarvan kommersieel toeganklik was. Selfs wanneer hy ’n liedjie van ’n bestaande kunstenaar of liedjieskrywer opgeneem het, was dit altyd een van iemand wat altyd werk van hoogstaande gehalte gelewer het. Hy was nie die tipe kunstenaar wat gedurig in die kollig was nie, en soos sy mentor Koos du Plessis was hy iemand wat die praatwerk deur sy musiek gedoen het.

Daantjie Badenhorst