
13 AUGUSTUS
GEBEURE
1814 – Kaap word Britse kolonie
Die Kaap word ’n Britse kolonie nadat Brittanje volgens die Londense Konvensie, vyf miljoen pond aan Nederland betaal het.
1825 – Hoeksteen van Koninklike sterrewag in Kaapstad gelê
1837 – Zoeloes val “Veglaer” aan
Na die slag by Italeni en die mislukte strafekspedisie onder leiding van Cane, Biggar en ander teen Dingaan in April 1838, het die Natalse Voortrekkers in twee laers saamgetrek – een aan die Tugelarivier en die ander aan die Boesmansrivier, naby Estcourt, wat later as Veglaer bekend sou word. Op 13 Augustus 1838 het sowat tien Zoeloe-regimente Veglaer aangeval en drie dae lank vasbeslote probeer om die laer te oorweldig. Die rotsvaste verdediging van die klein klompie Voortrekkers, gelei deur Jacobus Potgieter en Hans de Lange, het egter gehou. Die verdediging van die laer is aansienlik versterk deur die kanon Ou Grietjie en hulp wat van Maritz se laer opgedaag het. Hoewel daar aan Voortrekkerkant geringe lewensverlies was – slegs een Voortrekker het gesneuwel teenoor ’n groot aantal Zoeloes – is feitlik al die vee van die Voortrekkers deur hulle aanvallers weggevoer. Na die slag het die Trekkers Veglaer verlaat en het die meeste hulle by die laer van Gerrit Maritz aangesluit.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Klipstapel, Ermelo
1908 – Dr. DF Malan lewer sy beroemde toespraak: Het is ons Ernst
Op hierdie dag het dr. DF Malan, algemene voorsitter van die ATV in die Kaapkolonie, ’n voorlesing voor die ATV van Stellenbosch gehou, getitel: “Het is ons Ernst”. Vir hom was die taalkwessie ’n volksaak en nie slegs ’n saak vir die taalgeleerdes nie. Volgens dr. Malan kon Nederlands slegs ’n kunsmatige bestaan in Suid-Afrika voer en nooit die volkstaal word nie terwyl Afrikaans in die volkshart en volksmond leef en die beste kans op voortbestaan in Suid-Afrika gehad het. Hy noem Afrikaans die “levende, krachtige volkstaal” wat onuitroeibaar is. ’n Lewende volkstaal sterf nie maklik nie want dit is die simbool van ’n selfbewuste nasionale lewe. Dr. Malan pleit in sy beroemde toespraak dat Afrikaans tot skryf- en kultuurtaal verhef word. Hy spreek ook die hoop uit dat jong Afrikaners dit hulle erns sal maak om Afrikaans te beoefen en uit te bou.
1914 – Afrikanerrebellie
Koos de la Rey reis per trein na Pretoria vir samesprekings met Louis Botha, generaal Jan Smuts, generaal Schalk Burger en die minister van justisie, NJ de Wet. Mev. Annie Botha ontmoet hom op die treinstasie en neem hom na die vergadering, wat feitlik die hele nag lank aanhou. Die viertal misluk in hul pogings om De la Rey te oorreed om van sy vergadering op Treurfontein af te sien, maar oorreed hom wel om by Treurfontein ’n besadigde houding aan te neem. Herhaaldelike opmerkings van De la Rey dat visioene van Siener van Rensburg die burgers van Wes-Transvaal op hol jaag, skep by Botha die indruk dat sy vriend nie by sy volle verstand is nie. Hulle kom ook ooreen dat senator Sammy Marks met wie De la Rey bevriend was, hom na Treurfontein sou vergesel. ’n Kort woordewisseling vind tydens die byeenkoms tussen De la Rey en De Wet plaas.
GEBOORTES
1769 – Jan Christoffel Berrangé, Kaapse predikant en eerste moderator van die Nederduits Gereformeerde Sinode († 11 Maart 1827)
1873 – Cornelis Jacob (CJ) Langenhoven, skrywer en politikus († 15 Julie 1932)
CJ Langenhoven was ’n regsgeleerde, koerantredakteur en Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Hy het as skrywersname CJ Langenhoven en Sagmoedige Neelsie gebruik. Sy rol in die Afrikaanse literatuur en kultuurgeskiedenis was formidabel. As Volksraadslid en senator speel hy ’n groot rol in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal.
1884 – Tobias Ballot (Tobie) Muller, NG predikant en Afrikaanse taalstryder († 25 Oktober 1918)
Dr. Tobie Muller was ’n inspirerende studenteleier op Stellenbosch en ‘n kampvegter vir Afrikaans. Hy was die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die Eikestad. Nadat hy in 1909 na Europa vertrek het, het hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Utrecht verwerf. Sy proefskrif, De kennisleer van het Anglo-Amerikaansch pragmatisme (1913), is van belang vir die geskiedenis van die filosofie in Suid-Afrika. In Oktober 1913 het hy ’n belangrike lesing gelewer, Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalis, wat deur die ATV versprei is. In dié tyd het Muller hom vurig vir sy volk se regte begin beywer en ’n Afrikaanse maandblad, Ons Moedertaal, opgerig, waarvan hy redakteur geword het. (Dit is kort daarna by die Huisgenoot ingelyf.) Hy was ’n voorstander van die Afrikaanse Bybelvertaling en was lid van die eerste kommissie wat vir dié doel aangestel is. In 1916 het Muller ’n beroep na die NG gemeente Philippolis aangeneem, waar hy algemene sekretaris van die ATV gebly het tot aan sy dood twee jaar later.
1886 – Jacob Hendrik (Henk) Pierneef, skilder († 4 Oktober 1957)
JH Pierneef was ’n Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar en word algemeen beskou as een van die beste ou Suid-Afrikaanse meesters. Sy kenmerkende styl word wyd herken en sy werk is grootliks deur die Suid-Afrikaanse landskap beïnvloed.
STERFTES
1865 – Willem Cornelis Janse van Rensburg, tweede president van die ZAR (* 18 Mei 1818)
Willem Cornelis Janse van Rensburg was van 1862 tot 1864 eers waarnemende, toe die verkose tweede president van die ZAR. Hy is op 13 Augustus 1865 oorlede. Op 17 Augustus 1974 word hy in die Pretoriase Heldeakker herbegrawe.
2005 – Ina Rousseau, digter en skrywer (* 3 Februarie 1926)
Ina Rousseau was ’n Suid-Afrikaanse digter en skrywer van kortverhale. Sy het in 1953 die Reina Prinsen Geerligs-prys vir Die verlate tuin gewen. In 1996 is sy met die Hertzogprys vir haar ’n Onbekende jaartal bekroon.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.