12 MEI – SPOORWEË VERKORT LANG REISE OOR SWAK PAAIE
Op 22 April is terloops gemeld dat die ontdekking van diamante gelei het tot die bou van spoorweë na Kimberley. Soos elders ter wêreld het die koms van spoorweë die land ingrypend verander. Dit is vandag moeilik om jou voor te stel hoe stadig, moeisaam en dikwels gevaarlik dit voorheen was om op reis te gaan of goedere van een plek na ’n ander te vervoer. Een van die verdienstes van Ou Oom Jan is dat hy in sy Sewe Duiwels ’n deel van ’n vergane werklikheid laat herleef. In Di Geldduiwel skets hy ’n situasie wat in die jare van swak paaie baie lewens geëis het. Die gierige ryk ou oom moes gou by die dorp kom, maar die spruit was vol. Ná ’n lang gewag waag hy dit om deur te ry. Cachet beskrywe dan hoe die perde naderhand moes swem, die kar omslaan en die reisiger in die water beland en op die ou end sterf aan die beserings wat hy so opgedoen het.
Suid-Afrika is tans een van die lande met die hoogste padongeluksyfers ter wêreld. Maar ook voor die motor was daar padongelukke van alle soorte. So het twee De Beer-broers van Queenstown in 1860 te perd huis toe gery. Die pad het leeg gelyk en die twee het besluit om resies te jaag. Toe hulle bo-op ’n hoogte kom, kom hulle af op ’n paar kalwers wat daar gelê het en wat hulle nie kon sien nie. Die perde het oor die kalwers geval – die ruiters, perde en kalwers “waren voor een korten tijd onder elkander gemengd”, berig die Swellendamse blad De Overbergsche Courant van 15 Februarie 1860. Die dokter was gou op die plaas, maar die oudste seun was reeds sterwend. Die ander was erg beseer, maar het herstel.
Hoeveel disselbome het nie gebreek, hoeveel kinders nie onder kar- of wawiele beland as hulle voete by die op- of afklim aan iets vashaak nie! Dikwels het perde geskrik en op loop gesit met ’n kar as dit met een van die wiele oor ’n groot klip of miershoop ry. Die kar het gewoonlik omgeslaan en die mense daarop is beseer of gedood. Dit het ook gebeur dat ’n perd val, die disselboom breek, die perde op hol raak en die passasiers en die drywer uitgeslinger word. Soms het reisigers by ’n vol rivier of spruit moeg geword van die wag dat die water afloop, en dit dan maar met die kar en perde in die stroom gewaag met droewige gevolge. Ou Oom Jan vertel ook in Di drankduiwel van “bestuur onder die invloed”: “In woeste vaart gaan dit oor klippe en bosse, terwyl Hendrik maar gedurig sy sweep laat hoor … Die perde was egter gelukkig ’n dronk koetsier gewend.”
Omdat die perdekar en ossewa die vernaamste vervoermiddels was, het mense baie minder rondgereis as vandag. Jong mense het grootgeword sonder om meer as hul eie distrik en miskien ’n paar buurdistrikte te sien. Toe pres. Brand van die Vrystaat in 1881 na Natal is om as bemiddelaar tussen Transvaal en Engeland op te tree, het hy met ’n wa en agt muile gereis. Lede van sy geselskap het hom te perd vergesel. Dit het die hele ent van Bloemfontein tot by Newcastle gereën. Modder en water het van die muile se hoewe en van die wiele opgespat, en die pad was nat en glyerig. Op plekke moes die muile deur strome water gaan en soms was die grond so sag dat die wiele byna heeltemal weggesak het. Twee keer moes leë toegemaakte vate langs die wa vasgebind word sodat dit in ’n vol rivier agter die swemmende muile bo die water kon bly.
Dit het transportwaens vier tot ses weke gekos om van die Vrystaat Kaap toe te ry. Karavane van tot veertig ossewaens het met wol uit Bloemfontein na Port Elizabeth vertrek op ’n reis van 28 dae. Transport ry was een van die maniere waarop mense ’n bestaan probeer maak het. Dit was ook ’n goeie leerskool, want die sakemense het die transportryers dikwels probeer kul. ’n Vragbrief kon melding maak van 6000 pond, terwyl die handelaar 9000 gelaai het. ’n Slim man wat sy vrag weeg, kon aan die eindpunt dan 3000 pond agterhou, of ’n dubbele tarief vra vir die oorgewig. Dikwels het transportwaens passasiers saamgeneem. Die reis per poskoets van die Kaap na Kimberley het twee weke geduur, maar die reisiger moes baie betaal. Die transportwa was veel goedkoper. ’n Reis per kapkar van Kaapstad na Bloemfontein het die Nederlandse regsgeleerde en latere digter van die Vrystaatse volkslied, HAL Hamelberg, vyf weke gekos. Toe die jong JD Kestell en sy pa in 1871 na die diamantveld is, het die reis met die ossewa van Pietermaritzburg na Kimberley sowat twee maande geduur weens swaar reëns, en die modderpaaie sonder brûe.
Die eerste treinrit in Suid-Afrika was op 26 Junie 1860 op die drie kilometer tussen die Markplein en Punt in Durban. Sowat 800 mense het die vyf minute-lange rit meegemaak. Maar dit het nog sestien jaar geduur voordat begin is met ’n lyn wat Pietermaritzburg in 1880 en Ladysmith in 1886 bereik het.
Op 31 Maart 1859 het die Kaapse goewerneur, sir George Grey, die eerste sooi by Woodstock gespit vir die bou van ’n spoorlyn. Van 13 Februarie 1862 kon passasiers van Kaapstad na Eersterivier ry. Daarop het gevolg Stellenbosch (1 Mei 1862), die Paarl (18 Maart 1863), Wellington (4 November 1863) en Worcester (16 Junie 1876). Die spoorwydte is reeds in 1875 bepaal: 3 voet ses duim, oftewel 1067 mm. Hierdie “Kaapse wydte” sou geld vir die oorgrote meerderheid spoorweë wat in Suid-Afrika gebou is.
Van Worcester af was die volgende groot bestemmings Beaufort-Wes en Kimberley. In November 1883 het die spoorlyn die plek bereik wat vandag bekend is as De Aar. Toe was dit ’n nietige halte Brounger Junction. Die lyn vanaf Port Elizabeth het by die plek by die Kaapse lyn aangesluit. Op 31 Maart 1884 is die eerste trein amptelik daar verwelkom.
Dit was moeilik om arbeiders te vind. Genoeg wit immigrante kon nie gewerf word nie en die Xhosas het maklik gedros of weggebly ná hul verlof. Ook het waterpokkies in ’n stadium uitgebreek. Zoeloes is gewerf, maar op Kersdag 1883 het rasse-onluste uitgebreek en is sestig werkers dood. Troepe is van die Kaap af gestuur om orde te herstel.
Ná De Aar was die volgende groot struikelblok die Oranje. Op 27 Junie 1885 is die eerste lokomotief oor die brug en op 28 November 1885 is Kimberley bereik. Die lyn is daarvandaan verleng: ná ’n brug oor die Vaalrivier by Veertien Strome is Vryburg in 1890 bereik, Mafeking (Mahikeng) in 1894 en Bulawayo (in die huidige Zimbabwe) in 1897. Die lyn was deel van Cecil John Rhodes se plan vir ’n groot Britse Ryk wat strek van Kaapstad tot by Kaïro.
(Die presiese datums en ander besonderhede hierbo is te vinde in Boon Boonzaaier se gedetailleerde en ryklik geïllustreerde Spoorweë oor die veld.)