ANNIE BOTHA (1864-1937)

DIE IERSE ROOIKOP

Toe die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand kom, besluit die Britse regering om, as gebaar van versoening, ’n Boeregeneraal as Eerste Minister toe te laat. Lord Milner, die aartsimperialis, is daaroor nie dik van die lag nie. Maar nouja, dis die meerderheidsgevoel en hy moet berus. “Ten minste is sy vrou darem Engels,” sê hy berustend. “O nee, my lord,” antwoord John X Merriman, die Kaapse Eerste Minister, “moenie glo nie. Mevrou Botha is Iers en ’n heelwat harder neut om te kraak as die generaal!”

Annie Frances Bland Emmett was sy. Klein en fyn met twee helder groen oë, ’n bos rooibruin hare en ’n sprinkeling van fyn sproetjies oor haar neusie. Aan vaderskant was haar oupa, Edwin Emmett, ’n Ierse immigrant wat hom vasgeloop het in die gereg in Surrey, Engeland. Dit was die swaarkryjare van Ierse hongersnood en Emmett moes ’n toekoms iewers gaan maak. In plaas van uitwyk na Amerika, soos duisende van sy volksgenote, kies hy koers na Engeland. En toe die wêreld daar hom nie geval nie, klim hy op die skip na Suid-Afrika en vind sy tuiste in die Oos-Kaap. Hier loop hy Anna Cornelis Bresler, ’n boeredogter van Uitenhage, raak en uit hulle huwelik word drie kinders gebore waarvan John George Cheere Emmett die enigste seun is.

Dié is knap 16 toe hy sy perd opsaal en versit na George se kontrei om homself as meubelmaker te bekwaam by die bekende firma van Bland in Yorkstraat. Dis hier waar hy die dogter van sy baas raaksien en toe sy skaars 18 is, trou hy met haar en verhuis na Swellendam waar hy sy eie kabinetmakery opsit. Dis ’n gelukkige huwelik waaruit vyf kinders gebore word – vier seuns en ’n rooikopmeisiekind met haar Engelse ma se fynheid en haar Ierse oupa se harde kop.

Annie (3 Julie 1864) doop hulle haar. Sy is ’n eienaardige kind. Van kleins af op haar eie, skaam en ingetoë van geaardheid maar met ’n willetjie van haar eie. Helena Emmett kry swaar. Haar man werk soos ’n slaaf in sy onderneming en dis haar taak om die eenkantkind op te voed tot ’n jong dame. Daarin slaag sy goed. Annie is geïnteresseerd in tale en wiskunde en kort voor lank lees en skryf sy gedigte en gesels onderhoudend oor die letterkunde en wêreldgebeure. Maar sy sukkel van kleins af met haar gesondheid. Haar longe is nie sterk nie en wanneer sy 19 jaar oud is, stuur haar ma haar om by ’n oom en tante in Natal te gaan bly.

Om haar dae om te kry, begin Annie skoolhou vir die kleinstes in ’n plaasskooltjie naby Greyton. Dit is waar sy die boerseun, Louis Botha, ontmoet. Fors en rysig en dapper en baie Afrikaans is hy. Fyn en klein en Engels is sy en daarom is ou mevrou Botha, ’n gebore nooi Van Rooyen, glad nie beïndruk met die liefde nie. Beide sy en Louis Botha senior is kinders van die Groot Trek en vir ’n skoondogter wat nie Afrikaans praat nie, sien hulle nie kans nie. Of dit bygedra het tot die gesin se besluit om na hulle Vrystaatse plaas te versit, sal ons nie weet nie.

Maar Louis kry die rooikop nie uit sy gedagtes nie. Hy wag sy kans af en toe hy verneem van die Zoeloe-opstande onder opperhoof Dinizulu in 1884, neem hy sy geweer en perd en ry terug Natal toe om te help veg. Hy begin boer op die ou Natalse familieplaas en trek Saterdae-aande sy wit broek aan om te gaan opsit by die rooikopjuffrou, wat teen hierdie tyd Afrikaans goed kan praat. Op 13 Desember 1886 trou hulle in die NG Kerk op Vryheid.

Vyf kinders word uit hulle huwelik gebore, Helen, Louis jnr., Minnie, John Cheere en Phillip George. Annie se gesondheid bly lol, maar wanneer Louis vir lang rukke weg is van die huis af met volksake, hou sy die boerdery aan die gang en onderrig die kinders. Hulle word vlot tweetalig groot.

Met die verkiesing van 1897 is die Noorde van Natal deel van die Transvaalse Republiek en Louis Botha word Parlementslid vir Vryheid. Nou is hy meer in Pretoria as op die plaas. Annie is die boer. Die Zoeloewerkers respekteer haar wanneer sy voordagmôre instruksies in hulle eie taal gee en self inspring wanneer dinge gedoen moet word.

Die oorlog van 1899 oorval hulle onverwags. Annie hoor eers daarvan toe Louis al met sy kommando in die veld is. Aanvanklik steur sy haar nie aan die oorlog nie, maar die Britse magte weet presies wie haar man is. Op ’n dag daag ’n Britse patrollie op. Annie, met haar vurige Ierse haat teenoor alles wat Engels is, wag hulle op die voorstoep met ’n oorgehaalde geweer in. “Kaptein,” sê sy, “hierdie is die plaas van generaal Louis Botha en ek is mevrou Botha en as jy nie vandag jou derms wil terugsleep Engeland toe nie, raai ek jou en jou bende aan om spore te maak van ons grond af!”

