11 MEI

GEBEURE

1903 – Genl. Louis Botha lê die hoeksteen van die NG Kerk in Bosmanstraat, Pretoria

1909 – SA-Wet onderteken

Die konsep-Suid-Afrika-Wet is op hierdie datum deur die onderskeie afgevaardigdes geteken, maar die debat oor die inhoud van die wet het voor en na hierdie dag ernstige afmetings aangeneem. Die Transvaalse en die Vrystaatse parlement het dit onderskeidelik eenparig bekragtig. In Kaapland is dit met twee teenstemme goedgekeur. Natal het eers ’n referendum daaroor gehou. Van die 58% kiesers wat wel gestem het, het 66% daarvoor en 33% daarteen gestem. Kleurlinge en swartes het byeenkomste teen die wet gereël en onder WP Schreiner tevergeefs in Londen beswaar gemaak. Koning Edward VII het dit op 20 September 1909 onderteken. Die kleu beklemtoning van die wet was die rede vir die onaanneemlikheid in bepaalde kringe. Maar ekonomiese, blanke, spoorweg- en eenheidsake het swaarder geweeg, sodat unifikasie, hoewel met federale eienskappe, van die vierledige Suid-Afrika deurgevoer is. Baie Afrikanerleiers wou deur hierdie staatkundige eenheid veral die Afrikanervolk landwyd saamsnoer, ten einde sy slaankrag te verhoog. Die erkenning en verskansing van Hollands as taal was ’n groot faktor in hierdie verband. Die Suid-Afrika-Wet het verder die provinsiale stelsel onderskryf en vir 121 Volksraadslede, van wie tien ministers sou wees, voorsiening gemaak. Die wetgewende mag was in die hande van die Goewerneur-generaal (Gladstone van Brittanje), die Senaat en Volksraad gesetel. Louis Botha is later deur hom as premier aangewys bo John X Merriman, en hy het sy ministers uit die regerende partye van die vier gebiede aangestel. Sir Henry de Villiers was die eerste hoofregter. ’n Eerste algemene verkiesing is eers na 31 Mei 1910 gehou, nadat die Unie-kabinet begin funksioneer het. Die Britse hoë kommissarisgebiede – Betsjoeanaland, Swaziland en Basoetoland – sou volgens algemene opvatting spoedig tot die Unie gevoeg word, en voorwaardes vir hulle toekomstige regerings is as bylae van die Suid-Afrika-Wet opgeneem; dis ’n gedagte wat totaal anders verloop het.

1971 – Die eerste duikboot vir die Suid-Afrikaanse Vloot, die SAS Maria van Riebeeck, kom in Suid-Afrika aan.

1973 – Die Teater-, Rolprent- en Uitsaaikunstekomitee van die FAK gestig

Die Hoofbestuur van die FAK het op hierdie dag, na aanbevelings van ’n ondersoekkomitee, besluit “dat ’n onderkomitee van die Hoofbestuur vir Teater-, Televisie- en Rolprentsake ingestel word, en dat die komitee uit vyf benoemde lede bestaan.” Die eerste komiteevoorsitter was prof. G Cronje. Die komitee, waarvan die naam op 4 Julie 1977 in Teater-, Rolprent- en Uitsaaikunstekomitee verander is, se opdrag is om die Hoofbestuur van raad te bedien oor die bevordering van Afrikaanse teater-, rolprent-, televisie- en verwante aangeleenthede; die beroepsmoontlikhede en opleiding van die Afrikaner in die teater-, rolprent- en televisiebedryf; en die aanmoediging van Afrikaanse skeppende en uitvoerende kunstenaars in die bedrywe.

 

GEBOORTES

1897 – Prof. IW van der Merwe (Boerneef), skrywer, digter, leksikograaf en akademikus († 2 Julie 1967)

Izak Wilhelmus van der Merwe, gebore op Boplaas, Ceres, was bestem om aan die Afrikaanse taal ’n nuwe dimensie te besorg. Hy het die klankrykheid van sy taal ontgin soos geen Afrikaanse skrywer/digter voor hom nie. Boerneef was hartstogtelik verknog aan sy kontrei: Die Kro, die Kamdebo, Koorsteenberg en Katbakkies; Sikketaarskloof, Soebatsfontein, Speserykloof. Later word hy stedeling en nog later hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is op 2 Julie 1967 op 70-jarige ouderdom oorlede, en die Hertzog-prys vir poësie in 1968 word postuum aan hom toegeken: ’n paslike erkenning vir hierdie beskeie digter wat ons letterkunde verryk het met sy sprankelende, plooibare, eenvoudig treffende Afrikaans.

