WA DE KLERK (1917-1996)
WA de Klerk was ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg wat onder meer bekendheid verwerf het vir eenbedrywe, romans , prosa, reisverhale en jeuglektuur.
Willem Abraham de Klerk is op 7 Maart 1917 op die Vrystaatse dorp Marquard gebore. Sy pa, Daniël Petrus de Klerk, was ’n prokureur en latere senator. Op ’n jong ouderdom het hulle na Kaapstad verhuis, waar sy pa die eerste Afrikaanse prokureursfirma onder die titel De Klerk en Van Gend gestig het. Hy het sy skoolloopbaan aan ’n Engelse laerskool begin, maar toe die Laerskool Jan van Riebeeck in 1926 geopen het, was hy een van die eerste ingeskrewe leerlinge. Hier het sy skryftalent vir die eerste keer na vore gekom toe sy Engelse opstel “Travel” jare lank deur die onderwyseres as model gebruik is. In hierdie tyd het sy ouers se huwelik verbrokkel en terwyl hy en sy jonger broer by sy pa in die huis gebly het, het sy suster na ’n kosskool toe gegaan. In hierdie tyd het ’n Duits-Afrikaanse weduwee vir hulle huis gehou , maar weens die egskeiding moes hulle uit die huis trek en by ’n hotel in Seepunt tuisgaan voordat hulle weer in ’n huis kon woon.
As kind was hy baie siek weens ’n longkwaal maar tydens die Junie-vakansie van 1928 het hy besoek by die weduwee Anna C de Klerk in die distrik van Fort Beaufort afgelê en hy is permanent genees. In 1930 het hy aan Grey Kollege in Bloemfontein begin skoolgaan en in 1934 gematrikuleer. In sy matriekjaar het hy egter maagkoors opgedoen en ses en ’n halwe weke in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein deurgebring. Hy het eers na Bloemfontein teruggekeer drie maande nadat hy terug Kaap toe gegaan het om te herstel. Te midde hiervan het hy matriek met ’n reeks B-simbole geslaag. In 1932 is sy pa met Anna C de Klerk by wie WA de Klerk tuisgegaan het toe hy van sy longkwaal herstel het. Vanaf 1935 het hy in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, waar hy bestuurslid van ’n aantal verenigings was, op die studenteraad gedien het en redakteur van die studentetydskrif Stellenbosse Student was. In hierdie tyd het hy ’n belangstelling in bergklim ontwikkel en fotografie ontwikkel. Sy liefde vir bergklim het daartoe gelei dat hy “Die berge van die Boland” geskryf het. Gedurende sy laaste twee jaar op universiteit het hy hom as loods in die Suid-Afrikaanse Lugmag bekwaam, maar toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het hy besluit om nie betrokke te raak nie en sy vlieglisensie laat vaar.
Na afloop van sy studentejare was hy registrateur vir die regter-president HS van Zijl en vanaf 1941 was hy advokaat aan die Kaapse Balie. In hierdie tyd het sy skryfwerk floreer en nadat “Uit die goeie aarde” binne maande nadat dit gepubliseer is, suksesvol opgevoer is, het hy besluit om ’n vryskutskrywer te word. In 1943 is hy getroud met Johanna Magdalena (Ena) Smith van Robertson; ’n seun en twee dogters word uit die huwelik gebore. Hulle het hulle aanvanklik in Pinelands in Kaapstad gevestig. In 1945 het hy weer ’n permanente betrekking aanvaar, hierdie keer as omroeper-regisseur by die SAUK. In 1950 het hy egter op ’n oorsese reis, waartydens hy onder meer vir die BBC gewerk het, vertrek, maar in 1951 het hy na die SAUK teruggekeer.
In 1942 het De Klerk sy buiging gemaak met “Uit die goeie aarde”, wat gehandel het oor ’n arm student met die naam van Emil, wie se strewe na akademiese sukses gemaak het dat hy al sy ander waardes prysgegee het. Dit het beteken dat hy selfs bereid was om ’n oneerlike daad te pleeg om eerste in die finale eksamen te kom. Nadat hierdie daad ontdek word, probeer hy sy eie lewe neem. Nadat verskeie wysigings aangebring is om dit meer opvoerbaar te maak, het Anna Neethling-Pohl dit met groot sukses in die Volksteater opgevoer; dit was die begin van ’n lang en suksesvolle samewerking tussen hulle.
In 1952 was daar ’n groot polemiek nadat die Hertzogprys aan De Klerk en Gerhard J Beukes vir drama toegeken is. Die digter WEG Louw het in ’n artikel in Die Huisgenoot van 24 Oktober 1952 sterk beswaar teen hierdie toekenning gemaak deur te skryf dat die Akademie in hierdie geval “bewys gelewer het dat hy self nie in staat is om literêre waardes te onderskei nie.” Rob Antonissen het self skerp kritiek gelewer, tot so ’n mate dat FEJ Malherbe, wat Antonissen gevra het om vir Ons Eie Boek oor die bekroondes te skryf, die stuk geweier het. In Die Huisgenoot van 28 November 1952 het FCL Bosman op Louw se kritiek gereageer en Louw se gedig “Adam” persoonlik aangeval. In Die Burger van 17 November 1952 het Bosman op Antonissen se kritiek gereageer deur na hom te verwys as ’n “jong uitlander” wat nog nie die Afrikaner se kultuur en waardes onder die knie gehad het nie. In die volgende dag se uitgawe van Die Burger het DJ Opperman vir Antonissen verdedig en die Akademie se aanprysing ook gekritiseer. Verskeie ander mense het tot die gesprek toegetree, onder meer De Klerk onder ’n skuilnaam.
In 1953 het De Klerk op plaas Saffier in die Klein Drakenstein naby Paarl gaan boer, en ’n groot belangstelling in omgewingsbewaring ontwikkel. Hy was medestigter van die Vereniging vir die Beskerming van die Omgewing, asook die Heemkring Drankenstein; daarby was hy gemoeid met die herstel van Dal Josafat as nasionale kultuurnalatenskap. Hy was ook lid van die Broederbond, maar nadat die organisasie geweier het om Kleurlinge ook as deel van die Afrikanerdom te aanvaar, het hy in die vroeë 1960’s bedank. In 1971 het hy die referaat getiteld “Wat is tydgenootlike letterkunde?” by die jaarkongres van die Afrikaanse Skrywersvereniging gelewer, en in 1985 het hy die DF Malherbe-gedenklesing onder die titel “DF Malherbe – die volgehoue allegorie” aan die Universiteit van die Vrystaat gelewer. Nadat sy vrou op 19 Junie 1978 oorlede is, is hy op 9 Januarie 1982 met ’n weduwee, Finnie Malherbe, getroud. Aan die einde van 1990 het hy die plaas aan Thomas van Graan verkoop, waarna hy hom op sy dorpshuis by Coutrai in Paarl gevestig het.
Hy is op 18 Julie 1996 in die ouderdom van 79 jaar aan ’n hartaanval oorlede en in die Klein Drakenstein-begraafplaas ter ruste gelê.
deur Daantjie Badenhorst