FRANS ENGELENBURG (1863-1938)

Dr. Frans Engelenburg was ’n Suid-Afrikaanse joernalis en koerantredakteur wat twee keer voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was.

Frans Vredenrijk Engelenburg is op 17 Maart 1863 in Arnhem in Nederland gebore. Hy het sy doktorsgraad in 1889 met lof aan die Universiteit van Leiden behaal en hom daarna as advokaat in Den Haag gevestig. Hy was ’n tyd lank ’n medewerker van die Dagblad van Zuid-Holland en ‘s-Gravenhage in Den Haag, asook talle ander Europese koerante. In 1889 het hy die Kaap as gas van sy aangetroude tannie Marie Koopmans-de Wet, wat vir hom ’n voorstellingsbrief aan pres. Paul Kruger gegee het, besoek. Hulle het mekaar die eerste keer ontmoet toe sy na Europa gereis het en omdat hulle albei in kuns belanggestel het, het hulle hegte vriende geword.

Met sy eerste besoek aan die Kaap het Engelenburg besluit om in Transvaal as advokaat te vestig, maar in dieselfde jaar het hy die redakteur van Die Volksstem geword, teen ’n vergoeding van £ 25 per jaar. Hy was ook ’n tyd lank mede-eienaar van die koerant. Dit was die eerste Afrikaans-Hollandse dagblad Noord van die Oranjerivier. In 1897 het Engelenburg sy vaderland besoek om reëlings te tref om De Volksstem te koop. Hy het al die bates bekom, maar die drukker Izaak Wallach het die helfte daarvan mettertyd oorgeneem. Die naderende Anglo-Boereoorlog het Engelenburg genoop pm die koerant van ’n tweeweeklikse publikasie na ’n dagblad te verander. Die doel van die koerant was om die Zuid-Afrikaansche Republiek teen binnelandse en buitelandse aanslae te verdedig. Met die uitbreek van die oorlog het Engelenburg na die front vertrek en ’n velduitgawe die lig laat sien. Die eerste velduitgawe het op 27 Oktober 1899 op Glencoe in Natal verskyn. Hy het ook as oorlogskorrespondent vir ’n aantal nuusblaaie in Europa opgetree. In 1900 het hy hom terug na Pretoria gehaas, maar die Britse owerhede het hom in hegtenis geneem, geboei en uit die land gesit. Hy het na Stellenbosch gegaan en daarna twee jaar lank deur Europa gereis. Daar het hy dr. Willem Johannes Leyds met ’n inligtingsdiens rakende die oorlog bygestaan. Weens die rampspoedige verloop van die oorlog is publikasie van De Volksstem van Junie 1900 tot Maart 1903 gestaak.

In Februarie 1903 het Engelenburg na Suid-Afrika teruggekeer en in hierdie tyd het genls. Jan Smuts en Louis Botha die leiding geneem om die koerant weer te laat verskyn, hierdie keer as ’n tweeweeklikse publikasie. In Mei 1904 is ’n vergadering op die perseel van die koerant gehou waar die afgevaardigdes, onder wie Engelenburg, besluit het om Het Volk as politieke party vir die Afrikaners in Transvaal te stig. Net soos die koerant voor die oorlog ’n spreekbuis van pres. Paul Kruger en die regering van die ZAR was, het dit ’n spreekbuis vir genls. Botha en Smuts geword.

Aan die begin van die twintigste eeu het Engelenburg en die koerant hulle vir Uniewording beywer. In Januarie 1905 is ’n nuwe onderneming, Wallach’s Printing and Publishing Company Ltd, opgerig met ’n groter kapitaal ten einde die koerant voort te sit. In 1909 was hy een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en hy was van Februarie tot Oktober 1923 en weer van Oktober 1930 tot Oktober 1932 die voorsitter. In 1918 het Engelenburg genl. Botha vergesel na die vredesonderhandelinge in die Franse stad Versailles wat ’n einde aan die Eerste Wêreldoorlog sou maak.

Engelenburg is na sy bedanking as redakteur van De Volksstem op 2 Junie 1924 met die Brits-gebore Amalia Marguerite Halliday getroud. Sy is op 20 Januarie 1932, skaars agt jaar nadat hulle getroud is, in die ouderdom van 48 jaar oorlede terwyl hy aan haar sy was. Dit was vir hom ’n groot slag en het gemaak dat hy ’n ligte beroerteaanval gekry het. Hy het per boot na die Verenigde State van Amerika vertrek, waar hy ses weke lank in die Johns Hopkins-hospitaal in Baltimore behandel is. Terug in die Kaap het sy goeie vriend, die digter en skrywer dr. C Louis Leipoldt, gevra dat suster LG Liesching hom op die treinreis na Pretoria moes vergesel. Hy het nooit regtig van hierdie beroerteaanval herstel nie en sy sou hom nog ses jaar lank verpleeg. Hoewel goeie vriende hom nog besoek het, het hy hom aan alle openbare verpligtinge onttrek. Vroeg in 1938 het hy weer ’n beroerteaanval gekry en op 21 Augustus 1938 is hy in die ouderdom van 75 jaar oorlede. Die Engelenburg-huis teen Meintjeskop in Pretoria wat hy in 1903 laat bou het en deur Sir Herbert Baker ontwerp is, is ingevolge sy testament aan die regering bemaak en ’n gedeelte van die huis is in ’n museum, onder kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, omskep. Die huis en sy inhoud het later die eiendom van die Akademie geword en die kantore van die Akademie was in die huis.

Engelenburgstraat in die voorstad Groenkloof, wat George Storrar-rylaan met Van Wouwstraat met mekaar verbind, is na hom vernoem.

Daantjie Badenhorst