10 JANUARIE – DIE AGTERUITGANG VAN DIE KHOI-KHOIN

Teen 1679 was die Kaap nog nie aantreklik vir die amptenare nie; niemand het lus gehad om hom blywend aan die Kaap te vestig nie. Maar die meerderheid vryburgers het ondanks hul moeilikhede geen verlange gehad om na Nederland of Batavia te gaan nie. Wanneer een van hulle dood is, het die weduwee selde gevra om na Holland terug te keer. Vir die vryburgers het die Kaap reeds húl land begin word. Hulle was ook nie meer saamgetrek in die omgewing van Tafelberg en die Liesbeek nie, maar het al hoe verder en verder getrek.

Die eerste werklike skool vir die Kaapse kinders, wit sowel as gekleurd, is in 1663 geopen met twaalf wit, vier slawe- en een Khoi-Khoi-kind. ’n Jaar daarna was dit 29, maar die sieketrooster, wat tegelyk skoolmeester was, was te lief vir die wyn en is in 1666 na Batavia verban. Die volgende sieketroosters en fiskale het onderwyser gespeel, maar weens talle onderbrekings sonder veel sukses. Teen 1677 is ’n permanente skool weer ingestel, en in 1679 was daar 32 wit, elf “gemengde” en vyf slawekinders op die skoolbanke. Amptenare het die AB-boekies, “Historiën van Dawid, Tobias en anderen”, psalmboekies en “lode pennetjes” (potlode) uit Nederland bestel.

Ook op kerklike gebied was daar vordering. Aanvanklik moes die sieketrooster ’n deel van die werk van ’n predikant doen, maar in 1665 het die Kompanjie ds. Joan van Arckel as eerste predikant aan die Kaap aangestel.

Terwyl die Nederlanders al meer gevestig geraak het, het die Khoi-Khoi-samelewing langsaam verbrokkel. ’n Tweede Khoi-Khoi-Nederlandse oorlog, van 1673 tot 1677, het in ’n nederlaag vir die invloedryke kaptein, Gonnema, geëindig. Die sterkste en mees anti-Nederlandse Khoi-Khoi-kaptein is voor vriend en vyand verneder. Hy moes jaarliks 30 stuks vee aan die Kompanjie betaal. Daarby het die Kompanjie meer beheer begin kry oor sy bondgenote in die stryd teen Gonnema. Die Kompanjie het vir die eerste keer homself die reg gegee om op te tree as bemiddelaar in geskille tussen Khoi-Khoi-groepe.

Terwyl die gesag van die kapteins afgeneem het, het al hoe meer Khoi-Khoin vir die koloniste begin werk. Reeds in Van Riebeeck se tyd was party in diens as koksmaats, knegte, bouarbeiders en boodskappers. Die uitbreiding van die kolonie ná 1679 het die behoefte aan Khoi-Khoi-arbeid laat toeneem, veral onder vryburgers wat nie slawe kon bekostig nie.

Die Khoi-Khoin se rykdom het vinnig verminder – van 1652 tot 1699 het hulle sowat 36 000 skape en 16 000 beeste aan die Kompanjie verruil. Hulle het veral sedert die 1690erjare in groot getalle op die plase gaan werk, maar ’n paar het in Kaapstad ’n karige bestaan gevoer as kruiers vir matrose en bodes vir die eienaars van eet- en drinkplekke. As loon het hulle nie vee gekry sodat hulle nuwe troppe kon opbou nie, en so het hulle vir goed vir die Khoi-Khoi-samelewing verlore gegaan. Die opname van die Khoi-Khoin in die Kaapse ekonomie is versnel deur die uitbreiding van die wit gemeenskap aan die Kaap onder ’n nuwe kommandeur, Simon van der Stel.