“DIE AFRIKANER BLY ’N ONUITDELGBARE ELEMENT”
JDKestell verwoord in Met de Boeren-commando’s (1903) die Afrikaners se wil om voort te bestaan: “God het die Afrikaanse volk in die groot stryd gevorm. Dit is nie uitgedelg: sy taal is nie vernietig nie. Die mag van die vyand het dit wel oorweldig, het dit soos ’n magtige golf oorstroom, maar die Afrikaner-sin en -gees bestaan nog. Geen swaard kan die wil laat buig, geen geweld kan die gees onderdruk nie. Die Afrikanervolk bly ’n onuitdelgbare element in die Britse Ryk.”
Die verset het geblyk op sommige plekke wat Joseph Chamberlain, Britse minister van kolonies, van Desember 1902 tot Februarie 1903 ondervind het. Hy was saam met Milner die groot oorlogstoker. GD Scholtz skryf: “En nou het hy gekom om soos ’n Romeinse veldheer, wat groot oorwinnings op die slagveld behaal het” ’n triomftog te maak om die “British supremacy” behoorlik op die gees van die Afrikaners af te druk. Met dié besoek het die Britse imperialisme een van sy grootste hoogtepunte bereik.
Chamberlain het op 8 Januarie 1903 sy eerste ontmoeting met Afrikaners gehad: onder andere genls. Botha, Smuts, De la Rey, Burger en Beyers. Hulle het onder meer gekla oor die manier waarop die administrasie hul taal behandel. ’n Heel ootmoedige Smuts het verklaar dat lojaliteit aan sy regering kenmerkend van die Afrikaner is. Respekteer net sy gevoelens en tradisies, en die regering sal agterkom “that there is no portion of the British Empire more loyal than the people of the Transvaal”. Op versoek van Botha het die afgevaardigdes Chamberlain drie hoera’s toegeroep.
Ook op ander plekke soos Johannesburg, waar hy twee weke die gas van Milner was, Potchefstroom, Mahikeng (destyds Mafeking), Grahamstad, Port Elizabeth en Kaapstad was die ontvangs hartlik. “You must feel … that any aspirations for a separate Dutch identity … are absurd and ridiculous.” Dit was sy woorde in Grahamstad. Op Potchefstroom het hy die hoop uitgespreek dat die Afrikaners “will share our pride in being members of a greater Empire”.
Maar op ’n paar plekke was daar openlike tekens van verset teen die Britse planne. Die duidelikste was in Bloemfontein. Hier het hy ’n groep Afrikaners onder De Wet en Hertzog te woord gestaan. Die ontmoeting van 45 man staan in skrille kontras met dié in Pretoria. Hier was geen hoera’s nie, maar ’n konfrontasie. Die onderhoud van 2½ uur het stormagtig verloop. Onder meer het die Vrystaters gekla dat daar van kompensasie en die onderrig van hul moedertaal op skool weinig tereggekom het. In die onderhoud het Hertzog Chamberlain deurgaans sterk geopponeer. Die belang van die konfrontasie lê nie in wat bereik is nie, maar in die gees van onversetlikheid teenoor die polities magtigste man in Brittanje.
Ook op twee Afrikaanse dorpe was daar ’n kille ontvangs: Graaff-Reinet en die Paarl. Op Graaff-Reinet het hy ’n aanval op die Afrikanerbond gedoen. In die Paarl het ’n klein groepie mense Chamberlain op die stasie begroet. Die strate was leeg en stil. Geen poging is aangewend om versierings aan te bring nie. Vir ’n eetmaal is 800 uitnodigings uitgestuur maar 200 het opgedaag. Hy kon sy gekrenktheid oor dié afjak skaars verberg.