JAN LION CACHET (1838-1912)
HOLLANDER VAN GEBOORTE WORD VOORVEGTER VIR AFRIKAANS
Onder die helde van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging neem prof. Jan Lion Cachet ’n ereplek in. Hy was wel Hollander van geboorte, maar het hom, net soos Arnoldus Pannevis, vereenselwig met diegene wat Afrikaans tot skryftaal wou verhef in plaas van Nederlands. Daarom het Cachet ook een van die getrouste ondersteuners geword van die Patriot-manne van die Paarl en ’n ywerige medewerker, eers van Di Patriot en later van die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Klyntji, wat tot 1906 bestaan het.
Cachet was van Joodse afkoms, maar sy mense het in Holland onder die invloed van Da Costa die Christelike geloof aangeneem. In 1861 kom hy as onderwyser na Kaapstad, en hy hou later ook op Ladysmith, Natal, skool. Dit was egter altyd sy begeerte om in die teologie te studeer, en hy het deur toewyding en harde werk hom eindelik as leraar bekwaam.
In 1868 word hy die Gereformeerde predikant op Rustenburg. Eerlang word hy oorgeplaas na Burgersdorp as dosent aan die Teologiese Skool aldaar, en in 1875 word hy predikant op Philipstown.
Dit was in hierdie jare dat hy sy eerste belangstelling in die opkoms van Afrikaans begin toon het. Sy belangstelling in sy volksgenote het hom ook daartoe gelei om veel te doen vir die Dorslandtrekkers wat teen 1879 in die noordelike gedeeltes van Suidwes-Afrika beland het. Hy gaan self saam met ’n hulp-ekspedisie na Walvisbaai wat kos en klere uit Kaapland vir die mense moes neem.
Cachet word in 1883 predikant op Steynsburg en later professor aan die Teologiese Skool. Hy was nog in die Kolonie toe die oorlog in 1899 uitbreek. Een van sy seuns het hy verloor aan Boerekant en hyself is op aanklag van hoogverraad gearresteer, hoewel hy later losgelaat is.
In 1904 gaan hy saam met die Teologiese Skool na Potchefstroom en bly professor tot sy aftrede in 1910. Tot op sy sterfdag het hy ywerig gebly.
Lion Cachet se naam word in ons vroeë letterkunde vereenselwig met sy welbekende werk, “Die Sewe Duiwels en Wat Hulle Gedoen het.” Vyf van hierdie treffende sketse van die boerelewe, wat getuig van ’n noukeurige waarnemingsvermoë, het hy as bydraes vanaf 1882-1892 in Di Patriot Iaat verskyn en daarna het in Ons Klyntji in 1897 “Di Afgunsduiwel” en in 1898, “Di Baasduiwel” verskyn. Die boek is in 1907 as geheel uitgegee en het seker die grootste gewildheid verwerf van alle geskrifte uit die Eerste Taalbeweging.
Intussen het Cachet onder die skuilnaam “Neef Jan Wat Versies Maak” dikwels gediggies geskryf en ook enkele Nederlandse gedigte soos “De Vierkleur.” Dan het hy ook ’n werk, “De Geschiedenis der Hugenoten” in Afrikaans bewerk. Dit was as prosaskrywer dat hy veral uitgemunt het weens sy vermoë om met skerpe waarneming situasies uit die volkslewe te teken.
Daarby was hy ’n man met humoristiese siening; baie van sy tonele styg bo die gemiddelde uit, en wanneer dit by samesprake kom, het hy die kuns verstaan om lewendig en pakkend te skryf. Vandaar dat sy werk, veral by die jeug, ingang gevind het en baie bygedra het tot die vestiging van Afrikaans as prosataal.
Skrywer van Die sewe duiwels
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Jan Lion Cachet (Letterkundige leesboek, Bot & Kritzinger)
