MAGGIE LAUBSER (1886-1973)
Maggie Laubser was ’n Suid-Afrikaanse skilder en drukwerkkunstenaar.
Magdalena Maria Laubser is op 14 April 1886 op die plaas Bloublommetjieskloof in die distrik Malmesbury in die Wes-Kaap gebore. Sy het haar aanvanklike skoolopleiding by ’n plaasskool ontvang, maar op elfjarige ouderdom is sy na Bloemhof in Stellenbosch, waar sy vir die eerste keer kuns as skoolvak geneem het. Die kunsonderrig wat sy hier ontvang het, het gemaak dat sy gou belangstelling verloor het. In 1901 het sy die skool verlaat as gevolg van die algemene depressie wat na die Anglo-Boereoorlog in die land geheers het en om haar broers die geleentheid te gee om te studeer. Sy het by haar ouers op die plaas gaan woon, waar sy haar tyd verwyl het deur naaldwerk te doen en te skets, maar haar vroeë sketse het min belofte getoon. Omdat sy uiting aan haar gevoelens wou gee, het sy besluit om sanglesse in Kaapstad te neem maar haar sangstem het soveel te wense oorgelaat dat sy dit laat vaar het.
In Kaapstad het sy egter kennis gemaak met prof. Edward Roworth, by wie sy twee maande lank skilderlesse ontvang het. Sy invloed was duidelik in haar vroeë impressionistiese werk sigbaar. Teen hierdie tyd het haar skilderkuns só verbeter dat haar werk in 1909 op die jaarlikse uitstalling van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kunstenaars ten toon gestel is. Sy het twee jaar tevore lid van die vereniging geword en in Kaapstad het sy bevriend geraak met kunstenaars soos Hugo Naudé, Ruth Prowse en JEA Volschenk. In 1912 het sy die goewernante van die Wolmarans-gesin in die Ermelo-distrik geword. Daar het sy private naaldwerk- en skilderklasse gegee en portrette van eertydse oorlogshelde gemaak en verkoop.
Tydens ’n besoek aan vriende in Durban in daardie jaar het sy ’n Nederlander, Jan Hendrik Arnold Balwé, ontmoet. Hy was beïndruk met haar talent en het onderneem om haar en haar suster na Nederland te stuur om onderskeidelik skilderkuns en musiek te studeer. Die twee susters is in Oktober 1913 na Nederland, waar hulle by die eggenote van pres. Burgers van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek tuisgegaan het. Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het Maggie se suster Hannah na Suid-Afrika teruggekeer.
Maggie het egter na Engeland vertrek en haar in Augustus 1914 by die Slade-kunsskool in Londen laat inskryf. Sy was egter nie gediend met die manier waarop kunsonderrig daar aangebied is nie want sy het geglo dat die leermeesters hul opvattings op die studente afgedwing het. Sy het so min klasse as moontlik bygewoon en omdat sy van mening was dat sy haar individualiteit sou verloor, het sy geweier om in die klas te skilder. Sy het hoofsaaklik potloodsketse en portrette gemaak. Sy het intussen ook met prof. JHA Balwé se seun Arnold bevriend geraak en in 1919 saam met die Balwé-gesin na Italië vertrek. Op pad daarheen het hulle Duitsland aangedoen, en daar het sy kennis gemaak met die werk van Duitse ekspressioniste. Sy het twee jaar lank saam met die Balwé-gesin in San Vigillo en Lake Garda in Italië gewoon en saam met Arnold Balwé, self ’n skilder, gewerk. Sy het in hierdie tyd weer twee besoeke aan Suid-Afrika afgelê, maar na prof. Balwé se dood in 1921 het sy na die land teruggekeer. In 1922 het sy egter weer na Europa gegaan; hierdie keer na Duitsland, waar sy in Berlyn onder prof. Jächlels gestudeer het. Sy is daar deur die werk van Duitse ekspressioniste soos Frans Marc, Emil Nolde, Max Pechstein en Karl Schmitt-Rottluff beïnvloed. Laasgenoemde het een van haar goeie kennisse geword. In Berlyn het sy met nog ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, Irma Stern, bevriend geraak. Hulle twee sou later saam baie kritiek moes verduur voordat ekspressionisme eindelik deur die Suid-Afrikaanse publiek aanvaar is.
In 1924 het sy permanent na Suid-Afrika teruggekeer en haar op die familieplaas Oortmanspost naby Klipheuwel, nie ver van Kaapstad af nie, gevestig. Haar eerste kunsuitstalling in Kaapstad in 1925 was ’n fiasko. Waar Maggie Laubser tydens haar verblyf in Europa met die nuwe stroming vertroud geraak het, het die Suid-Afrikaanse publiek gewoond geraak aan die realisties-romantiese skilderye van destyds bekende kunstenaars soos Frans Oerder en JEA Volschenk. Maggie Laubser se ekspressionistiese werk het ongunstige kritiek van haar vriende, familie en kritici ontvang. Selfs nadat die publiek in die 1930’s meer ontvanklik vir haar werk geraak het, het kunskritici haar werk steeds afgemaak. Dit het dalk verklaar hoekom haar vroeë werk in Suid-Afrika so somber was. Sy het van koue en somber kleur soos bruin, dowwe groen, oker en blou gebruik gemaak. Hoewel sy met ander kunstenaars in Kaapstad bevriend was, het sy ’n eensame en afgesonderde bestaan op die plaas gevoer.
Sy het haar op die uitbeelding van haar onmiddellike omgewing, soos plaasdiere, oestyd en plaasarbeiders, asook op visserstonele in die Kaap toegelê. In 1929 het sy haar eerste geslaagde kunsuitstalling by die Universiteit van Stellenbosch gehou; dit was ’n keerpunt in haar loopbaan. Vir die eerste keer het die kritici haar werk gunstig ontvang en selfs die regering het haar werk vir gebruik in buitelandse ambassades gekoop.
Daarna het sy gereeld aan groepsuitstallings deelgeneem en haar onderwerpkeuse het uitgebrei nadat sy ’n aantal toere deur die land onderneem het. Sy het ook van meer opgeruimde kleure gebruik begin maak, veral ligter en helderder kleure soos pienk, oranje, pers en heldergroen. In Transvaal het sy portrette van tradisionele swart vroue gemaak en in Natal het sy mistieke jong Indiër-meisies geskilder. Hoewel haar werk nooit uitgesproke Christelik was nie, was daar tog ’n sterk en vroom Christelike element in die landelike tonele, oestonele, visserstonele en die portrette wat sy van die plaasarbeiders geskilder het. Sy het byna nooit ’n suiwer landskap geskilder nie, maar dit altyd laat dien as ’n agtergrond vir ’n figuurkomposisie of landelike toneel.
In 1945 is haar pa oorlede en sy het haar eie huis in die Strand, wat sy Altyd Lig genoem het, bekom. Sy is op 17 Mei 1973 in die ouderdom van 87 jaar in haar huis oorlede, en het tot die dag voor haar dood nog geskilder.
deur Daantjie Badenhorst