
13 DESEMBER
GEBEURE
1880 – Zuid-Afrikaansche Republiek op Paardekraal herstel
Daar was meer as 5000 burgers met sterk perde, blink geweerlope, bandeliere vol patrone en bladsakke gepak met beskuit en biltong op hierdie dag op ’n rantjie bymekaar op die plaas waar genl. Andries Pretorius ongeveer 30 jaar vroeër met perde begin boer het. Ernstige beraadslagings het ’n paar dae geduur. Die burgers was gereed en bereid om vir die onafhanklikheid en vryheid van hulle vaderland te veg nadat sir Theophilus Shepstone die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 onverwags geannekseer het. Die eise op verskeie groot protesvergaderings en die werk van twee deputasies na Engeland was tevergeefs. Spontaan het die burgers ingewillig om van honderde plase en talle dorpe af vir die laaste keer bymekaar te kom, want daar sou nou daadwerklik opgetree moes word. Dit was by hulle ’n saak van diepe erns wat uit ’n groeiende nasionalisme voortgespruit het. Daar is onder meer besluit dat vise-president Paul Kruger die Volksraad byeen moet roep. ’n Driemanskap is aangewys om die landsbestuur te behartig met Heidelberg as die voorlopige setel; ’n proklamasie vir die herstel van die regering is uitgevaardig, en dit moes op Potchefstroom gedruk word; kommando’s moes na die grens en ander strategiese plekke gaan. Al die burgers het hulle instemming met die besluite betuig deur elkeen ’n klip op ’n hoop te pak. Elf jaar later is die Paardekraalmonument op daardie plek by Krugersdorp onthul.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Arundelstasie, Colesberg
1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Bloudraai, (Soutpansdrif), OVS
1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag by Nooitgedacht, Magaliesberge vind plaas
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Koesberg, Zastron
1905 – Die Afrikaanse Taalgenootskap word in Pretoria onder leiding van Gustav Preller gestig
GEBOORTES
1887 – Leila Agnes Buissinné Reitz, eerste vrou in Suid-Afrika se Volksraad († 27 Desember 1959)
Leila Reitz was die eerste vrou in die Suid-Afrikaanse Volksraad nadat vroue die stemreg gekry het in 1930.
1905 – Hendrik Bernardus (HB) Thom, skrywer en historikus († 4 November 1983)
Hendrik Bernardus Thom, gewese Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, het ’n onuitwisbare stempel afgedruk op die universiteitswese, die opvoedkunde en die kultuurlewe in Suid-Afrika.
1906 – Laurens van der Post, skrywer en filosoof († 16 Desember 1996)
Laurens van der Post was ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Hy is in 1906 in die Oranjerivierkolonie gebore. Hy word ’n joernalis en wend hom geleidelik tot die letterkunde toe.
1915 – Balthasar Johannes (John) Vorster, politikus, sewende Eerste Minister van Suid-Afrika (1966–1978) en vierde Staatspresident van Suid-Afrika (1978–1979) († 10 September 1983)
John Vorster het dr. HF Verwoerd met laasgenoemde se sluipmoord op 6 September 1966 opgevolg as Eerste Minister van Suid-Afrika en so die sewende Eerste Minister sedert Uniewording geword. Hy was ook ’n kort tydperk van 1978 tot 1979 die Staatspresident van Suid-Afrika.
1948 – William Frederick (Bill) Flynn, akteur († 11 Julie 2007)
Bill Flynn was ’n akteur. Hy het in meer as 140 toneelstukke, musiekblyspele, 42 films en talle TV-programme en duisende radio- en TV-advertensies gespeel. Hy was ook die hoofsanger van Vinnie and The Viscounts.
STERFTES
1920 – Ds. Willem Postma (Dr. O’Kullis), Gereformeerde predikant en Afrikaanse baanbrekerskrywer (* 15 Maart 1874)
Willem (dr. O’kulis) Postma was ’n Gereformeerde predikant, baanbrekerskrywer en streng Calvinis. In Bloemfontein beywer hy hom vir die erkenning van Afrikaans as taal en voorspel dat Afrikaans een van die amptelike tale van Suid-Afrika sal word. Hy het as CNO-man die Engelse Onderwysstelsel in die OVS heftig teëgestaan. Gevolglik stig hy die eerste CNO-skool in 1905 in die voorportaal van die Gereformeerde Kerk, Bloemfontein. In 1916 word hy voorsitter van die provinsiale onderwyskommissie in die OVS. Op die eerste vergadering van die Bybelvertalingskommissie (22 November 1916) verteenwoordig hy die Gereformeerde Kerk en in dieselfde jaar verskyn uit sy pen ’n vertaling in Afrikaans van die Nuwe Testamentiese boek Titus. In 1914 word hy die regterhand van genl. JBM Hertzog tydens die stigting van die Nasionale Party. In 1909 verskyn sy werk, Die eselskakebeen. Hy is op 13 Desember 1920 op Reddersburg oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.