1920 – Jan Hofmeyr Louw, predikant († 22 November 1968)

Jan Hofmeyr Louw is op 11 Mei 1920 op Boksburg gebore en was van moederskant verwant aan “Onze Jan” Hofmeyr. Hy ontvang sy teologiese opleiding op Stellenbosch. Hy word predikant van die gemeente Loubser in Kenia en het hom afgesloof om gemeentelede van die NG Kerk te gaan opsoek, tot aan die grens van Abessinië, oos tot by die kus, noorde en suid van Mombassa. Hy was ook konsulent van die gemeentes Meru in Tanganjika en Vergenoeg in Eldoret, Kenia. Benewens sy veeleisende gemeentewerk het hy die opvoeding van die kind warm op die hart gedra. Deur sy ywer en dryfkrag, het die Van Riebeeck-skool (kerkskool) in 1950 met die buitengewone hulp van die FAK op Thomson’s Falls tot stand gekom. Onder sy leiding en liefde en bestuursvernuf was hierdie skool tot by die “Uhuru” die brandpunt van opvoeding en kultuur vir die Afrikanergemeenskap van Midde-Afrika. Ook is ’n eie Van Riebeeckfees in 1952 deur sy toedoen gehou en ’n nuwe kerk gebou. Van vakansie vir hom was daar min sprake, dog in enkele afknyptydjies het hy onder meer die Kilimandjaroberg – tot heel bo – die Keniaberg en die Maanberge geklim. In Mei 1954 is hy met Joan Carstens getroud. Vier kinders is uit die huwelik gebore. In 1961 het hy teruggekeer na Suid-Afrika, waar hy tot met sy afsterwe in 1968 predikant van die gemeente Pretoria-Oos was.

1922 – Eve Boswell, sangeres († 14 Augustus 1998)

Eve Boswell was ’n sangeres wat in Hongarye gebore is. Sy en haar gesin kom in 1939 saam met die Boswell-sirkus na Suid-Afrika, en sy verander later haar van na Boswell. Na ’n tydperk van werk in Engeland keer sy na Suid-Afrika terug en vestig haar in Durban. Van haar treffers sluit in “Sugarbush” (“Suikerbossie”), “Daar lê die ding” en “Mamma, ‘k wil ’n man hê”.

1952 – Reza de Wet, ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg († 27 Januarie 2012)

Reza de Wet was ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg wat die Hertzogprys twee keer gewen het.

Frederica (Reza) de Wet het in 1970 aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein gematrikuleer en reeds hier met haar loopbaan as aktrise begin. Sy het vanaf 1971 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer en haar BA-graad met Engels en drama as hoofvakke verwerf. In hierdie tyd het sy deurentyd toneel gespeel, en onder meer die rol van Nina in Anton Tschekov se opvoering 𝘋𝘪𝘦 𝘴𝘦𝘦𝘮𝘦𝘦𝘶 vertolk. Op twintigjarige leeftyd het sy haar toekomstige eggenoot, die Ierse akteur en regisseur Lindsay Reardon, wat een van die stigters van die Markteater was, ontmoet.

Nadat sy na Kaapstad verhuis het, het sy haar nagraadse diploma in drama aan die Universiteit van Kaapstad verwerf, gevolg deur ’n BA-honneursgraad in Engelse letterkunde. Hulle het egter terug na Johannesburg verhuis, waar sy haar by die eksperimentele Arena Company van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit het.

In 1982 het sy, haar man en haar dogtertjie na Grahamstad verhuis, waar sy aan die Rhodes-Universiteit klasgegee het in drama, en later as medeprofessor aangestel is. Intussen het sy verder gestudeer en haar MA-graad in Engels met lof aan UNISA verwerf met ’n tesis oor die Engelse skrywer Henry James. Op Grahamstad was sy die regisseur van verskeie dramas wat deur die Rhodes-Universiteit se dramadepartement opgevoer is. Aan die einde van 2007 het sy by Rhodes afgetree en in 2011 het sy vir die eerste keer in twintig jaar as aktrise opgetree toe sy in ’n opvoering van haar drama, 𝘋𝘪𝘦 𝘴𝘦𝘦, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien was.

In Oktober 2011 is bloedkanker by haar gediagnoseer en op 27 Januarie 2012 is sy in die ouderdom van 59 jaar oorlede.

1959 – Jimmy Abbott, bokser en pastoor (21 Maart 2021)

Jimmy Abbott was ’n Suid-Afrikaanse swaargewigbokser, rofstoeier en evangelis.

 

STERFTES

2016 – Winnie Rust, skrywer (* 14 April 1939)

2023 – Piet van Wyk de Vries, sanger (* 7 Mei 1972)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/