WILHELM KNOBEL (1935-1974)

Wilhelm Knobel was ’n Afrikaanse digter en skrywer wat bekendheid vir poësie, vervolgverhale en kortverhale verwerf het, maar ook vertaalwerk gedoen het en ’n kinderboek geskryf het.

Wilhelm Friedrich Knobel is op 26 Oktober 1935 in Bethlehem in die Vrystaat gebore en was een van sewe kinders. Sy pa was ’n boer wat ook ’n Volksraadslid was en Deon Knobel, ’n professor in forensiese patologie aan die Universiteit van Kaapstad en staatspatoloog, was een van sy broers. Hy het sy kinderdae op die familieplaas Versien deurgebring, maar die slag van diere, die jag van hase en die vang van babers in kuile het hom ontstel. Hierdie gebeure het ’n diep indruk op sy sensitiewe gemoed gemaak, en later jare het dit neerslag in sy gedigte gevind. Hy het egter baie vroeg in sy lewe ’n onversadigbare leeslus ontwikkel, en sy intense belangstelling in musiek het gemaak dat hy jare lank klavierlesse geneem het. Hy het in 1953 aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer.

In 1954 het hy ingeskryf om aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer, maar ’n ernstige senuwee-aanval het hom verhinder om verder daardie jaar te studeer en hy het die res van die jaar op die plaas deurgebring. Hierna het hy vir die res van sy lewe met bipolêre gemoedsteurnis saamgeleef; in daardie stadium was daar min begrip daarvoor terwyl psigotropiese medisyne daarvoor toe nog nie ontwikkel is nie. In 1955 het hy egter wel gaan studeer en in 1957 sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands, Engels en filosofie as hoofvakke met lof behaal. Hy het aan verskeie buitemuurse aktiwiteite deelgeneem en gevorderde tjello-lesse geneem. Tydens sy honneursjaar in filosofie het hy ook Frans geneem en in 1959 sy BA Honneursgraad in Frans met lof verwerf. Tydens sy studentejare het hy vier jaar lank op die redaksie van Prisma, die kultuurblad vir studente, gedien, en sy eerste gedigte het hier in druk verskyn. Hy het daarby in 1958 gehelp met die stigting van die letterkundige vereniging, Die Afrikaanse studentekring, waarvan hy in 1959 die voorsitter was. Daarby was hy die kunsredakteur van die studentekoerant, Die Matie.

Van Maart 1960 tot Mei 1961 was hy werksaam by die Engelse uitgewery Longman’s South Africa in Kaapstad, waarna hy in Junie 1961 met ’n beurs van die Franse regering aan die Sorbonne-universiteit in Frankryk gaan studeer het. Hier het hy onder meer met Breyten Breytenbach kennis gemaak. Daarby het hy tydens ’n somerskool ’n diploma in Franse letterkunde behaal. Tydens ’n vakansietoer in België was hy egter in ’n motorongeluk betrokke en het hy harsingskudding opgedoen. Daarby het hy weer ’n aanval van sy manies-depressiewe psigose, wat hom in ’n inrigting in Parys laat beland het, ontwikkel en in Desember 1961 moes hy noodgedwonge na Suid-Afrika terugkeer. In 1962 het hy sy Franse studies aan die Universiteit van Stellenbosch voortgesit en die volgende jaar in ’n tydelike hoedanigheid Frans aan die Universiteit van die Vrystaat gedoseer. Van 1964 tot 1965 het hy by die Universiteit van Suid-Afrika klasgegee en daarna as vertaler by die Sitrusbeurs en die Hoofposkantoor in Pretoria gewerk.

Wilhelm se eerste vervolgverhaal, Niffie se avonture, het in 1947 en 1948 in Klein Burger verskyn, terwyl hy nog op laerskool was. Van sy hoërskooldae af het hy hom egter meer op digkuns toegespits, en sy werk het in Prisma, asook in tydskrifte soos Inset, Lantern en Tydskrif vir Letterkunde, asook verskeie Vlaamse tydskrifte en Unisa English Studies verskyn. Sommige van sy verse het in 1965 in Stiebeuel 2 verskyn; dit was ’n versamelbundel van DJ Opperman en Fred le Roux wat belowende jong digters wat nog nie ’n selfstandige bundel gepubliseer het nie, die kans gegee het om hul buiging te maak. Die dood was vir hom ’n uiters belangrike tema, en veral die dood van sy pa, sy susterskind en ander kennisse asook openbare figure het uiting in sy gedigte gevind. Dit was egter nie net mense wat sy aandag gekry het nie, maar ook dié van diere soos beeste en hase. Die dood was vir hom ’n verskriklike gedagte wat hy moeilik verwerk het. Hoewel die liefde nog ’n deurlopende tema was, was dit meestal ’n geïdealiseerde en onvervulde ideaal. Die godsdiens was vir hom ’n ryk bron van inspirasie en het aanleiding gegee tot ’n deurlopende soeke na waarde en sin. Hy het etlike gedigte aan sosiaal-politiese regverdigheid gewy, en huigelary verafsku. Sy verkenning van sy siektetoestand was uniek in Afrikaanse digkuns.

Benewens sy volwasse prosa en gedigte het hy ’n kinderboek, Mitsi bak koek, met illustrasies deur Cherylle Cowley, geskryf. Die doodgewone titel het mense egter geflous, want dit was ’n fantasieverhaal wat in ’n angswekkende situasie ontaard het. Die hoofkarakter het, toe sy alleen by die huis was, vir die eerste keer koek gebak en dinge het lelik skeefgeloop, maar op die ou einde was alles net ’n droom.

Ondanks sy herhalende periodes van depressie en behandeling, het hy hom in musiek en digkuns uitgeleef, en sy gedigte is in talle uiteenlopende tydskrifte gepubliseer. Hy was ook geruime tyd die musiekresensent vir ’n groot Afrikaanse dagblad. Die laaste twee jaar van sy lewe was sy gesondheid so swak dat dit nie vir hom moontlik was om ’n betrekking vol te hou nie, en hy het by sy broer Deon, ’n professor in forensiese medisyne aan die Universiteit van Kaapstad gewoon. Hy is verskeie kere by die nabygeleë Gardens Nursing Home opgeneem vir behandeling. In Desember 1973 het hy die begeerte uitgespreek om ’n laaste keer terug na die familieplaas toe te gaan. Op Nuwejaarsdag in 1974 het hy egter van die plaas af teruggekeer.

In die vroeë oggendure van 4 Januarie 1974 is Wilhelm in ’n private verpleeginrigting in die ouderdom van 38 jaar in sy slaap oorlede. Daar is aanvanklik vermoed dat hy sy eie lewe geneem het, maar hierdie teorie is die nek ingeslaan toe die amptelike ondersoek bevind het dat sy dood die gevolg van ’n respiratoriese probleem was. Hy is oorlede tydens ’n hiper-maniese aanval waarvoor hy massiewe dosisse, wat sy asemhalingstelsel onderdruk en sy dood veroorsaak het, ontvang het. Hy is op 8 Januarie op die familieplaas begrawe.

deur Daantjie Badenhorst