Dit baat haar niks – met net tien minute om lewensnoodsaaklikhede bymekaar te skraap, moet sy toesien hoedat hulle nie alleen die plaashuis met dinamiet opblaas nie, maar boonop nog foto’s neem daarvan vir propagandadoeleindes!

Annie en die kinders beland in ’n kamp naby Port Natal waar hulle die oorlog deurbring.

Annie Botha is later daarvan beskuldig dat dit haar invloed was wat Louis Botha na die oorlog so pro-Engels gemaak het. Inderdaad was presies die teendeel waar. Daar het dikwels harde woorde geval in die plaashuis wanneer hy argumenteer dat die toekoms en heropbou van Suid-Afrika afhang van goeie betrekkinge met Brittanje en sy bitsig terugkap met haar wantroue oor Engeland en hulle motiewe. Sommige mense het selfs gesê dat sy Louis nooit kon vergewe daarvoor dat hy een van die mede-ondertekenaars van die Verdrag van Vereeniging was nie.

In 1907 nooi Lord Selborne vir Louis Botha na Londen om te praat oor die toekoms van Transvaal. Dit veroorsaak die grootste meningsverskil ooit in hulle huwelik. Annie het lankal kopgegee en saamgetrek Pretoria toe, maar sy weier beslis om enigiets met die politiek te doen te hê terwyl Brittanje die kitaar slaan, en in Londen het sy niks verloor nie, baie dankie! In Londen beloof Botha dat die Transvaal onderhorig sal bly aan die Kroon en die koning vra hom om ’n nuwe regering vir Transvaal saam te stel. Louis Botha word die eerste en laaste Eerste Minister van die Transvaal. Annie woon darem die inswering van haar man en sy regering by, maar sy hou haar op die agtergrond en gee duidelik haar afkeur te kenne.

Met die sittings van die Nasionale Konvensie van 1908 word daar gepraat oor Unievorming. Daar word besluit dat die Transvaal, Kaap, Vrystaat en Natal referendums moet hou om te bepaal of die volk die Unie goedgesind is. Natal is die enigste wat ’n referendum hou en dis omtrent net die Afrikaners van Natal wat ten gunste van ’n Unie stem. Die Engelse verseg om Natalse onafhanklikheid te laat vaar. Vir die eerste keer in haar lewe stem die Ierse rooikop saam met die Engelse.

En tog word die Unie gevorm en word Louis die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika. Annie, klein en broos, reis saam Kaapstad toe vir die opening van die eerste Parlement, maar nogmaals neem sy nie aktief deel nie. Sy protesteer stilswyend.

Dis twee harde klippe wat teen mekaar skuur. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog lei andermaal tot konflik in die huwelik. Botha se besetting van Duits Suidwes-Afrika maak hom bitter ongewild. Annie roskam hom daaroor ook. En toe hy goedkeur dat sy naamgenoot, Louis junior, by die weermag aansluit om in Frankryk te gaan veg aan Britse kant, is sy woedend. Na ’n urelange argument stamp sy beslis haar voet op die grond en sê: “Nouja, maak dan soos jy wil. Maar na vandag praat ek nooit weer ’n woord politiek met jou nie.” En daarby sou sy volstaan!

Aan die einde van die oorlog vertrek Louis alleen na Pole op ’n vredesending vir die Empire. In Europa doen hy die gevreesde Spaanse Griep op en keer siek na Suid-Afrika terug. Annie verpleeg hom en roskam hom ook sommer omdat hy soveel gewig opgetel het. Sy lag uit haar maag toe sy hoor hoe lady Buxton vir generaal Van Deventer gevra het of hy groter is as Louis Botha. Daarop was Van Deventer se antwoord: “No, I am longer but he is thicker.” Daarmee sou sy Louis eindeloos terg: “Oh darling, don’t be thicker than every body else!”

Aan die einde van Julie 1919 is dit duidelik dat Botha ’n baie siek man is. Hy sukkel met sy hart en hy worstel met erge depressie. Annie doen alles in haar vermoë om hom op te beur, maar op die oggend van 27 Augustus 1919 sterf hy in haar arms. Die doodsertifikaat toon ’n hartaanval as oorsaak aan, maar vir baie jare is daar al gerugte dat hy in ’n aanval van depressie ’n oordosis slaappille geneem het. Die geheim van wat daardie oggend gebeur het, sou Annie met haar saamneem graf toe.

Annie Emmett Botha was Suid-Afrika se eerste premiersvrou. Gebore met Ierse en Engelse bloed, maar in hart en wese Afrikaner. Na Louis se dood verhuis na sy Standerton waar sy weer gaan skoolhou en ’n losieshuis open. Met politiek wil sy niks te doen hê nie. Uiteindelik tree sy af by Sezela aan die Natalse suidkus waar sy op 20 Mei 1937 in die ouderdom van 72 sterf aan ’n hartaanval.

deur Daniël Lötter