NASIONALE VROUEMONUMENT: GELD JARE LANK INGESAMEL
Op talle herbegrafnisse van oorlogslagoffers en onthullings van oorlogsmonumente het die leiers dit beklemtoon dat die kampslagoffers en burgers ook ter wille van hul geliefde taal gesterf het. Hul getrouheid tot die dood roep Afrikaners op tot dieselfde trou teenoor taal en volk. Die taal en godsdiens is al wat hulle nog oor het, en dit sal hulle nooit prysgee nie.
Die belangrikste van al hierdie monumente is die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. Die gedagte daaraan het in die oorlog by pres. Steyn ontstaan. Tydens sy herstel in Europa was dit “asof hy nie gou genoeg kon terugkeer om sy ideaal te verwesenlik nie”, skryf MCE van Schoor. Vroeg in 1906 het Steyn in twee briewe Afrikanerleiers se steun gevra. Die briewe was aan die Sinode van die Vrystaatse NG Kerk, en ’n kongres van die Orangia Unie, die eerste Vrystaatse Afrikaanse politieke party.
Sy werkkomitee het uit bekende Bloemfonteiners bestaan (kyk by 13 Augustus) en op ’n kongres in Februarie 1907 het verteenwoordigers uit die ander kolonies bygekom.
Sommige mense het gepleit vir ’n skool, hospitaal of ander inrigting. Steyn het gemeen dit sou te duur wees om op te rig en in stand te hou. Bowendien kan geen inrigting die verbeelding van die volk so aangryp as ’n monument nie. Dit kon as stille getuienis dien van die martelaarskap van die vroue en kinders.
Op ’n kongres vroeg in 1907 het hy op ’n vraag geantwoord dat “’n miershopie van ’n monument” geen eerbewys sou wees nie en die oprigters tot oneer sou strek. Maar die monument hoef ook nie dadelik te kom nie. Die Afrikaners moet weer wys dat hulle kan aanhou en volhard in hul pogings.
Prof Jan Lion Cachet het oor ’n gedenkteken opgemerk: “Die Jood kyk na Jerusalem, die Mohammedaan kyk na Mekka, en so moet die Afrikaner ook ’n punt van sametrekking hê.”
Die eerste groot taak was om geld in te samel. Die aanvanklike skatting was £10 000 – wat gelyk staan aan sowat R4 miljoen in 2013. (Op die ou end was dit £12 000.) Die Afrikaners was bitter arm, en die geld het maar stadig gekom. Die lidmate van die NG Kerk, Gereformeerde Kerk en Hervormde Kerk, en lede van die Afrikaanse politieke partye het die insameling gedoen.
Pres. Steyn het ’n oproep om skenkings gedoen en self honderde kollektelyste onderteken. Maklik was dit nie, want hy moes weens sy siekte albei hande gebruik om die pen vas te hou. Mense het dadelik op hierdie oproep gereageer. Die eerste bydrae wat op die amptelike lys verskyn, is £5 van die Duitse Boerevriend, dr. Oskar Hintrager uit Duits-Suidwes-Afrika, tans Namibië. Hy het met die uitbreek van die oorlog as vrywilliger na Suid-Afrika gekom en aan die kant van die Boere geveg. Vrystaatse NG gemeentes soos Boshoff, Reddersburg, Wepener en Lückhoff het vroeg al geld ingesamel. Soos vir kerkbasaars het mense soms skape, bokke, hoenders, velle en tuis gekookte seep gegee. Debatsverenigings het konserte gehou en die opbrengs dan aan die monumentfonds geskenk. Die opbrengs van Totius se digbundel, Bij die monument (waaroor later meer) en ook ander bundels van hom is na die monumentfonds oorgedra. De Vriend des Volks het twee keer in 1907 en 1908 die “wonderbaarlike sukses” van die kollektante geprys. Met die onthulling het Steyn gesê: “Dit is opgerig nie alleen uit die rykdom van die rykes nie, maar veral uit die armoede van die armes.”
’n Prys van £100 is uitgeloof vir die beste ontwerp. Daar was groot mededinging en veertig ontwerpe en planne is ontvang. Die beoordelaars het die model van die beeldhouer Anton van Wouw, in medewerking met die Pretoriase argitek, Frans Soff, aanvaar. Die onthulling was op 16 Desember 1913. Daaroor later iets meer.