13 JANUARIE

GEBEURE

1653 – Eerste koring in die Nederlandse Kaapkolonie gedors

Jan van Riebeeck teken in sy dagregister aan: “Op dato hebben onsen afgesneden ende hier aen de Caep aldereerstgewassen taru beginen te dorssen, sijnde redelijk vet ende groff van corl, ende nae alle apparentien hiernae (’t land wat gemest sijnde) beter te succederen. ’t Is jammer dat de Z. Oostewinden hier soo hard vallen, souden anders alle soorte van graen ende vruchten hier genoech cunnen aengeplanten worde …” Hier vind ons die belofte van ’n ryke landboutradisie wat vir Suid-Afrika sou volg. Die Afrikaner sou ’n volk van boere word en in sy ekonomie het koring veral later ’n groot rol gespeel. Die bewerking van die grond het die bewoners van die land aan hierdie aarde verbind. Jan van Riebeeck het met sy proefnemings die vrugbaarheid en bewoonbaarheid van ons land bewys en hiermee die grondslag vir die ekonomiese selfstandigwording van die Afrikaner gelê.

1849 – Die eerste uitgawe van De Gereformeerde Kerkbode in Zuid-Afrika

Die eerste uitgawe van De Gereformeerde Kerkbode in Zuid-Afrika verskyn op 13 Januarie 1849 en is tot op die hede die oudste bestaande gereelde kerklike tydskrif in Suid-Afrika.

1870 – Die eerste van Samuel Zwaartman (H.W.A. Cooper) se 25 Boerebrieven uit Fraserburg verskyn in Het Volksblad

1886 – Die dorp Roossenekal geproklameer

Dit is vernoem na Veldkornet Stephanus Johannes Roos en Komdt. Frederik Senekal, wat albei tydens die Mapoch-oorlog geval het.

1901 – Boerekrygsgevangenes in Ceylon ontsnap; die vyf swemmers

Tydens die Anglo-Boereoorlog is ongeveer 24 000 Boerekrygsgevangenes deur die Britse militêre opperbevel as bannelinge na oorsese kampe in onder andere Ceylon (Sri Lanka) gestuur. Dit is logies dat die krygsgevangenes pogings sou aanwend om uit gevangenskap te ontsnap.

Seker een van die verbeeldingrykste en merkwaardigste ontsnappings uit krygsgevangenskap was dié van die vyf Boere, Willie Steyn, die broers G Steytler en L Steytler, E Haüner en P Botha, uit die hawe van Colombo. Hulle was deel van ’n groep van 300 Boerekrygsgevangenes aan boord die Catalonia wat op 10 Januarie 1901 in die hawe van Colombo vasgemeer het. Terwyl die eerste groep krygsgevangenes aan wal geneem is, het dié vyf planne beraam om te ontsnap. Hulle het toue en swemgordels bekom en net voor middernag op 13 Januarie van die Catalonia ontsnap en na ’n Franse skip wat daar naby voor anker gelê het, geswem. Toe Willie Steyn naby die Franse skip gekom het, het dié skip anker opgetrek en uit die hawe begin vaar. Ná twee en ’n half uur in die water het hy ’n Russiese skip, die Gherson, bereik. Die Russe het hom aan boord geneem waar hy met sy vier vriende verenig is.

By Aden en weer by Suez word hulle in die een skoorsteen van die Gherson versteek sodat die Britte hulle nie kon opspoor nie. In die hawe van Theodosia in die Krim het hulle die skip verlaat en per trein oor St. Petersburg (Leningrad) deur Pole en Duitsland na Nederland gereis.

Ná ’n kort verblyf in Nederland is hulle van Hamburg per skip na Swakopmund in Duitswes, waar hulle op 6 April 1901 aangeland het. Hulle het weer by die Boerekommando’s aangesluit. Lourens Steytler is kort daarna weer naby Petrusburg gevang en vir die res van die oorlog in Graaff-Reinet opgesluit. Willie Steyn het later sy oudste seun Vladimir gedoop, ter ere van die Russiese kaptein van die Gherson.

1914 – ’n Kommissie van openbare veiligheid word in Kaapstad aangestel weens landwye nywerheidsonrus

1915 – Eerste Wêreldoorlog: Suid-Afrikaanse troepe beset Swakopmund in Duits-Suidwes-Afrika

1915 – Afrikanerrebellie: Regeringstroepe verras

Die rebellekommandant Albert Stadler verras ’n afdeling regeringstroepe by Langklip.

