TOM NAUDÉ (1889-1969)
Tom Naudé was die waarnemende staatspresident van Suid-Afrika van 1967 tot 1968.
Jozua Francois Naudé is op 15 April 1889 in Middelburg in die Oos-Kaap gebore en het ook daar gematrikuleer. Hy het hom in 1910 as prokureur in Polokwane (destyds Pietersburg) gevestig en sy protes teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog het gemaak dat hy drie maande in die Booysens-interneringskamp moes deurbring.
Hy was van 1915 tot 1920 stadsraadslid in Pietersburg, waarna hy in die ouderdom van dertig jaar tot parlementslid verkies is. Hy het hierdie kiesafdeling 41 jaar lank verteenwoordig en elke denkbare pos beklee. Hy was nie net hoofsweep en speaker nie, maar hy het verskeie kabinetsposte beklee. Hy was van 1950 tot 1954 minister van pos- en telegraafwese, van 1954 tot 1956 was hy minister van gesondheid en van 1956 tot 1961 minister van finansies. Gedurende sy ampstermyn as minister van pos- en telegraafwese is hy in 1951 gevra om die hoeksteen van die nuwe stadsaal in sy geboortedorp, Middelburg, te lê.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy saam met genl. Hertzog oor die vloer na die Nasionale Party van dr. DF Malan gestap, en na die moord op dr. HF Verwoerd in 1966 het hy ’n spesiale gebed vir die Senaat geskryf.
In 1961 is hy verkies tot president van die Senaat, wat beteken het dat hy, ingevolge die republikeinse grondwet, ex officio as staatspresident sou waarneem indien die pos dalk vakant sou raak. In 1967 het adv. CR Swart uitgetree en dr. Eben Dönges is in sy plek aangewys. Dönges het egter ’n beroerte gekry waarvan hy nooit herstel het nie, en Naudé is as waarnemende staatspresident aangewys. Hy het tien maande lank waargeneem totdat Jim Fouché as voltydse staatspresident ingehuldig is.
Hy is op 31 Mei 1969 in die ouderdom van tagtig jaar in Kaapstad oorlede en die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in Polokwane is na hom vernoem.
Daantjie Badenhorst