TOLLA VAN DER MERWE (1943-2000)

Tolla van der Merwe was ’n bekende Afrikaanse storieverteller en komediant.

Tertius Willem Jacobus van der Merwe is op 21 Augustus 1943 op Clanwilliam in die Wes-Kaap gebore en het aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Na skool het hy ’n NT 53-kwalifikasie verwerf. Hy was met Marieta getroud en vier kinders is uit die huwelik gebore.

Hy het bekendheid verwerf toe hy as ateljeegas in die televisieprogram Spies en Plessie met premissie opgetree het. Die Namibiese storieverteller Jan Spies en die skrywer PG du Plessis was die aanbieders en die program het ’n rekordgetal kykers getrek. Dit het verder gemaak dat Toyota Suid-Afrika se advertensiemaatskappy Tolla gebruik het in ’n reeks advertensies vir die Stallion-driekwarttonbakkie wat in die laat 1980’s in Suid-Afrika bekendgestel is.

In 1990 het Tolla die hoofrol vertolk in ’n skelmkamera-rolprent Tolla is tops, wat baie op Leon Schuster se soortgelyke rolprente geskoei was. Elmo de Witt was die regisseur en het die draaiboek saam met Zack du Plessis geskryf. Die rolprent is aan die Kaapse Weskus verfilm, in en naby Clanwilliam waar Tolla die grootste deel van sy lewe deurgebring het. Daarna het hy in die Leon Schuster-komedierolprent Panic mechanic verskyn, asook in Kaalgat tussen die daisies, saam met Frank Opperman, Soli Philander, Willie Esterhuizen, Gys de Villiers, André Rossouw en Marko van der Colff. In 1995 was die hele land gaande oor die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat in Suid-Afrika aangebied is en deur die Springbokspan gewen is. Verskeie rugbyalbums het in daardie tyd die lig gesien en een daarvan was Bokkie kom terug wat Tolla saam met Danie Niehaus opgeneem het. Die titelsnit was ’n weergawe van The Equals se treffer “Baby come back” met Afrikaanse woorde.

Nadat Jan Spies in 1996 oorlede is, het Tolla die program Maak ’n las begin aanbied, en verskeie bekendes was gereelde ateljeegaste. Onder hulle was die voormalige langafstandtleet Andries Krogman, en storievertellers soos Nico Nel, Pyp de Villiers, Danny Pretorius en Koos Meyer, terwyl Ollie Viljoen vir die musiek gesorg het. Dit het egter nie lank geduur voordat ’n reeks rampspoedige gebeurtenisse wat deur die media as die “Maak ’n las-vloek” beskryf is, plaasgevind het nie.

Op 7 Augustus 2000, kort voor sy 57ste verjaardag, was Tolla saam met Ollie Viljoen en sy vrou Estelle asook mede-storieverteller Koos Meyer op pad terug van ’n kunstefees op Witrivier in die Laeveld toe hul motor naby Belfast in ’n ongeluk betrokke was. Tolla, Koos en Estelle is in die ongeluk oorlede en Ollie is ernstig beseer. Sedert sy dood is Tolla se stories gereeld op CD en DVD uitgereik.

Pieter Pieterse is in 2002 tydens ’n rooftog vermoor en Andries Krogman het sy eie lewe in 2009 geneem. Ollie Viljoen is in 2014 oorlede.

Tolla se oudste seun Wicus is op 17 Julie 1972 gebore en het reeds sewe albums as sanger opgeneem.

deur Daantjie Badenhorst