1942 – Te midde van oorlogswoelinge stel dr. DF Malan ’n mosie in

Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, waarteen die Herenigde Nasionale Party of Volksparty onder leiding van dr. DF Malan gekant was, het die republikeinse ideaal van die Afrikaner opnuut aangewakker. Op hierdie datum dien dr. Malan ’n mosie by die Volksraad in wat onder meer gelui het dat, met die oog op die ernstige krises waarin Suid-Afrika weens sy deelname aan die oorlog betrokke geraak het, die Raad verklaar “dat ons hoogste volksbelange alleen gedien kan word deur die omskepping van Suid-Afrika in ’n republiek, afgeskei van die Britse Kroon en Ryk en vry en onafhanklik van enige buitelandse mag”. Die Republiek moet geskoei wees op die tradisies en beginsels van die twee gewese Suid-Afrikaanse republieke. Dit moet Christelik-nasionaal wees en moet die gelyke taal- en kultuurregte van albei seksies van die blanke bevolking in ag neem. Die mosie is met die meerderheidstem van die Verenigde Party in die Raad verwerp.

 

GEBOORTES

1866 – William John Cormack (Jack) Brebner, Vrystaatse politikus († 3 Junie 1945)

William John Cormack Brebner het as lid van die Vrystaatse regering waardevolle dienste tydens die Engelse oorlog gelewer, en hy was aktief werksaam in die Suid-Afrikaanse politiek, onder meer as Unie-senator (1910 tot 1940) en lewenslange voorsitter van die Afrikanerparty. Hy is op 3 Junie 1945 oorlede.

1910 – Catherina Charlotte (Tryna) du Toit, skrywer († 16 Oktober2005)

Catherina Charlotte Kotzenburg ook bekend as Tryna du Toit was ’n Afrikaanse skrywer van liefdesverhale en het onder die skuilnaam Tryna du Toit geskryf. Gedurende haar loopbaan skryf sy 40 romans en word haar werk ook in 12 omnibusse uitgegee. Van haar bekende werke is Wag ’n bietjie, Die erfgenaam van La Provence en Donkerpoort. Haar roman Groen koring handel oor tienerswangerskap en was ‘n kontroversiële boek toe dit verskyn het. Die filmweergawe, Debbie, was eers verban. Haar laaste novelle was Net soos ’n arend en sy het dit gepubliseer toe sy reeds 81 was. Sy was ’n gebore storieverteller en haar verhale weerspieël haar liefde vir en kennis van die plaaslewe.

 

STERFTES

1922 – Casparus Petrus Hoogenhout, taalstryder en een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners (* 11 Maart 1843).

Casper Peter Hoogenhout is in Amsterdam, Holland, gebore en op 13 Januarie 1922 naby Wellington oorlede. In 1860 het hy in Kaapstad aan wal gestap. Onder leiding van dr. Arnold Pannevis bekwaam hy hom as onderwyser, en meer as 40 jaar lank hou hy skool op Groenberg naby Wellington. Hy was van die begin van die Afrikaanse Beweging ’n sterk voorstander en voorvegter vir Afrikaans; op 14 Augustus 1875 was hy een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners. Hy was een van die belangrikste Afrikaanse prosaskrywer voor 1900. Die tweede Afrikaanse prosaboek is deur hom geskrywe: Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse Kinders en Huisouwens (1873), en die eerste Afrikaanse novelle: Catharina, die Dogter van die Advokaat (1879). Van al die digters vóór 1900 het hy die meeste gedigte in Afrikaans geskrywe, en sommige van hulle is juweeltjies van volkskuns.

1964 – Johanna Brandt, skrywer en spioen gedurende die ABO (* 18 November 1876)

Johanna Brandt, die jongste dogter van dominee NJ van Warmelo, is op Heidelberg gebore, waar sy ook haar kinderjare deurgebring het. Tydens die Anglo-Boereoorlog het sy en haar moeder hulle in Pretoria bevind, waar hulle na die besetting van die hoofstad deur die vyandelike magte, gehelp het om die Boerespioenasiediens aan die gang te hou. Van haar ondervindinge in hierdie tyd het Johanna Brandt ’n dagboek gehou, wat sy later verwerk het in haar bekende boek, Die Kappiekommando, wat in 1913 verskyn het. Tydens die oorlog was sy ook verpleegster in die Irene-konsentrasiekamp. Die smart en ontberings van die vroue en kinders het haar so aangegryp dat sy The Irene concentration camp in 1904 geskryf het. Na die oorlog is sy met dominee LE Brandt, ’n Nederlandse predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk, wat hom in Transvaal kom vestig het, getroud. Johanna Brandt het ’n lewende belangstelling in die openbare lewe gehad. Onder haar leiding word op 21 Julie 1915 in Johannesburg die “Vrouwen Nationale Party” gestig, wat spoedig landwyd uitgebrei het. In 1916 dien sy in die hoofbestuur van die Nasionale Vroueparty, en sy ontvang in hierdie jaar ook die ere-presidentskap van die party. Sy het verskeie ander boeke geskryf, onder meer oor natuurgenesing, waarin sy ’n besondere belangstelling gehad het, en ook twee romans. Sy is op 29 Januarie 1964 op 88-jarige ouderdom in Kaapstad oorlede.

2023 – Christo Viljoen, ingenieur en akademikus (* 31 Augustus 1937)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org