THYS DIE BOSVELDKLONG (1974-2024)

Die Afrikaanse sanger Thys die Bosveldklong is op 15 Junie 2024, twee dae voordat hy sy vyftigste verjaardag sou vier, oorlede.

Matthys Lourens Streicher is op 17 Junie 1974 in Kaapstad gebore. Sy debuutalbum, Man se ding, is in 1997 uitgereik en hy het dwarsdeur sy loopbaan bekendheid verwerf as ’n sanger van komiese Afrikaanse liedjies. In 1999 het hy sy deurbraak in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak toe hy sy album Ma sê Pa sê vrygestel het. Hy het hoofsaaklik bekende liedjies soos “Jorrie dittel dy” van Francois Hayes, “Lekker ou Jan” van Worsie Visser en “Geelperskereën” van Anton Goosen ingesluit en sy humorsin het veral na vore gekom in sy vertolking van “Tokolosh” van Danie Pretorius. Op sy album Ek hou nie van werk nie, wat twee jaar later verskyn het, het hy weer die lagspiere geprikkel, hierdie keer met ’n Fanagalo-keurspel gebaseer op bekende Afrikaanse liedjies. Hy het ook die titelsnit vanaf sy eerste album weer opgeneem. Jaloers-bokkie het seker sy eerste oorspronklike treffer opgelewer, naamlik die storieverteller Leon Beukes se komposisie “Ou bobbejaan”, terwyl hy weer ’n Fanagalo-keurspel ingesluit het. Onder die bekende snitte wat op die album voorgekom het, was “Silver de Lange” en “Begrafnistyd in Zeerust” van Anton Goosen, “Meisie sonner sokkies”” en Stoksielalleen” van David Kramer en “Die brakke van Turffontein” van Danie Pretorius.

Met die titelsnit van sy volgende album, In die middel, het hy die kol getref; dit was dalk sy heel grootste treffer. Hy het met “Polokwane” ten sterkste beswaar gemaak teen die verandering van dorpe se name, maar ook grappige liedjies soos “Braai”, op die wysie van “Because I got high” van Afroman, en “Mamma waar is ’n boom” ingesluit. Daarby het hy ’n effens aangepaste weergawe van “Mamma ek wil ’n man hê”, naamlik “Mamma ek wil ’n vrou hê”, met nuwe lirieke, opgeneem. Korrektiewe Afrikaans het uit drie CD’s bestaan; hy het onder meer “Tronksel rock”, ’n Afrikaanse weergawe van Elvis Presley se “Jailhouse rock”, hierop ingesluit. Die derde CD wat op die stel ingesluit het, was ’n heruitreiking van Ma sê Pa sê.

Sy volgende album, Boeretroos, het die treffer “Spookasem”, geskryf deur Tony Ridgway, bevat, en hy het ook verwerkings van drie bekende Boeremusiek-komposisies ingesluit, naamlik “Tant Antjie ruik na gom”, “Tant San van Christiana” en “Die kalfiewals”. Die titelsnit van sy album Vet pret was ’n dwarsklap na sy kritici; onder die ander snitte op hierdie album was “Die 15-tal van Mooibakkiesfontein” en ’n skreeusnaakse weergawe van “Die hoender of die eier” van Danie Pretorius.

Thys het hom ook as afslaer bekwaam, en daarom was dit geen verrassing dat hy die album Op veiling vrygestel het nie. Dit was ’n dubbele album, met Afrikaanse liedjies op die een CD en hoofsaaklik Engelse liedjies op die ander een. Onder die Afrikaanse snitte wat hy opgeneem het, was “Swaai daai ding”, “Rolbalpêlle” en “Sy dra die broek”, op die wysie van Roxette se treffer “The look”. Die Engelse album het liedjies soos “It’s hard to be humble” van Mac Davis, “A boy named Sue” van Johnny Cash, “Hello Mary Lou” van Ricky Nelson en “The laughing policeman” van Charles Penrose bevat, terwyl hy ook “Bye bye bokkie” van Anton Goosen en “Gee vir my ’n bietjie country” van Cora-Marie opgeneem het. Hy het ook twee trefferversamelings vrygestel en twee van sy konserte is op DVD uitgereik.

Hoewel hy hoofsaaklik grappige liedjies gesing het, het ’n hartseer gebeurtenis gemaak dat hy sy musikale horisonne verbreed het. In 2015 is kanker by sy broer Piet, wat onder meer sy klankman was, gediagnoseer en Thys het besluit om die album Op ’n ernstige noot vry te stel. Hierop het hy sy musiektalent bo alle twyfel ten toon gestel deur liedjies soos “Speelgoed” van Kupido, I’”ll have to say I love you in a song” van Jim Croce, “Nog een koppie koffie” en “Weer ’n keer” van Lucas Maree, “Dis dieselfde son” van Leon Ferreira en Jolette Odendaal en “The last farewell” van Roger Whittaker in te sluit. Piet is in 2016 in die ouderdom van 39 jaar oorlede. Sy laaste album, Looks is nie alles nie, is in 2017 uitgereik en het die treffer “Swakopmund” opgelewer.

In 2019 is veelvuldige sklerose by hom gediagnoseer. Hy was ’n tyd lank bedlêend en het behandeling ontvang wat sy beweeglikheid herstel het. Hy kon in 2022 weer optree. In April vanjaar het sy gesondheid egter verswak nadat hy breinvliesontsteking opgedoen het en daarna ’n beroerte gehad het. Hy was teen die einde van sy lewe aan ’n rolstoel vasgekluister. Hy was drie maande lank in ’n koma.

Hy is op 15 Junie 2024 in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Pretoria oorlede.

Daantjie Badenhorst