EUGÈNE MARAIS EN ANDER REPUBLIKEINSE REDAKTEURS

‘nNeef van Johan Koopmans, en huisvriend van die Koopmans De Wet-familie was dr. Frans Vredenrijk Engelenburg. Hy het in 1889 die redakteur van De Volksstem geword en dit met ’n paar onderbrekings gebly tot in 1929. Sy kennismaking met pres. Kruger was nie alte gelukkig nie. Die president was op sy stoep, en die jong Hollander het, toe hy die trap opstap, met elke tree diep gebuig en sy pluishoed afgehaal en geswaai, soos dit destyds formaliteitshalwe nodig was as mens ’n Europese staatshoof besoek. Toe die besoeker sy derde buiging maak, het Kruger gesê: “Man, as jy dit weer doen, slaan ek jou op die kop!” Maar Engelenburg en die President het goeie vriende geword, en Engelenburg het altyd as sy verdediger opgetree. In 1895 het De Volksstem ’n dagblad geword, die eerste Nederlandse dagblad in die land.

’n Groot teenstander van Kruger was Land en Volk onder leiding van J de V Roos en die later bekende digter Eugène Marais. Die blad was anti-Hollander en het die progressiewe groep van genl. Piet Joubert, Ewald Esselen en Koos de la Rey gesteun. Die uitlander-mynhuise het Land en Volk geldelik gesteun, terwyl Kruger De Volksstem gesubsidieer het. Eersgenoemde het teen nepotisme en korrupsie te velde getrek. So skerp het Marais die regering aangeval dat hy herhaaldelik weens laster gedagvaar is. Een keer het Kruger hom selfs op die openbare galery van die Volksraad laat arresteer op aanklag van hoogverraad en majesteitskennis omdat Marais beweer het dat die president onwettig reiskoste van die staat geëis het. Hy is onskuldig bevind en ontslaan. Marais het die Afrikaanse taalbeweging ondersteun deur aanvanklik dele van die nuus en selfs hoofartikels in Afrikaans te plaas. Sy spelling staan nader aan die huidige Afrikaans as dié van SJ du Toit. Teen die einde van 1891 het Marais met Afrikaans opgehou en was Land en Volk Hollands. Die progressiewe was, soos party NG predikante en Kapenaars, teen die oorheersende plek van Hollands in die onderwys, maar het nie geywer vir Afrikaans nie, eerder vir meer Engels.

Die belangrikste Vrystaatse redakteur was ’n gebore Duitser, Carl Borckenhagen, wat om gesondheidsredes na Suid-Afrika gekom en in 1877 redakteur en in 1880 die alleen-eienaar van De Express en Oranje Vrijstaatsch Advertentieblad geword het. Hy het die koerant opgebou van ’n sukkelende blad tot die invloedrykste in die Vrystaat. Anders as The Friend het hy die regte en onafhanklikheid van die Vrystaat steeds verdedig. Selde het ’n buitelander die gevoelens van die Afrikaner so goed vertolk, sê GD Scholtz. Hy het volhardend gestry teen die verdringing van Hollands deur Engels in staatskantore, stadsraads- en ander vergaderings en in die twee grootste skole van Bloemfontein, Greykollege en Eunice.

Hoewel Borckenhagen eers teen Afrikaans as skryftaal was, het hy onder invloed van FW Reitz en dr. J Brill van mening verander. Daar was ook goeie samewerking met Die Afrikaanse Patriot veral ná ’n besoek van “Oom Lokomotief”, DF du Toit, aan Bloemfontein in 1881. Die meerderheid lesers was egter teen Afrikaans as skryftaal, sodat De Express maar by Nederlands gebly het. In 1891 het ’n oudpredikant, Nico Hofmeyr, redaksielid geword. Hy was skrywer van Kijkjes in onze geschiedenis, ’n leesboek vir die skool en gesin, waarvan tot in 1921 100 000 eksemplare verkoop is. Die volkslied Afrikaners landgenote is ook deur hom geskryf: “Afrikaners, landgenote / wees getrou aan volk en taal! / Aan julselwe, aan elkander / van die Kaap tot aan die Vaal, / van Oranje tot Zambezi / in Natal en in Transvaal. / Afrikaners, landgenote / wees getrou aan Volk en Taal.”