POLITIEKE STRYD EN DIE HERTZOGPRYS
Politieke spanning het al van vroeg af bestaan tussen genl. Botha, eerste minister, en genl. Hertzog, sy minister van justisie. Botha wou die Engelssprekendes nie afskrik nie, en hulle was teen Hertzog oor sy onderwysbeleid in die Vrystaat. Sommige Afrikaners het al voor Uniewording vreemd begin staan teenoor Botha. Hy het die welwillendheid van die Britse regering en publiek probeer werf deur die Cullinan-diamant – die grootste diamant wat ooit gevind is – aan koning Eduard VII te skenk. Dié diamant van 3025 karaat is op 25 Junie 1905 in die Premiermyn naby Pretoria gekry. Sommige Afrikaners het die skenking beskou as ongevraag en onvanpas in ’n tyd van geldnood. En dan so ’n reusegeskenk aan die Afrikaners se aartsvyand! Botha was egter ’n man met ’n groot persoonlike aanhang.
Hertzog kon weer op baie volgelinge staatmaak onder Afrikaners wat sterk gevoel het oor hul taal. Die Engelse vyandigheid teenoor hom het ’n vroeë hoogtepunt bereik toe hy as Vrystaat se minister van onderwys in 1909 drie inspekteurs van onderwys afgedank het omdat hulle sy onderwyswet wou laat verongeluk. Dit was dié wet wat Hollands en Engels op gelyke voet geplaas het. Die drie inspekteurs was woedend en een van hulle het £1000 skadevergoeding van Hertzog geëis ná iets wat hy in Augustus 1910 op ’n vergadering gesê het. Die hof het op 2 November 1911 skadevergoeding van £25 toegeken, maar Hertzog moes ook die hofkoste betaal.
Afrikaners oor die hele land, veral die Vrystaters, het die hofsaak ook as húl saak beskou en spontaan besluit om die hofkoste te betaal. Ryk en arm het bygedra: van 3d. tot £25; £2272 is ingesamel. Die geld is op 27 Junie 1912 in Kaapstad oorhandig. Nadat die hofkoste afgetrek is, was daar ongeveer £1200 oor. Dit het Hertzog aan die Akademie geskenk. Die rente daarop moes gaan vir die aanmoediging van “nationale lectuur”, sowel geskiedkundig as belletristies. So is die Hertzogprys in 1914 geskep, die literêre prys in Afrikaans met die grootste prestige. Die eerste Hertzogprys is in 1916 aan Totius toegeken vir Trekkerswee.
Intussen het Hertzog voortgegaan met sy toesprake oor taalgelykheid. Op 5 November 1912 het hy op Nylstroom gesê dat “die Afrikaner” nie deur vreemdelinge geregeer moet word nie. Die Afrikaners, en dit sluit Engelssprekendes in wat in die land gewortel is, moet baas wees in die politiek, die onderwys en administrasie. Daarop het die Engelse van Natal gereageer “net soos ’n wilde perd wat jy ’n blik aan die stert gebind het”, het Botha op 12 November aan pres. Steyn geskryf. Nog groter was die verontwaardiging oor ’n toespraak van Hertzog op 7 Desember 1912 op De Wildt naby Rustenburg. Ná die oorlog, het Hertzog gesê, was daar vir die Afrikaners twee moontlikhede. Die een was om afstand te doen van hul taal, en dus hul volkskarakter, en die tweede was om vir die behoud van hul taal te stry as mense met eer en selfrespek. Ter wille van die volk en homself het hy die laaste gekies. Taal is maar een één punt, sy dit ’n gewigtige, van ’n veel groter kwessie, dié van ’n Suid-Afrikaanse nasionalisme. Elke wit mens wat hom verbind het om te ywer vir Suid-Afrika, en besiel is met ’n ware Suid-Afrikaanse gees, het deel aan die Suid-Afrikaanse nasionalisme. Hertzog het gesê dat, waar die belange van Suid-Afrika in stryd is met dié van die Britse Ryk, Suid-Afrika eerste moet kom. “Imperialisme is net van belang vir my wanneer dit van nut is vir Suid-Afrika, vir my land en my volk; anders het ek net op ’n afstand respek daarvoor. En as dit teenstrydig is met die belange van Suid-Afrika en sy bevolking, is ek ’n besliste vyand van die imperialisme.” Die mense het hom daaroor toegejuig. Drie dae later het ’n Natalse minister, kol. sir George Leuchars, bedank. Ná vergeefse pogings om die geskil te besleg, het ook Botha bedank, maar die goewerneur-generaal, lord Gladstone, het hom gevra om ’n nuwe kabinet saam te stel. Hy het Hertzog uit sy tweede kabinet weggelaat. Die ander Vrystaatse lid in die kabinet, Abraham Fischer, het ondanks raad van Hertzog en pres. Steyn minister gebly.