SCHALK BURGER (1862-1918)
BEKWAME MAAR SWYGSAME BURGER
Sprekende van Schalk Burger het president Kruger hom eenkeer die volgende opmerking laat ontval: “ ’n Bobbejaan wil altyd praat. maar het nooit iets om te sê nie: Schalk Burger het altyd iets om te sê, maar wil nooit praat nie.” Hierdie opmerking tipeer die persoon van Burger beter as enigiets anders.
In die Volksraad van die gewese Republiek, waarvan hy lank lid was, het hy heel selde gepraat, maar wanneer hy opgestaan het om iets te sê, het die ander lede eerbiedig geluister, omdat hulle goed geweet het dat Oom Schalk hom gesaghebbend sal uitlaat. Daarby was hy besonder welsprekend, sodat hy sy gedagtes maklik aan sy medelede kon kenbaar maak.
Hoewel Schalk Burger tot feitlik die hoogste sport in die openbare lewe geklim het, is die kinderlike eenvoud van die persoon verder nog opmerkenswaardig. Sy kleredrag en eenvoudige leefwyse bewys dit. Daarby was hy besonder geheg aan sy landelike omgewing: gewortel in die Transvaalse Boswêreld, kon hy hom nie maklik daarvan losskeur nie.
Hy is gebore in Lydenburg, het daar groot geword, het sy distrik op die slagveld gelei, dit daarna in die Parlement verteenwoordig en is uiteindelik na sy dood aan die skoot van dieselfde omgewing toevertrou. Hy is naamlik op sy plaas Goedgedacht, naby Krugerspos, in die distrik Lydenburg, begrawe.
Burger het tot die openbare lewe van sy volk toegetree nadat hy tot veldkornet gekies is, ’n betrekking wat hy tot aan die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog beklee het. Gedurende die oorlog word hy kommandant, met die herstel van die Republiek se onafhanklikheid word hy lid van die Volksraad, en op 6 Mei 1896 nie-offisiële lid van die Uitvoerende Raad. Nog voordat hy lid van die Uitvoerende Raad geword het, was hy ’n tydlank voorsitter van die Volksraad.
Kort daarna, met die vierde verkiesing van Staatspresident na die Eerste Vryheidsoorlog, het Schalk Burger hom ook verkiesbaar gestel. Behalwe Kruger was Joubert ook nog kandidaat. Die uitslag was egter ’n groot oorwinning vir Kruger, wat 12 858 stemme gekry het. Burger en Joubert het onderskeidelik 3 753 en 2 001 stemme gekry.
Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog tree hy weer as kommandant van die Lydenburgers op. Te lank het hy egter nie aan die aktiewe strydverrigtinge deelgeneem nie. Nadat Piet Joubert vroeg in die oorlog dood is en president Kruger na die inname van Pretoria na Europa vertrek het, word Burger Waarnemende President. In hierdie hoedanigheid het hy die vredesvoorstelle ontvang en die verrigtinge te Vereeniging gelei.
Ná die oorlog vertrek hy na Europa om met Kruger in aanraking te kom, en hom by die Boeredeputasie Botha, De Wet en De la Rey te voeg. Nadat Transvaal verantwoordelike bestuur gekry het, word hy lid van die Wetgewende Raad vir die kiesafdeling Lydenburg. Nog later word hy ’n Transvaalse Senator.
Ook het hy gedurende die na-oorlogse tydperk aktief belang gestel in die partypolitiek, en was as sodanig ’n getroue ondersteuner van generaal Botha, eers in “Het Volk,” waarvan hy die ondervoorsitter was, en daarna in die “Suid-Afrikaanse Party.” Gedurende die laaste paar jaar van sy lewe het sy liggaamskragte as gevolg van sieklike omstandighede sterk verminder, sodat hy hom alhoemeer aan die publieke lewe onttrek het.
Waarnemende president van die Zuid-Afrikaansche Republiek na die vertrek van President Kruger
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Schalk Burger (Elliott-versameling, Kaapse Argief)
