
14 APRIL
GEBEURE
1739 – Hendrik Swellengrebel
Hendrik Swellengrebel, die man na wie Swellendam vernoem is, word goewerneur van die Kaap de Goede Hoop en ook die eerste een wat in die Kaap gebore is.
1838: Vereniging van die Voortrekkers by Doornkop
Doornkop, geleë in die nabyheid van die huidige Chievely, het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Trekkers in Natal gespeel. Dit was die plek waar die Trekkers vir die eerste keer werklik verenig het. Na die moord op Retief en sy kommando en die daaropvolgende slagting onder die Trekkers, het Gert Maritz die klein laertjies, wat oor ’n groot gebied versprei was, en ook sy eie laer, na Doornkop, die staanplek van die hooflaer van Piet Retief, verskuif. Piet Uys en Hendrik Potgieter het hulle kort daarna, op versoek van Maritz by die res van die Trekkers kom voeg. Die Trekkers was dus in hierdie stadium in drie laers by Doornkop georganiseer, te wete dié van Maritz, Retief en Piet Uys. Potgieter se kommando het in twee groepe verdeel en by die laers van Maritz en Retief onderskeidelik ingeskakel. Die Voortrekkers in Natal was nou werklik eendragtig bymekaar. Die sending van Uys en Potgieter teen Dingaan, wat op ’n nederlaag by Italaberg uitgeloop het, het die Trekkers weer tot vertwyfeling en moedeloosheid gestem. Dit was hier waar die vroue van tou opgooi en terugkeer na die Kaapkolonie niks wou weet nie, en Maritz vasgestaan het deur bewuste steun by individuele persone en klein groepies Trekkers verder agtertoe te soek. Weens die gevaarlike toestand wat nou vir die Voortrekkers ontstaan het, het daar op 14 April 1838 ’n verdere mate van vereniging plaasgevind toe al die Trekkers in net twee laers verenig het, naamlik dié van Maritz en Modderlaer. Enkele weke, voordat omstandighede die Trekkers weer uitmekaar laat gaan het, het die twee laers aan die bo-loop van die Bloukransrivier in die buurt van Doornkop bly staan. So verenig was hulle waarskynlik nooit vóór dié tyd en ook nooit weer daarná nie.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Die skermutseling by Goedvooruitzicht
Nadat hy inligting ontvang het, val luitenant-kolonel sir Henry Rawlinson se kolonne genl J.C. Smuts se laer by Goedvooruitzicht aan. Die 500 tot 600 burgers wat deur kommandant MJ Wolmarans aangevoer word, word onverhoeds betrap toe Rawlinson-hulle die laer stormloop. Die Boere se teenaanval is nie baie doeltreffend nie en die Britse artillerie verdryf hulle. Die Britte buit ‘n kanon en ‘n pom-pom. Ses Boere sneuwel, 10 word gewond en 20 gevang.
1970 – Aardbewing tref Tulbagh
’n Tweede aardbewing tref die dorpie Tulbagh. Dit volg ná ’n vorige aardbewing ses maande vroeër waarin nege mense hulle lewens verloor het.
2002 – Groote Kerk-orrel
“Toe die Groote Kerk in Kaapstad op hierdie Sondag sy orrel op 1 Desember 1957 in gebruik geneem het, was dit die grootste kerkorrel in Afrika en die Suidelike Halfrond en een van die grootstes in die wêreld.” Die orrel (wat R35 000 gekos het) is gebou deur Pelz en Zoon van Alkmaar, Holland, en deur R Müller geïnstalleer. Dit het egter in ongeveer 2000 geblyk dat die orrel ingrypende restourasie en modernisering moes ondergaan en dit sou R1,2 m kos. Die werk is deur mnre. André en Peter Wattel van Suidelike Orrelbouers onderneem en die herboude orrel is op 14 April 2002 luisterryk in gebruik geneem.
GEBOORTES
1812 – George Grey, goewerneur aan die Kaapkolonie († 19 September 1898)
Sir George Grey was goewerneur van die Kaapkolonie. Hy was die seun van kolonel Grey, wat gesneuwel het in die Skiereilandse Oorlog, ’n stryd tussen Frankryk en die geallieerde magte van Spanje, die Verenigde Koninkryk en Portugal om beheer van die Iberiese Skiereiland tydens die Napoleontiese Oorloë.
1886 – Maggie Laubser, skilder († 17 Mei 1973)
Maggie Laubser was ’n skilder en drukwerkkunstenaar. Sy is grootliks, saam met Irma Stern, vir die bekendstelling van ekspressionisme in Suid-Afrika verantwoordelik. Haar werk is aanvanklik deur kritici bespot, maar is later wyd aanvaar.
1939 – Winnie Rust, skrywer († 11 Mei 2016)
Winnie Rust was ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Sy was 77 jaar oud ten tyde van haar moord en het toe reeds meer as 60 jaar op Wellington gewoon. Met die jare het talle van haar verhale in populêre sowel as literêre tydskrifte verskyn. Sy het onder meer bydraes vir tiener- en vrouedagboeke geskryf asook werke oor haar dorp en sy geskiedenis, en was betrokke by die dorpsmuseum. Van 2000 af was sy die skrywer van die rubriek “Post Scriptum” in die Paarl Post. Haar pa is self ’n skrywer wat onder andere taalhandleidings vir die gebruik van Afrikaans skryf.
1960 – Ian van Zyl Wessels, omroeper († 19 April 2021)
Ian Wessels was bekend as ’n radio-omroeper op RSG. Hy was ook staatsaanklaer, regsadviseur vir ’n makelaarsfirma, skrywer, motiveringspreker en komediant. Hy het ook die programme, Loslip en Regsake aangebied.
STERFTES
2010 – Miems de Bruyn, aktrise (* 6 Mei 1922)
Miems de Bruyn sal veral onthou word vir haar rol as tant Kriekie de Waal in die televisiereeks Nommer asseblief, maar sy het voor en na die tyd in ’n aantal rolprente en televisiereekse gespeel en sy was saam met Al Debbo die hoofkarakters in die musiekvideo van Steve Hofmeyr se treffer “Pampoen”.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
